Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie soek perfekte resep vir renosters se formulemelk
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 01/10/2021

​'n Nagraadse student in Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), Dakota Guy, is tans besig om 'n plaasvervanger vir renostermelk te ontwikkel wat so na as moontlik aan die oorspronklike is. Die formulemelk sou gebruik kon word om renoster-wesies of kalfies wat deur hul ma's verwerp is, te voer. Dit word tans by verskillende renosterskuilings getoets, en blyk reeds heel waardevol te wees.

Guy se pogings vorm deel van haar MSc-studies in die Departement Veekundige Wetenskappe in die US se Fakulteit AgriWetenskappe.

Sy sê dat renoster-wesies in Suid-Afrika gewoonlik gevoer word met 'n kommersiële perdemelk-formule, of soms selfs met 'n beesmelk-vervanging.  

“Dis moeilik om te glo, maar perde en renosters is verwant, aangesien hulle in die verre verlede 'n gedeelde familielid gehad het, en daarom soortgelyke verteringstelsels het," verduidelik Guy, 'n Kapenaar wat aan Rustenburg Hoër Meisieskool in Kaapstad gematrikuleer het.

Daar is reeds verskillende soorte perdemelk-vervangings op die mark. Die fyn wit poeier word met water gemeng voor elke voeding. Die huidige produk kan egter nogal duur per kilogram uitwerk.

Guy en navorsers wat haar help het daarom begin werk aan die ontwikkeling van 'n plaasvervanger- renostermelk wat so na as moontlik is aan die samestelling van die werklike melk van 'n suidelike witrenoster. Die resep bevat bestanddele soos weipoeier, plantaardige vet, dekstrose, natrium-kaseïenaat en Biosin. Die eindresultaat is ook 'n fyn wit poeier wat met water gemeng word. Tot dusver blyk dit meer koste-effektief as die perdemelk-vervanger te wees.

Guy vergelyk tans die gebruik daarvan met die perdemelk-vervanger in terme van hoe goed die kalwers groei en hoe maklik dit vir hulle is om te verteer. Die kalwers in haar proef word elke week geweeg.

“Dis beslis nie die maklikste ding om diere op een of ander manier te leer om op 'n skaal te klim en lank genoeg stil te staan sodat mens die geskikte mates en gewigte kan neem nie," erken Guy. “Dit kan baie moeilik en stresvol wees, veral met ouer of temperamentele kalwers."

'n Groot probleem was aanvanklik om genoeg renosterkoei-melk vir ontleding te verkry. Inderwaarheid het dit twee jaar geduur voordat genoeg monsters versamel is sodat dit goed genoeg gedoen kon word.

“Ek moes eers weet wat die presiese samestelling daarvan is, voordat ons kon begin werk aan 'n vervangingsresep," onthou Guy.

Vir haar is dit  'n droomgeleentheid om elke dag met 'n bedreigde spesie te mag werk.

Sy vertel ook dat dit een ding is om 'n rustige melkkoei te melk, maar 'n heel ander kwessie wanneer dit by renosters kom. Daar is altyd ook die bykomende vrees dat, indien 'n mens 'n renosterkoei sou melk, dit soveel stres kan veroorsaak dat sy haar kalf sou kon verwerp.

Guy en haar medewerkers het daarom alle moontlike geleenthede vir dié melkery aangegryp wanneer 'n renosterkoei met 'n kalfie verdoof is vir byvoorbeeld die afsny van die horing of iets soortgelyk.

“Sulke tye moet die kalfie van die ma geskei word sodat jy met haar kan werk. Hierdie situasies kan gevaarlik wees , byvoorbeeldas die kalfie besluit om terug te keer terwyl die gekwalifiseerde personeel nog aan die werk is."

Met die hulp van ander renoster-skuilings in Suid-Afrika hoop Guy om nog meer kalwers betrokke te kry by die navorsing.

“Die ideaal is dat ons 12 kalwers moet hê waarvan die helfte perde-melkvervanger ontvang, en die res die renoster-melkvervanger.

“Te veel renosterkoeie met kalwers aan hul sy is in onlangse jare gestroop, terwyl ander koeie vrek aan natuurlike oorsake. Skuilings ontvang dikwels ook beseerde, siek of swak kalwers, of diegene wat deur hul ma's verwerp is, of van hulle geskei is op een of ander tyd en nie weer herenig kan word nie.

Nuutgebore kalfies (wat tussen 60 en 80 kilogram weeg, soveel soos 'n volwasse mens) drink 8 tot 12 bottels per dag, aanvanklik elke 2 tot 3 uur. Hulle kan tussen 6 en 6.5 liter op 'n keer drink. Die ouer kalwers drink meer as 20 liter per dag. Die meeste begin teen hul derde maand vaste voer inneem; afhangend van wanneer hul tande uitkom, maar is slegs ten volle gespeen teen hul 16de maand.

“Renosterkalwers huil soos babas wanneer hulle honger is," verklap Guy.

Sonder hul ma's is hul kans op oorlewing maar skraal.

“Renoster-weeshuise oor Suid-Afrika heen speel 'n belangrike rol in die versorging van renoster-kalfies," reken Guy. 

Vir die afgelope twee jaar het sy by twee sulke renosterskuilings of “sanctuaries" gewerk en waardeer die ondersteuning wat sy ontvang van Rockwood se eienaar, Wicus Diedericks, en sy personeel.​

Die werk op die ontwikkeling van melkvervangers vir renosters pas in by soortgelyke projekte by die Universiteit Stellenbosch wat fokus op gedomestikeerde spesies, soos koeikalwers en skaaplammers. Voedingsnavorsing oor wildspesies soos swartwitpense word ook gedoen.

“Daar lê nog 'n lang pad voor om die sukses van hierdie renoster-melkvervanger te bepaal. Ons weet dat die voordeel van hierdie navorsing vir die bewaring van dié bedreigde spesie kosbaar is," meen Guy se studieleier, dr. Brink van Zyl van die Departement Veekundige Wetenskappe in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Foto's

Dakota Guy.jpg
Me Dakota Guy, 'n meestersgraadstudent in Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, besig om formulemelk te voer aan renoster-wesies wat deel is van haar navorsingsprojek. Foto: VERSKAF

RhinoonScale.jpg
Een van die moeiliker dele van die navorsingsprojek is om renoster-kalfies te kry om op 'n skaal te staan, sodat hulle gereeld geweeg kan word. Foto: Dakota Guy