Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veelvuldige digitale taakverrigting oorstuur die brein
Outeur: Sonja Strydom, Elmien Sinclair & Christa Koch
Gepubliseer: 28/09/2021

​Verhoogde druk op ons kognitiewe vermoëns en voortdurende blootstelling aan digitale tegnologieë beïnvloed die welstand van werknemers.

Die Covid-19-pandemie het die wyse waarop ons werk en hoe ons met ons kollegas kommunikeer, verander. Regoor die wêreld was baie mense gedwing om, met behulp van verskillende digitale tegnologieë, tuis te werk. Dit is goed gedokumenteer dat aanlynplatforms die weg vir onmiddellike toegang tot institusionele hulpbronne en kennis sowel as konstante interaksie met kollegas gebaan het.

Ten spyte van die voordele en baie positiewe uitkomste wat die vermoë om voortdurend in kontak met kollegas te wees inhou, moet die moontlike probleme van die toenemende alomteenwoordige aard van digitale tegnologieë krities oorweeg word. As 'n onderwerp van moontlike kommer en hernude fokus, kom die idee van digitale welstand sterk na vore. Ironies genoeg kan die vinnige groei en gesofistikeerde ontwikkeling van digitale tegnologieë tot ons algemene gesondheid en welstand bydra, maar die teenoorgestelde is egter ook waar.

Toenemende bewuswording van digitale welstand noop werknemers tot groter bewustheid van hul persoonlike verhouding met digitale tegnologieë en die handhawing van 'n werk-lewe-balans in 'n allesomvattende digitale omgewing. Aspekte soos ons vermoë om suksesvol inligtingoorlading, digitale werklading en deurlopende digitale afleiding te bestuur, word toenemend van afgeronde werknemers verwag. Digitale welstand spreek verder tot individue se begrip van die moontlike risiko's wat aan voortdurende digitale verbintenisse verbonde is.

Een van die praktyke voortspruitend uit talle ure voor rekenaarskerms, is die gelyktydige betrokkenheid by veelvoudige take, of dan 'multitasking'. Hoewel ons sulke praktyke dikwels aan produktiwiteit en goeie organisatoriese vaardighede gelykstel, is baie navorsers van mening dat die suksesvolle hantering van veelvoudige take nie werklik bestaan nie.

Byvoorbeeld, in The Myth of Multitasking maak Nancy Napier die punt dat ons eintlik binne 'n baie kort tydperk tussen aktiwiteite wissel, wat toenemende druk op ons kognitiewe vermoëns en hulpbronne plaas. 'n Ander kommerwekkende aspek is dat voortdurende blootstelling aan digitale tegnologieë moontlik die aandagspan van werknemers negatief kan beïnvloed. Die vinnige, net-betyds-omgewing belemmer ons vermoë om te konsentreer en om met die nodige diepte en aandag op enkele take te fokus. Voortdurende toegang tot skootrekenaars, slim toestelle, e-pos, die internet, sosiale media en so meer, beïnvloed die brein se werking.

Die werknemers wat te veel tyd voor hul toestelle deurbring, ervaar ook newe-effekte soos nek- en rugpyn, spanning op die oë en ontwrigte slaappatrone. Produktiwiteit kan deur konstante onderbrekings en afleidings van elektroniese kennisgewings beïnvloed word wat insgelyks die balans tussen werk en persoonlike lewe kan beïnvloed. Ofskoon sosiale media 'n kommunikasie instrument was wat ons met kollegas en geliefdes gedurende lang periodes van isolasie verbind het, kan hierdie platforms ook tot deurlopende toegang tot bemarkingsveldtogte, ontstellende nuus en onttrekking aan fisieke kontak met geliefdes lei.

 Die voortdurende oorlading met inligting deur die gebruik van digitale toestelle kan moontlik lei tot wat Larry Rosen 'n 'iDisorder' noem. In sy boek, iDisorder: Understanding Our Obsession with Technology and Overcoming Its Hold on Us (2012), voer Rosen aan dat 'n 'iDisorder' nie 'n afgebakende gediagnoseerde siekte is met 'n lys van duidelik aangeduide simptome nie. Dit is eerder "iets vloeibaars genoeg om uniek te wees tot elke spesifieke persoon". Die argument word gevoer dat oormatige gebruik van digitale tegnologieë moontlik latente sielkundige simptome kan veroorsaak.

 Werknemers floreer ('flourish') in goeie welstand slaag ook daarin om op hul persoonlike groei te konsentreer. Dit impliseer dat hulle die daaglikse interaksie met digitale toestelle effektief kan bestuur. Hulle slaag daarin om 'n sinvolle balans tussen gereelde oefening, gebalanseerde maaltye en goeie slaappatrone te handhaaf.

Gegewe al die ernstige waarskuwingstekens moet instansies poog om bewustheid van die waarde wat die handhawing van balans tussen interaksie met digitale toestelle en praktyke en die moontlike gevare van konstante afleidings, kan inhou, onder hul werknemers te skep. Een so voorbeeld van hoe bewustheid geskep kan word, is om die belangrikheid van florering ('flourishing') te benadruk.

 In die APA Dictionary of Psychology (2015) verduidelik Gary VandenBos dat om te floreer ('flourishing') na die funksionering in en handhawing van optimale welstand verwys. Om te floreer dui op die handhawing van goeie geestelike en fisiese gesondheid. Deur te fokus op areas van geestesgesondheid, fisiese gesondheid, produktiwiteit, gesonde verhoudings, algemene welstand en digitale burgerskap, kan ʼn florerende lewenswyse bereik en gehandhaaf word. Werknemers kan aangemoedig word om hierdie verskillende fokusareas voorop te stel ten einde na 'n florerende lewenswyse in 'n digitaal bemiddelde wêreld te streef.

 Dit is duidelik dat baie van die bogenoemde aspekte steeds die verantwoordelikheid van die individu is en dat dit die individue se verantwoordelikheid is om voortdurend van die positiewe en negatiewe gevolge van die digitale invloede in ons lewens en werkruimtes bewus te wees. Bewusmaking van die moontlike gevare en die noodsaaklikheid om werknemers se verhouding met digitale toestelle en die gevolge daarvan objektief en noukeurig te oorweeg, kan ons algehele welstand versterk, en ons aanmoedig om inligting en ontwrigtings te bestuur. Dit gaan alles oor die regte verhouding met en tot ons digitale toestelle.

Bron: Mail & Guardian,​ 21 September 2021