Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geslagsgebaseerde geweld op kampus: die rol van die universiteit
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 15/10/2021

Suid-Afrikaanse universiteite is deel van 'n samelewing waar ontsettende hoë vlakke van geweld gepleeg word – 'n enorme deel daarvan teen vroue. Die verantwoordelikheid om hierdie ernstige probleem aan te spreek lê nie slegs by die universiteite nie, maar by die gemeenskap in die geheel.

'n Land of 'n universiteit kan die heel beste beleide en wette hê vir die hantering van geslagsgebaseerde geweld (GGG), maar dit lei nie altyd tot 'n bevredigende uitkoms in verband met die regte van beide die slagoffers en die oorlewendes nie.

Dit is volgens Bronwyn Pithey, 'n advokaat by die Women's Legal Centre, wat vir die afgelope 25 jaar te make gehad het met kwessies rakende geweld teen vroue. Die opmerkings is gemaak tydens 'n webinaar en 'n paneelbespreking oor hoe om 'n einde te maak aan GGG op die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die webinaar, wat gerig was op alle studente en personeel, was soos volg getiteld: "Ons kampus. Ons kultuur". Emeritus professor Usuf Chikte, die voormalige hoof van die Departement Globale Gesondheid by die FGGW, het die toon aangegee vir die bespreking wat gevolg het deur te sê dat "om 'n einde te maak aan GGG is ons gesamentlike verantwoordelikheid. Kom ons skep 'n gesonde, veilige kampuskultuur vir almal."

Aan die begin van die webinaar is 'n lys opgenoem van Suid-Afrikaanse vroue wat in die afgelope paar jaar slagoffers van GGG was.

Prof Hennie Botha het die agtergrond geskets in verband met die taakspan wat in Julie 2020 op die been gebring is om die kwessie van GGG op die kampus aan te spreek. Hy het gemeld dat toe dit aanvanklik opgestel is, daar gehoop is dat dit 'n kultuurverandering sou kon fasiliteer waarbinne mense op kampus, asook elders, mekaar na waarde ag, respekteer en beskerm.

Soortgelyke struikelblokke by alle universiteite in die hantering van GGG op kampusse

Pithey, wat al met verskeie universiteite saamgewerk het in verband met die hantering van GGG op kampusse, het benadruk dat daar niks uitsonderliks was in die struikelblokke wat die Universiteit Stellenbosch ervaar het in die verband nie.

Sy het gesê dat daar wel 'n goeie begrip van die probleem was wat die kampus ervaar, sowel as 'n toewyding van die taakspan om 'n verskil te probeer maak, en dat dit erkenning behoort te geniet.

“Dit is dikwels baie maklik om kritiek te lewer op die manier wat 'n fakulteit of universiteit reageer of nie reageer nie, en baie woede kan uitgespreek word op 'n manier wat moontlik nie konstruktief is nie."

Pithey het voortgegaan deur by te voeg dat ten spyte van Suid-Afrika se uitstekende wetgewing in verband met GGG, wanneer mens kyk na die ondervindings van slagoffers en oorlewendes binne die kriminele regsisteem in die besonder, is die persentasie van sake wat nie tot die einde deurgevoer word nie, besonder hoog – met vrouens en kinders wat deur die sisteem val sodat daar uiteindelik net iets soos 'n agt persent skuldigbevindingskoers is van sake wat by die polisie aangemeld is met betrekking tot seksuele geweld.

Beleide alleen sal nie die probleem oplos nie

"Baie universiteite het wonderlike aanmeldingsprosedures en beleide, maar ek het geen twyfel daaraan dat tensy jy die regte mense het om daardie beleide en prosedures in werking te stel nie, dat slagoffers en oorlewendes sal voel dat hulle nie ondersteun word nie, en mag dalk nie deel bly van die proses nie," het Pithey gesê.

Sy het ook bygevoeg dat dit absoluut noodsaaklik is dat inligting aan slagoffers en oorlewendes beskikbaar gestel moet word oor hoe om gevalle van GGG aan te meld. Selfs al sou dinge in plek wees, moet mens onthou dat niemand na daardie beleide kyk tensy dit hulle op een of ander persoonlike vlak raak nie.

Sy het beklemtoon dat 'n beleid wat netjies weggebêre is vir niemand van hulp sal wees nie.

"Diegene om die persoon wat deur so 'n insident geraak word, naamlik hulle vriende, hulle familie, hulle ondersteuningsmeganismes en mense in die koshuise moet goed onderleg wees in die beleide en prosedures wat gevolg moet word wanneer so 'n insident plaasvind."

Pithey het gemeld dat wanneer ons praat oor toegang tot geregtigheid, gaan dit nie net daaroor om 'n oortreder te skors nie, maar dit kan ook baie ander dinge beteken… soos om seker te maak dat slagoffers goeie ondersteuning dwarsdeur die proses ontvang, asook dat hulle verseker word dat hulle met hulle studies kan voortgaan.

'n Verdere bron van kommer wat studente aan haar gemeld het, was 'n gebrek aan deursigtigheid met betrekking tot die ondersoekproses.

“Daar is die spanning vir die universiteit tussen twee dinge: hulle verantwoordelikheid om die veiligheid van die studente te verseker, maar dan moet dit ook uitgebalanseer word teenoor die regte van die vermeende oortreders."

Pithey het ook klem gelê op die noodsaaklikheid daarvan dat die regte inligting aan die universiteitsgemeenskap oorgedra moet word met betrekking tot die uitkoms van die interne dissiplinêre verhoor.

“Iets wat by party universiteite gebeur is dat oortreders geïdentifiseer word, en dat universiteite sukkel om dinge te balanseer tussen die dissiplinêre proses aan die een kant, en 'n woedende studentegemeenskap aan die ander kant wat voel dat die universiteit nie genoeg doen nie. Dis ook 'n probleem wanneer studente voel dat hulle die reg het om aan almal bekend te maak wie die vermeende oortreders is."

“Ons moet aandag skenk aan waarom die studente so gefrustreerd voel. Ek dink dit is in 'n groot mate omdat hulle voel dat die universiteit nie reageer soos wat hulle graag sou wou hê nie. Voortgaande interaksie met die studenteliggame is baie nodig."

Pithey het klem gelê daarop dat dit nodig is vir die universiteit om op 'n oop en deursigtige manier met die studentegemeenskap te kommunikeer en om so nou as moontlik met hulle saam te werk, aangesien stilswye tot suspisie aanleiding kan gee.

GGG op kampusse moet binne 'n breër konteks gesien word

Nina Burrowes, 'n sielkundige wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, en wat bekend is as 'n skrywer, spreker, aktivis en stigter van The Consent Collective, was ook 'n spreker by die geleentheid, en het 'n paar baie waardevolle riglyne verskaf aan kampusse oor hoe om GGG te hanteer.

“Dit is lewensnoodsaaklik om die breër konteks in gedagte te hou – om te erken dat daar 'n probleem is met GGG op kampus, maar dat elke universiteit en gemeenskap in die wêreld 'n probleem het met GGG – as jy dit net in 'n silo plaas, en praat oor wat op kampus gebeur sonder om aandag te skenk aan wat in die wyer wêreld gebeur, is die kanse heelwat kleiner dat die universiteit se pogings 'n positiewe impak sal hê."

Sy het ook gesê dat die werk wat gedoen word in verband met GGG 'n kerngedeelte moet beslaan van die sentrale oogmerke van universiteite en ander inrigtings. Sy het gemaan dat die probleem van GGG nie sydelings uitgeskuif moet word of in silo's geplaas moet word nie.

“Hierdie spesifieke probleem, en hoe ons dit aanpak om betekenisvolle verandering mee te bring, het alles te make met vraagstukke wat verband hou met etnisiteit en ras op die kampus, en ook met geslag in 'n breëre konteks."

“Die vaardighede, gesprekke en verhoudings wat benodig word om GGG te beveg is dieselfde as wat benodig word om betekenisvolle vordering te maak in verband met al hierdie vraagstukke."

Burrowes het met Pithey saamgestem dat 'n beleid op sigself nie van die kampus 'n veilige plek sal maak nie. Sy het benadruk dat dit betrekking het tot die mense, die kultuur en die gemeenskap.

"'n Goeie uitkoms is nie 'n wonderlike aanmeldingsproses nie. 'n Goeie uitkoms is dat hierdie tipe geweld glad nie meer op die kampus plaasvind nie."

“Geregtigheid het nie net te make met wat met die oortreder gebeur nie, geregtigheid het te make daarmee dat jy met jou studies voortgaan, dat jy nie die universiteit verlaat nie, dat jy alle hulp gegee word om te herstel en die pyn te verwerk – ondersteuning is absoluut noodsaaklik om dit te bewerkstellig," het Burrowes benadruk toe sy gepraat het oor die betekenis van geregtigheid vir die slagoffers en oorlewendes van GGG.


Foto-erkenning: PIXABAY