Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Juanita Pienaar nou Regsgeleerdheid se eerste visedekaan van navorsing en internasionalisering
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 06/09/2021

Prof Juanita Pienaar van die Departement Privaatreg sal met ingang van September as die heel eerste visedekaan van navorsing en internasionalisering van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid dien.

Prof Pienaar sal haar primêre pligte as dosent in Gewoontereg, Sakereg en Gevorderde Sakereg, en as navorser en Fakulteitskomiteelid voortsit en slegs as hoof van die Departement Privaatreg uittree. “Ek is opgewonde," sê sy oor haar nuwe rol. “Omdat dit 'n splinternuwe portefeulje in die Fakulteit is, begin ons as't ware met 'n skoon lei, en kan die portefeulje se omvang en parameters na gelang van internasionale, maar veral ook nasionale en Afrikabehoeftes gevorm word."

Die nuwe visedekaan is vol geesdrif vir die uitdaging, gerus in die wete dat sy op die steun en bystand van die Fakulteit se navorsingskomitee en begaafde, entoesiastiese personeellede kan staatmaak. “Ons is 'n sterk span in die Fakulteit, en ek sien daarna uit om saam met ons dekaan, prof Nicola Smit, en ander kollegas idees te skep en te ontwikkel. Uiteindelik gaan alles om die Fakulteit, sy personeellede en studente, en wat hulle nodig het," sê sy.

Prof Pienaar se eie navorsing handel oor sakereg in die algemeen, en grondhervorming en verbandhoudende sake in die besonder. Sy spog met 'n uitgebreide publikasiegeskiedenis, waaronder die boek Land Reform van 2014, wat deel uitmaak van Juta se sakeregversameling. Sy werk tans aan 'n verdere twee publikasies. Die een is nóg 'n Juta-boek, dié keer oor gewoonteregtelike sakereg, wat sy saam met prof Elmien du Plessis skryf. Vir die ander, Property in Housing, tree prof Pienaar as samesteller op, met Gustav Muller en Sue-Mari Viljoen as medeskrywers.

Een van haar eerste prioriteite as visedekaan sal wees om hernude klem te plaas op navorsing, wat die afgelope 18 maande deur die pandemie geraak is. “Die Universiteit moes uiteraard sterk konsentreer op onderrig en leer om die akademiese jaar te voltooi en ons studente so goed moontlik by te staan. COVID-19 het egter ook 'n impak gehad op hoe ons navorsing benader en onderneem, en navorsingsbesoeke en -konferensies het beslis daaronder gely," sê sy.

Op 'n vraag oor haar werkstrategie en hoe sy uitdagings hanteer, beklemtoon prof Pienaar die belang van samewerking sowel as selfbestuur en -organisasie. “Kry 'n klankbord wat kan luister en help waar dit nodig is. Wees realisties: Jy kan nie heeltyd alles vir almal wees nie. En beplan jou week so goed jy kan. COVID-19 het bewys dat ons iets haarfyn kan beplan, en dan verander alles in elk geval. Nietemin vind ek steeds dat 'n mens meer in beheer voel as jy dinge beplan en skeduleer, selfs al is dit net op papier!" sê sy.

“My leuse is 'Wat klaar is, is klaar'. As jy 'n taak kan klaarmaak, doen dit net!" voeg sy by. “My kinders het my leuse aanvanklik baie irriterend gevind, maar gebruik dit deesdae self! Ek's geïnspireer deur mense wat bo hulle omstandighede uitstyg en deurdruk. Ek het hope respek vir veerkragtigheid."

Die drastiese veranderinge wat die pandemie teweeggebring het, het haar ook 'n paar verdere waardevolle lesse geleer. “Die pandemie het 'n ingrypende impak gehad op hoe ons by die werk, in ons woonbuurte en met vriende en familie omgaan. Ek besef nou dis goud werd om sommer net by iemand se kantoor te kan inloer om te hoor hoe dit met daardie persoon gaan. Ek mis dit."

Haar boodskap aan die kampusgemeenskap in hierdie buitengewone tyd? “Eerstens, soek doelbewus die goeie dinge in die lewe – selfs al is dit klein en oënskynlik onbenullig – en klou daaraan vas. Tweedens, sien eers om na jouself, en sorg dan vir ander: Jy kan immers nie uit 'n leë kruik skink nie."