Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waarom inentings, en nie ivermektien, ons enigste moontlike weg uit die pandemie sal wees
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen
Gepubliseer: 03/08/2021

Inentings, en nie ivermektien, is ons enigste moontlike weg uit die pandemie, skryf dr Hanél Sadie-Van Gijsen van die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) in ʼn meningsartikel vir TimesLive (2 Augustus 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Hanél Sadie-Van Gijsen*

Hierdie is (dalk verrassend genoeg) nie 'n artikel rondom die bewyse (al dan nie) vir die sukses van die anti-parasitiese middel ivermektien om COVID-19 infeksies te voorkom of te behandel nie, alhoewel vriende en familie my nou al tot satwordens hieroor gevra het. Teen Maandag 26 Julie 2021 was daar reeds 75 kliniese proewe vir die gebruik van ivermektien vir COVID-19 gelys op ClinicalTrials.gov, die gesaghebbende wêreldwye databasis vir alle goedgekeurde en geregistreerde middelproewe. Die meeste van hierdie proewe is nog nie afgehandel nie, en daar sal ongetwyfeld nog soortgelyke proewe in die nabye toekoms bygevoeg word, so dit sal nog lank wees voor ons die finale woord op hierdie onderwerp kan spreek. Maar ek het tot die besef gekom dat dit nie die punt is nie. Die hele inenting-versus-ivermektien debat probeer ons wysmaak dat dit 'n gedwonge keuse is: òf die een, òf die ander, maar dit is nie die regte manier om daarna te kyk nie. Selfs al wys die proewe dat ivermektien, of inderdaad enige ander middel, fantasties werk vir COVID-19 voorkoming en/of behandeling, sal sulke middels nooit vir ons die weg uit die pandemie kan baan nie.

Wanneer ons herstel van 'n virus-infeksie, is dit die einde van die pad vir al die virus-molekules in jou liggaam. Virusse moet die hele tyd nuwe gashere vind en infekteer om aan die gang te bly. Elke keer wanneer 'n virus 'n potensiële gasheer vind wat immuun is teen infeksie, bereik dit 'n doodloopstraat en verlaag die virus se kanse op 'n produktiewe toekoms. Dit is die beginsel agter, en inderdaad die wonder van, trop-immuniteit. As almal, of amper almal, immuun is, verminder die breë teenwoordigheid en verspreiding van die virus in 'n gemeenskap drasties.

Entstowwe verskaf langtermyn-immuniteit teen virus-infeksies, en bied inderwaarheid die moontlikheid om hierdie infeksies volledig uit te wis. Ons weet dit weens ons wêreldwye sukses met die uitwissing van pokke in die laat 1970s en polio in die laat 1990s. Internasionale skenkers, met die VSA as hoofskenker, het destyds ongeveer een-derde ($98 miljoen) van die koste van die pokke-uitwissingsprogram bygedra. Dit klink na 'n groot klomp geld, maar daar is bereken dat die VSA agterna hul geldelike bydraes ELKE 26 DAE teruggemaak het, as gevolg van besparings omdat hulle nie meer nodig gehad het om pokke te behandel of selfs mense daarteen in te ent nie. Hierdie is 'n uiters relevante punt in ons huidige omstandighede, as jy in ag neem hoeveel ons tans bestee aan COVID-19 beskermingsprotokolle en behandeling, veral hospitalisasie, asook die enorme ekonomiese kostes van inperkings, addisionele maatskaplike toelaes en reddingsboeie vir besighede.

Aan die ander kant is 'n middel-gebaseerde bevolkingsbeskerming teen COVID-19 dalk in teorie haalbaar, maar dit sal die ononderbroke samewerking van elke mens op die planeet verg om dit reg te kry. Middels werk ongelukkig net vir solank as ons hulle neem, en om die pandemie te beëindig met 'n middel soos ivermektien sal elke persoon daardie middel elke dag moet neem. Geen ruimte vir huiwering, of probleme met newe-effekte of interaksies met ander medikasies nie, geen vrystelling vir swanger of borsvoedende vroue nie, en beslis geen ruimte vir voorraad-tekorte nie. En aangesien so 'n middel waarskynlik nie langtermyn-immuniteit teen COVID-19 sal teweegbring nie, sal permanente uitwissing van die virus nie moontlik wees nie. Kortom, ons sal almal vir altyd afhanklik wees van so 'n middel. Elke keer as enigiemand die bal laat val, sal ons van voor af moet begin. En as jy nou reeds 'n probleem het met hoeveel geld entstof-vervaardigers maak uit wêreldwye inentingsprogramme, dink net wat dit sal beteken vir farmaseutiese maatskappye wat 'n middel, selfs 'n goedkoop middel, vervaardig wat elke persoon op aarde elke dag (of selfs net elke week) vir die res van hul lewens sal moet neem. Selfs klein bedrae geld word baie vinnig baie groot wanneer hulle vermenigvuldig word met 7 biljoen mense, en dan met 365 dae, en dan met 20 of 50 jaar. Praat van die gans wat aanhou om die goue eiers te lê.

