Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maatstawwe om universiteite te beoordeel, strek wyd
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/08/2021

Binne die konteks van ʼn globale kennis-ekonomie is universiteite se reputasie inderdaad belangrik. Maar die maatstawwe en aanwysers waaraan daardie reputasie gemeet word, strek wyd – van ranglyste tot befondsing – skryf PROF HESTER Klopper in Die Burger van 31 Julie 2021.

  • Lees die artikel hieronder - wat onder die titel “Meet die US ook hieraan" verskyn het.  

Die belangrikheid van reputasie van universiteite as ʼn strategiese ontasbare bate het oor veral die laaste twee dekades skerp gestyg. Die toenemende aantal en verskeidenheid van ranglyste blyk 'n akademiese goudstandaard hiervan te wees. Kritici meen dis bloot bemarking, maar universiteite wat goed doen besing dikwels hul eie lof, want dui hulle aan, dit is 'n indikasie van die aansien wat die instelling geniet; boonop in ʼn internasionale arena.

Rangordes lys universiteite volgens hul prestasie, uitsette en reputasie, en meet aspekte soos navorsingsuitsette, studente-dosente-ratio's, befondsing en selfs webbladbemarking. Die aspekte dra– verskillende gewigte om uiteindelik by ʼn rangorde van soms meer as 'n 1 000 universiteite uit te kom.

Maar ʼn hoëronderwyssinstelling se reputasie strek veel wyer as net rangorde posisionering en kan op verskillende wyse gekwantifiseer word. In sy artikel in Die Burger van 24 Julie 2021 verwys Jannie van der Westhuizen na integriteit in besluitneming as ʼn perspektief waaruit reputasie gemeet word, en evalueer dan die Universiteit Stellenbosch (US) se reputasie volgens die hantering van ʼn aantal kwessies.

Uitsprake oor hóé kwessies hanteer word, is meestal gebaseer op persepsie. Van der Westhuizen laat egter na om te wys op die uitkoms van daardie kwessies, waarvan elkeen deur onafhanklike entiteite ondersoek is en die US van alle blaam onthef is. Ewe belangrik is dat hierdie onafhanklike ondersoeke nie die US se hantering daarvan in twyfel getrek het nie.

Dit blyk dat Van der Westhuizen reputasie op ʼn enkele manier meet, daarom noop dit mens om ʼn wyer konteks te stel, ook aan die hand van voorbeelde.

Reputasie is 'n persepsuele verskynsel, gebou op waarnemers se gesamentlike oordeel uitsprake oor 'n bepaalde instelling. Binne die konteks van ʼn globale kennis-ekonomie en uit die perspektief van internasionalisering – en vandag móét universiteit sy reputasie wyer as sy landsgrense laat geld – dra aspekte soos internasionale vennootskappe, die betrokkenheid van alumni vanoor die wêreld, en die investering van internasionale befondsers tot die bou van reputasie kapitaal by.

Internasionale vennootskappe

Universiteite wêreldwyd bou vennootskappe met ander instellings, span kragte saam in internasionale netwerke of konsortia, en maak studente-uitruiling en gesamentlike kwalifikasies tussen instellings moontlik.

Hoe jý vennote kies en wie jóú nader, is gebaseer op reputasie. Eweneens is dit jou reputasie wat internasionale netwerke en konsortia jou by hul werksaamhede laat betrek, hoekom oorsese (en natuurlik plaaslike) studente kies om by jou te kom studeer, hoekom gerekende en wêreldbekende navorsers saam met jou aan projekte wil werk, en hoekom befondsing deur navorsingsagentskappe en stigtings aanhou om gehalte akademiese werk te ondersteun.

Hierdie aspekte is deel van die US se internasionaliseringstrategie, en dit werp vrugte af. Sedert 2018 is daar ʼn toename in betekenisvolle vennootskappe op institusionele, fakulteits-, en departementele vlak met vennote in Europa, Asië, die Amerikas, en veral in die res van Afrika.

Waar die US in 2018 altesaam 250 verskillende tipes vennootskappe het, het dit in 2021 gegroei tot  298. Die bou van sulke verhoudings neem dikwels jare, maar in die afgelope drie jaar het die US 48 vennote bygekry, meestal op hulle versoek, gebou op die US se positiewe internasionale reputasie. Vir verskeie van ons vooraanstaande universiteitsvennote is die US ʼn voorkeurvennoot.

Dan is die US ook deel van ʼn verskeidenheid internasionale netwerke, soos die Association of Commonwealth Universities (ACU), die Association of African Universities (AAU), die African Research Universities Alliance (ARUA), die Global Alliance of Universities on Climate (GAUC), en die konsortium van die Venice International University (VIU). Die betrokkenheid by netwerke soos GAUC en VIU is op uitnodiging – en is die US die enigste vennoot uit Afrika.

