Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soeklig val op sosiale geregtigheid by Anton Lubowski‑gedenklesing
Outeur: Bradley Frolick
Gepubliseer: 12/10/2021

Die derde jaarlikse Anton Lubowski‑gedenklesing is op 28 September 2021 by die Universiteit Stellenbosch Alumniklub in Die Stal en aanlyn gehou. Dié jaarlikse lesing word aangebied ter nagedagtenis aan Anton Theodor Eberhard August Lubowski, 'n Namibiese anti‑apartheidsaktivis en advokaat wat op 12 September 1989 buite sy huis in Windhoek vermoor is. Ten tyde van sy dood was Anton Lubowski 'n lid van die Windhoekse Balie.

Die tema van 2021 se lesing was “Intergeneratiewe Sosiale Geregtigheid". By die geleentheid het 'n paar van die belangrikste stemme in die land oor die onderwerp gepraat. Die kern van die gesprek was gerig op hoe kwessies rondom sosiale geregtigheid hanteer en gedefinieer word, asook die gevolge daarvan vir toekomstige geslagte.

Lord Peter Hain, die Suid‑Afrikaans gebore anti‑apartheidsaktivis en voormalige kabinetsminister in die Verenigde Koninkryk, het besin oor die ideale waarvoor Anton Lubowski en sy generasie hul beywer het, en die wêreldwye ekonomiese ongelykhede wat vandag nog ondervind word.

Die seun van een van die vier anti‑apartheidsaktiviste van Cradock en bekroonde joernalis en skrywer, Lukhanyo Calata, het 'n aangrypende toespraak gelewer. Die sogenaamde Cradock Vier, waaronder Fort Calata, is in 1985 deur die apartheidsregering tereg gestel. Lukhanyo het besin oor die pyn van die onreg wat sy gesin verduur het deurdat die Staat nie die onboetvaardige moordenaars van sy pa vervolg het nie, nes in die geval van Anton Lubowski. Dit het velerlei gesprekke ontlok oor die vervolging van mense weens misdade in die apartheidsera, asook idees oor hoe die Nasionale Vervolgingsgesag en die regstelsel in die nastrewing van geregtigheid gebruik kan word.

Khadija Bawa, 'n feministiese aktivis, wat 'n voormalige navorser by die Social Justice Coalition en nagraadse regstudent is, het gefokus op die idee van vertroue en polisiëring, met 'n ontleding van die Khayelitsha‑kommissie van ondersoek na gemeenskapspolisiëring en ‑vertroue. Bawa se toespraak het beter insig gebied oor hoe die polisie gesien word, asook die perspektief van die jeug in “postapartheid" Suid-Afrika.

Die derde Anton Lubowski‑gedenklesing gelei deur die veteraanjoernalis Max du Preez, self 'n vriend van Anton Lubowski, was onder meer bedoel om die kinders van Anton Lubowski en Fort Calata te verenig in hul strewe om hul pa's, die ideale waarvoor hulle geveg het en hul strewe na geregtigheid te gedenk. Diegene wat die geleentheid bygewoon het, onder meer die rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, en die rektor van Paul Roos, Andre van Staden, was diep geroer deur die paneellede se insette, asook die betekenisvolle bydrae wat Anton se dogter, Nadia Lubowski, namens die gesin gelewer het.

Die Universiteit Stellenbosch is Anton Lubowski se alma mater en hierdie reeks gedenklesings wat in 2019 deur Charl Adams – Anton se vriend en koshuisgenoot van Huis Simonsberg – gekonseptualiseer is, word jaarliks aangebied om Lubowski se onwrikbare heldemoed te eer.

Lubowski se vryheidstryd moet onthou word en as inspirasie dien vir die voortgesette nastrewing en handhawing van sosiale geregtigheid en nierassigheid, veral aangesien Suid‑Afrika steeds met kwessies soos armoede, geslagsgelykheid en toegang tot sosiale welstand en geregtigheid vir almal te kampe het.