Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klop die hitte: kan die effek van klimaatsverandering op diere akkuraat voorspel word?
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 18/08/2021

Dit is geen maklike taak om te voorspel hoe diere – van insekte tot visse – gaan reageer op klimaatsverandering, en in die besonder op uiterste temperature nie. Die gebrek aan kennis kniehalter ons vermoë om hierdie diere se kwesbaarheid vir klimaatsverandering te voorspel.

“Ons moet voortdurend ons vermoë om die effek van klimaatsverandering te kan voorspel verbeter, asook ons vermoë om die impak daarvan te kan temper. Een van die maniere waarop ons dit kan doen, is deur 'n beter begrip te verkry van hoe diere op klimaatsverandering reageer en dan enige relevante inligting by risikomaatstawwe te inkorporeer," sê Dr. Susana Clusella-Trullas, 'n klimaatsveranderingswetenskaplike in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch.

Sy lei 'n span wetenskaplikes van die US en die Universiteit van Melbourne in Australië, wat verskeie voorstelle in 'n onlangse artikel in die vaktydskrif Trends in Ecology and Evolution gepubliseer het oor hoe die huidige, wydaanvaarde termiese kwesbaarheidsindeks verbeter kan word.

Sy sê jy het die regte gereedskap nodig indien jy spesies se kwesbaarheid vir klimaatsverandering wil voorspel. Dis ook 'n uitdaging om te weet wátter gereedskap in watter situasie gebruik moet word.

Die hedendaagse kwesbaarheidsindekse is gebaseer op die direkte invloed wat klimaatsveranderlikes - meestal temperatuur -  op die optrede van organismes het: “Hulle is gemik op die bepaling van die waarskynlikheid dat organismes (a.g.v. klimaatsverwarming) hulle prestasieperk, bv die temperatuur waarteen beweging of groei nie meer volgehou kan word nie, gaan bereik of oorskrei. Bestuurders en praktisyns moet in staat wees om vining die potensiële voor- en nadele van die hoof benaderings tot afgeleide klimaatsveranderingsrisiko's te kan begryp.  Met die regte gereedskap en indekse van klimaatsveranderingkwesbaarheid, sal dit hulle in staat stel om beter besluite te kan neem, ongewenste klimaatsimpak te temper, en daarvolgens die bewaring van bedreigde spesies te beplan," verduidelik sy.  

Daar heers egter steeds 'n hewige debat en min konsensus oor die beste manier om te werk te gaan om dit te bereik. En die verskeidenheid van maatstawwe en benaderings wat beskikbaar is, kan oorweldigend wees. Om te weet watter gereedskap om te kies, wanneer om dit te gebruik, en watter interpretasies uit die gebruik daarvan afgelei kan word, is glad nie eenvoudig nie en kan lei tot verwarring in die wetenskapsliteratuur wat weer deursypel na onsekerheid by die publiek en effektiewe beleidsmaking vertraag. 

Die span outeurs voer aan dat daar baie implisiete en dikwels ongetoetste vooroordele in hedendaagse termiese indekse is wat ontwerp is om klimaatsveranderingkwesbaarheid mee te meet.  Hierdie vooroordele strek dwarsoor hoe die termiese landskap voorgestel word om omgewingstres wat diere ervaar a.g.v blootstelling aan meer gereelde en erge verwarming en hul reaksie daarop, te kwantifiseer vanuit 'n gedrags- of fisiologiese standpunt.

“Dit is baie moeilik om 'n kwesbaarheidstoets in 'n laboratoriumproefbuis te bedink wat die werklikheid van wat in die natuur gebeur waar diere kan aanpas by stres, akkuraat moet kan weergee," sê Prof Ary Hoffmann van die Universiteit van Melbourne. “Tog maak ons dikwels gevolgtrekkings oor kwesbaarheid op grond van sulke assesserings." Hulle artikel beskryf verder ook benaderings ter bekragtiging van kwesbaarheidindekstoepassings en bespreek belangrike kwessies wat in ag geneem moet word by die verdere ontwikkeling van hierdie indekse. 

VERWYSING

S. Clusella-Trullas, R.A. Garcia, J.S. Terblanche, A.A. Hoffmann. How useful are thermal vulnerability indices. Trends in Ecology and Evolution