Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Begeesterde Baatjes neem voortou van Leer en Onderrig by FGGW
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 29/09/2021

Wanneer prof Karin Baatjes inval in haar nuwe pos as Vise-dekaan: Leer en Onderwys van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), sal haar sleuteldoelwit wees om graduandi en onderwysers op te lewer wat “die gemeenskap dien, geïnspireer is om lewenslank te leer – en nooit vergeet dat hulle ménse in hul sorg het nie".

“My doelwit is om te lei in ʼn onderwyskonteks wat sosiaal sensitiewe praktisyns oplewer, want uiteindelik dien ons die gemeenskap," het Baatjes, tans Hoof van die Afdeling Kliniese Anatomie, in ʼn onderhoud gesê kort nadat haar aanstelling aangekondig is.

“Ek wil ook hê die individue met wie ek werk moet geïnspireer wees om lewenslank te leer, want leer hou nooit op nie. Dit moenie net die geval wees terwyl studente en personeel saam met ons in die Fakulteit is nie, maar ook soos wat hulle vordering in hul loopbane maak. Ek wens vir hulle ʼn globale siening toe en dat hulle in die digitale arena sal funksioneer, maar ook dat hulle bewus van kwessies in ons gemeenskap sal bly."

Haar aanstellingstermyn is vir vyf jaar, met die moontlikheid om dit tot tien jaar te verleng. “Ek verwag ʼn geweldige groeiversnelling vir myself in die volgende paar jaar. Ek is meegedeel ek gaan aan baie nuwe geleenthede en moontlikhede blootgestel word en ek sal dit omarm, al is dit veeleisend.

“Ek streef ʼn nalatenskap van positiewe interaksies en invloed na. Ek het dit tot nou toe probeer uitleef en ek gaan dit voortsit."

Baatjes is baie opgewonde oor haar aanstelling en het vertel van die talle e-posse en oproepe van gelukwense wat sy van die mediese gemeenskap ontvang het, ook van haar universiteitskollegas.

“Ek is nou al lank deel van hierdie Fakulteit en ken baie mense persoonlik. Ek het ook e-posse van departemente ontvang en sien daarna uit om in hierdie groter spankonteks te werk," het sy gesê en bygevoeg dat spanwerk die grondslag van haar pogings in haar nuwe pos sal wees.

“As ʼn chirurg het ek altyd in ʼn span gefunksioneer, so dis die agtergrond van my lewe. Ek glo baie min dinge word deur individue alleen bereik. Ons moet bewus wees van die rol van ál die mense in wat ons doen, ongeag hoe groot of klein, wat ons die beoogde uitkoms help bereik."

Sy het bygevoeg: “Ek beskou my taak as ʼn grote weens die impak wat dit kan hê. Dit is belangrik dat wat ek ook al bereik tot voordeel van almal in die Fakulteit sal wees – studente en onderwysers en al die belanghebbers in leer en onderwys."

As Vise-dekaan sal Baatjes deel wees van die Dekaan se bestuurspan wat aan die stuur van alle aspekte van leer en onderrig in die Fakulteit is. “Die taak verg ʼn strategiese uitgangspunt oor hoe om leer en onderwys vorentoe te neem, maar ook voortdurende vlugvoetigheid in alles wat ons doen.

“Vlugvoetigheid sal só belangrik wees om op verandering te reageer. Die Covid-19-pandemie het vir ons gewys hoe belangrik dit is om op jou voete te dink en op verskillende uitkomste te reageer soos wat hulle opduik."

Gevra oor die spesiale eienskappe wat sy na die pos bring, het Baatjes gesê: “Ek bring energie. Ek is altyd reg om nuwe dinge te probeer, ander mense se vernuwende idees te omarm en na vore te tree, al is dit ongemaklik. Ek glo mens moet gewillig wees om jouself te laat geld om nuwe veld te wen en ʼn impak te maak."

Baatjes is in De Aar in die Noord-Kaap gebore en hulle het Kaap toe getrek toe sy sewe was. Ná haar skoolopleiding in Kraaifontein is sy reguit na die US om medies te studeer.

Sy het haar MB ChB in 1997 voltooi, in 2004 ʼn genoot van die Kollege van Chirurge (FCS) SA geword, haar MMed (chirurgie) in 2005 aan die US behaal en haar PhD (chirurgie) in 2018, ook aan die US.

Sy het van 2005 as senior lektor in die FGGW se Afdeling Chirurgie gewerk, is in 2018 as Hoof van die Afdeling Kliniese Anatomie van die Departement Biomediese Wetenskappe aangestel, en in 2019 as mede-professor in chirurgie.

Sy het geneeskunde as haar loopbaan gekies “omdat ek verwag het ek sal daarvan hou om met pasiёnte te werk. Chirurgie stel mens werklik in staat om verandering teweeg te bring. Ek is ʼn 'doener' en ʼn praktiese mens. Om dit eenvoudig te stel: Ek hou daarvan om te wonder wat met die pasiёnt fout is en hoe ek dit kan regmaak. Dis hoe ek in die meeste aspekte van my loopbaan funksioneer."

Een van die grootste hoogtepunte van haar loopbaan tot op hede was toe sy haar chirurgiespesialiteit voltooi het. “Ek was baie trots, omdat ek die chirurgiese komponent geniet. Nog ʼn hoogtepunt is hoe ek oor die laaste drie dekades ontwikkel en gegroei het. Ek sal in my nuwe pos aanhou om dit te doen. ʼn Mens moet nooit stagneer nie, ongeag van waar jy is. Daar is altyd nog iets om te leer."

Sy het wydlopende navorsing op haar kerfstok, maar volgens Baatjes was haar grootste fokus op borskanker, soos blyk uit haar PhD en haar chirurgieloopbaan. Navorsing oor onderwys, insluitende onderwysleierskap, was nog ʼn fokusgebied.

Baatjes kom uit ʼn hegte gesin van vyf sibbe (sy is die jongste) en wanneer sy nie werk nie, is niks vir haar lekkerder as om tyd met haar familie deur te bring nie. Sy geniet dit ook om te draf.

Sy beskryf haar ouers, beide onderwysers, as die belangrikste invloed op haar lewe. “Hulle het albei ʼn liefde vir onderwys en leer by my ingeskerp.

“Daar is soveel individue wat ʼn rol in ʼn mens se ontwikkeling speel. Vir my sluit dit Moeder Teresa van Kalkutta (die Katolieke non en heilige) in. Ek is diep geraak deur haar filosofie van 'Ek alleen kan nie die wêreld verander nie, maar ek kan ʼn klip oor die water gooi en baie rimpelings veroorsaak'.

“'n Ander bron van groot inspirasie is Sheryl Sandberg (Amerikaanse sakeleier en filantroop), wat gesê het leierskap moet daaroor gaan om ander met jou teenwoordigheid te verbeter en seker te maak daardie impak is blywend wanneer jy nie daar is nie."


Foto-erkenning: Damien Schumann