Tans het die US sowat 4 000 internasionale studente. Navorsing toon dat internasionale studente universiteite kies gebaseer op reputasie. Wat gesamentlike grade (grade wat deur die US en ʼn vennoot gesamentlik toegeken word) betref, is die US tans die voorloper in Suid-Afrika, met 41 PhD's en 63 meestersgrade wat sedert 2016 toegeken is. Van ons vennote hier is die Karolinska Instituut in Swede, KU Leuven in België, Leiden Universiteit in Nederland en die Macquarie Universiteit in Australië.

Alumni-betrokkenheid

Alumni se bydrae tot die samelewing is ʼn uitstekende aanduider van reputasie, want dit wys jy lewer top-studente wat ʼn impak op die samelewing maak. Eweneens dra oudstudente die beeld van ʼn universiteit uit na die wêreld – ʼn verhouding vir beide partye voordelig.

In teenstelling met die norm is US-alumni se betrokkenheid (gemeet aan skenkings van tyd, geld en talente) hoog. Wat ook vir die US ʼn groot aanduider van sy reputasie is, is die betrokkenheid van sy alumni in die buiteland. Sedert 2015 het die aantal alumni-nodusse in die buiteland verdubbel – van 12 in 2015 tot 24 vanjaar. Dit wys dat alumni steeds hul alma mater hoog ag en betrokke wíl wees.

In 2015 het 883 alumni US-geleenthede in die buiteland bygewoon en in 2019 (voordat die Covid-19-pandemie sulke geleenthede onmoontlik gemaak het) het dit vermeerder na 3 518 alumni. Dit is ʼn duidelike indikasie van alumni wat internasionaal hulle verbintenis met die US hou op grond van sy reputasie.

Befondsing

Universiteite se finansiële volhoubaarheid hang meestal af van drie inkomstestrome: ʼn regeringsubsidie, studentegelde, en navorsingsbefondsing. Maar deesdae is filantropiese en korporatiewe sosiale-verantwoordelikheidskenkings ewe belangrik. Dít is die rol van die visekanselier (of rektor) om sulke befondsing plaaslik en internasionaal te dryf, hetsy van alumni, maatskappye of stigtings.

Die wedywer vir sulke befondsing is groot, en ʼn universiteit se reputasie gee dikwels die deurslag, hoewel ekonomiese faktore ook ʼn groot rol speel, veral te midde van die pandemie waar maatskappye en stigtings befondsing na Covid-19-projekte kanaliseer.

Tussen 2015 en 2021het die US R1,7 miljard se filantropiese befondsing ingesamel, waarvan ʼn driekwart kom van trusts en stigtings, individue en maatskappye. Sedert 2015 het die US se internasionale donateurs aansienlik gegroei van 13% van alle donateurs tot 19% tans.

Meer as ʼn derde van die R1,7 miljard gaan vir beurse en die res aan onderrig, infrastruktuur, navorsing en sosiale-impakprojekte.

Maar om geld in te samel kos ook geld – waaronder internasionale reise (voor die pandemie) om persoonlik verhoudings te bou, aanbiedings aan groot donateurs te maak. Dit het uiteraard kostes soos vlugte en verblyf tot gevolg. Oor die afgelope ses jaar het die US R6,17 miljoen investeer om dit moontlik te maak vir die US se hooffondswerwer – die rektor – om die reikwydte te kon behaal wat hy het. Die voordeel is dat die spandering van die kostes omvattend benader word en sluit hierdie besoeke fondswerwing onder alumni, verteenwoordiging van die US by internasionale netwerk vergaderings, en besoeke aan internasionale universiteite in – alles aktiwiteite wat die US reputasie bou en ʼn kwalifikasie van die US wêreldwyd gesog maak.

Die opbrengs op hierdie belegging maak die uitgawes oor en oor die moeite werd en ʼn universiteit se uitgawes aan fondswerwing is ʼn fraksie van die totaal wat ingesamel word. Trouens, die Buro vir Ekonomiese Ondersoek in Stellenbosch bereken dat die fondse wat die US tussen 2015 en 2020 gewerf het, 50 keer meer is as die besteding om daardie befondsing te werf.

Boonop wys die Inyathelo-studie oor fondswerwing dat die US se span fondswerwers slegs 11 sent bestee vir elke rand wat ingesamel word.

Universiteite ag hul reputasie as kosbaar, en oor die afgelope dekade het die manier hoe dit gemeet word aansienlik verbeter sodat dit gekwantifiseer kan word. Dat daar baie perspektiewe op en aanwysers van reputasie is, is gewis. Tog kry ʼn mens ʼn goeie aanduiding van jou reputasie wanneer jy deur die bril van internasionalisering kyk en die betrokkenheid van vennoot-universiteite, netwerke, alumni en donateurs in ag neem. Die US se reputasie is gesond en sal deur die huidige visie en strategie oor die volgende paar jaar net versterk word.

  • Prof Hester Klopper is die Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch.