Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verskuif menseonregte na menseregte in Afrika
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 14/10/2021

In sy deelname aan die historiese reis om menseonregte na menseregte in Afrika te verskuif, was die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs gasheer vir die Afrika-menseregte Skynhof-kompetisie – die grootste jaarlike byeenkoms vir regstudente en -dosente in Afrika.

Die kompetisie, gereël deur die Universiteit van Pretoria (UP) se Sentrum vir Menseregte (SMR), het behels dat deelnemende regstudente, genoem 'mooters', 'n werklike hofsituasie naboots deur 'n hipotetiese menseregte-saak wat met geslagsgebaseerde geweld (GGG), genderidentiteit, seksuele minderheid en kinderregte verband hou, te bepleit. Die mooters het hul argumente voor 'n regbank, saamgestel uit regters en vooraanstaande regsgeleerdes, gelewer wat hulle oor hul stellings ondervra het.

Die US se bekleër van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid en die voormalige Suid-Afrikaanse Openbare Beskermer, prof Thuli Madonsela, was vanjaar die voorsitter van die regbank, wat bestaan het uit dr Solomon Dersso, voorsitter van die Afrika-kommissie oor Mense- en Volkeregte, regter Angelo Matusse, 'n voormalige regter van die Afrika-hof vir Mense- en Volkeregte, dr Robert Nanima, 'n lid van die Afrika-komitee van Kundiges oor die Regte en Welstand van die Kind, en prof Laurence Burgorgue-Larsen, 'n regter van die konstitusionele hof van Andorra en 'n dosent in Internasionale Reg by die Sorbonne-universiteit in Parys.

Regsfakulteite van 175 universiteite in 50 lande regoor Afrika het tot op hede aan die kompetisie deelgeneem. Hulle het in 19 lande byeengekom om skynhofsake in Engels, Frans en Portugees te hou.

Vroeër vanjaar het 60 spanne van regsfakulteite in Afrika vir die kompetisie ingeskryf en mekaar die stryd aangesê. Op die ou einde is agt spanne gekies vir die kwarteindrondte wat op Stellenbosch gehou is. Die kompetisie is weer vanjaar, soos verlede jaar, 'n hibriede formaat aangebied.

Die voorsittende regters het na afloop van die eindrondte die finaliste geloof vir hul uitmuntende vaardighede, talent en die vermoë om vinnig te dink, veral met die antwoord van die regters se vrae.

Een van die vier spanne wat die eindrondte gehaal het, was die US se span, Megan Roos (finalejaar-LLB) en Shaniaé Maharaj (voorlaastejaar-BRekLLB). Hulle het saam met hul vennootspan van die Eduardo Mondlane-universiteit in Mosambiek as naaswenners uit die stryd getree. Om meer oor die US-span se prestasie te lees, klik hier.

Die wenners van die kompetisie was die gekombineerde span van die regskole van die Félix Houphouët-Boigny-universiteit in die Ivoorkus en die Kenyatta-universiteit in Kenia.

Prof Nicola Smit, Dekaan van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, het by die amptelike opening die Fakulteit se opgewondenheid om hierdie geleentheid in sy eeufeesjaar aan te bied, beklemtoon. Sy het ook gesê die kompetisie sal beslis die deelnemers as mense laat groei. “Julle mag dit selfs 'n bietjie uitdagend vind, maar dit is tog waaroor goeie regsopleiding gaan, nie waar nie?" het sy gesê.

Afgesien van die eeufeesjaar van die US se Regsfakulteit, val die geleentheid ook saam met 'n baie betekenisvolle jaar vir UP, wat vanjaar die 30ste herdenking van die kompetisie en die SMR se 35ste bestaansjaar vier. 

Vanjaar se kompetisie het ook die hernoeming daarvan na die “Christof Heyns Afrika-Menseregte-skynhofkompetisie" ingesluit. Prof Christo Heyns, 'n baie bekende menseregteprokureur en die stigter van die kompetisie, is in Maart vanjaar oorlede.

Volgens prof Hans Viljoen, direkteur van die SMR, sal Heyns onthou word vir die verwesenliking van sy visie om regstudente van oor die hele vasteland byeen te bring en dat dit steeds groei. Afgesien daarvan om regstudente bymekaar te bring, dra die kompetisie ook by tot die transformasie van regsopleiding in Afrika en om geslagte jong Afrika-prokureurs aan die Afrika-regstelsels vir menseregte bloot te stel.

Daarom is dit nie die hoofdoel om die kompetisie te wen nie, sê Viljoen. Dit het 'n belangrike instelling vir menseregtebewegings in Afrika geword. “Dit is ons gesamentlike besluit om 'n Afrika na te strewe waar ons menseonregte na menseregte beweeg. Die kompetisie het mense inspireer om die Skynhof se boodskap verder uit te dra in hul eie lewens," sê Viljoen.

“Die US se vennootskap is 'n bewys van die Universiteit se gedeelde toegewydheid om saam met menseregtebewegings te werk en om te help om Afrika se regstelsel en diskoers te ontwikkel en te omvorm," het Smit gesê. Sy het ook benadruk dat die US 'n inklusiewe, progressiewe en transformerende regskultuur ondersteun.

Die US se Viserektor: Leer en Onderrig, prof Deresh Ramjugernath, het in sy verwelkoming by die openingsdinee skynhofkompetisies en die maniere waarop studente deur deelname baat, verwelkom. “Skynhofkompetisies bied aan studente op ons vasteland 'n unieke geleentheid om uit diverse kulture, regstelsels, tale en sosio-ekonomiese werklikhede te leer," het hy gesê.

Hy het verder oor die voordele uitgebrei en gesê dit bevorder mondelinge kommunikasie, die vermoë om vinnig te dink, samewerking met ander en probleemoplossing. “Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie geleenthede waar studente waar studente op 'n ware, diep, aksie- en ervaringsgebaseerde manier leer wat hulle toerus vir ervarings in die ware beroepswêreld," het hy gesê.

•             Viljoen het spesiale eer aan die US se prof Annika Rudman gebring vir haar toewyding, professionaliteit en aanpasbaarheid as hoof van die reëlingskomitee vir vanjaar se skynhofkompetisie.

 

​