Dokters wat TB-pasiënte behandel kan getuig hoe moeilik dit is om hulle te kry om deurlopend hul medikasie vir 18 maande lank te neem, en dit is pasiënte met 'n bestaande infeksie waarvan hulle sekerlik wil herstel. Dink nou hoe moeilik dit sal wees om mense te motiveer om vir dekades in die toekoms in deurlopend 'n middel te neem vir 'n siekte wat hulle nie eers het nie. Ek het gewoonlik redelike vertroue in die mensdom, maar ek dink nie dis 'n realistiese situasie nie. Gevolglik sal so 'n middel-program maar altyd net 'n ekstra wees: anti-COVID-19 middel EN maskers EN sosiale afstandhawing. Nog steeds geen terugkeer na hoe dinge vantevore was, voor COVID-19 nie. 

Ongeag jou gevoelens oor die spoed waarteen COVID-19 entstowwe aanvanklik ontwikkel is en getoets is, het ons nou meer as 9 maande se “buitewêreld" data van menige lande wat wys dat hierdie entstowwe beide veilig en effektief is. In die VSA was 99% van mense wat die afgelope paar maande aan COVID-19 oorlede is nie ingeënt nie. En aangesien dieselfde entstowwe in Suid-Afrika en in die VSA, Verenigde Koninkryk en Europa gebruik word, kan ons gelei word deur daardie lande se data terwyl ons eie inentingsprogram nog spoed optel. Opvolgtoetse op die eerste ontvangers van beide die Johnson & Johnson en Pfizer entstowwe het aangetoon dat immuniteit teen COVID-19 ten minste vir 9 maande hou. (Dit is omdat hierdie persone nege maande terug ingeënt is, dus het ons nog net geleentheid gehad om hul immuniteit te volg oor nege maande.) Teen die einde van die jaar sal ons weet of entstof-gebaseerde immuniteit vir 'n jaar hou. Teen die einde van volgende jaar sal ons weet of dit vir twee jaar hou, en so aan en so voorts.   

Navorsing het ook gewys dat entstowwe 'n baie sterker immuunrespons teweegbring as natuurlike COVID-19 infeksie, veral in diegene wat net matige simptome gehad het. Selfs al wys die opvolgstudies dat ons mettertyd addisionele inentings teen COVID-19 moet kry, sal dit nog steeds net elke paar jaar wees, beslis nie elke dag of elke week nie, en dit sal beslis baie minder risiko dra as om te probeer immuniteit opbou deur COVID-19 infeksie te kry. Inentingsprogramme kan ook baie noukeurig gemonitor word, so dat ons te alle tye weet hoeveel mense ingeënt is. Middel-gebaseerde voorkomingsprogramme, daarteenoor, kan nie gemonitor word nie. Jy kan hoop en bid jou kollega of die persoon langs jou in die winkel het vanoggend sy/haar anti-COVID-19 pilletjie gedrink, maar anders as verpligte daaglikse bloed- of urientoetse vir almal (kan jy jou dit indink), is daar geen manier om seker te maak almal volg 'n middel-gebaseerde voorkomingsprogram nie.

Natuurlik behoort ons aan te hou om middels te toets vir die behandeling van COVID-19. Dit sal immers fantasties wees as ons alle COVID-19 infeksies suksesvol kan behandel, en reeds bestaande middels bied 'n ideale kortpad, solank ons kan bewys dat hulle wel werk. Dus ondersteun ek alle hoë-gehalte navorsing op ivermektien of enige ander middels wat belofte toon in hierdie verband. Maar 'n omvattend globale inentingsprogram is ons enigste moontlike kans om finaal en onomkeerbaar ons pad uit hierdie pandemie te vind. Om weer te mag reis. Om te kan eet in 'n restaurant, te drink in 'n kroeg en te dans in 'n nagklub. Om konferensies, sportwedstryde, musiekkonserte, kunsfeeste, godsdienstige byeenkomse en groot troues by te woon. En ja, selfs begrafnisse, waar ons kan huil en lag en sing en mekaar vashou, SONDER maskers en SONDER die vrees van wonder wie onder ons volgende week sal sterf.

*Dr Hanél Sadie-Van Gijsen is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.