Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek besin oor visuele regstelling by US
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 30/07/2021

​’n Grensverskuiwende boek wat nadenkend omgaan met ’n belangrike aspek van institusionele transformasie by die Universiteit Stellenbosch (US) is Dinsdag (27 Julie 2021) gedurende ’n webinaar bekend gestel.

​Die boek getiteld Evoking transformation: Visual redress at Stellenbosch University is gesamentlik saamgestel deur prof Aslam Fataar, ’n navorsingsprofessor in die US se Transformasiekantoor, en prof Elmarie Costandius, ’n medeprofessor in Visuele Kunste by die US. Dit bevat hoofstukke deur ’n aantal belangrike rolspelers op die gebied van visuele regstelling by die Universiteit, waaronder dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, en prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel.

Die term “visuele regstelling” in die boek verwys na prosesse om die US se visuele omgewing en kultuur te verander om restitusie, inklusiwiteit en institusionele samehang te bevorder. “Visuele kultuur” hou op sy beurt verband met aktiwiteite om die US se simbole, name, standbeelde en institusionele ruimtes te verander. Boonop verwys dit na die ontwikkeling van nuwe visuele simbole en ikone wat die “tydsgees van demokratiese verandering” op die Universiteit se kampusse weerspieël.

Fataar, ook ’n professor in die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie, het by die bekendstelling gesê die boek konsentreer veral op die tydperk 2015 tot 2021, toe “visuele regstelling by die US geïnstitusionaliseer is”. “Ons reken die visuele regstelling op ons kampusse in dié tyd hou lesse in vir ’n praksis van visuelekultuuraktiwiteit, welke praksis die produk is van inklusiewe en by tye ook besonder moeilike dog doelgerigte en konstruktiewe gesprek,” het hy gesê.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê die boek is ’n tydige en baie nodige publikasie wat algemene insig bied in, en nadink oor, hoe ons omgaan met die fisiese ruimtes waarin ons ons bevind. “Dit is belangrik om te onthou dat visuele transformasie en gepaardgaande aktiwiteite op die gebied van visuele kultuur by die Universiteit plaasvind teen die agtergrond van ’n institusionele geskiedenis van meer as 150 jaar, wat berus het op ’n Afrikaner-identiteit wat geskoei was op ’n verlede van koloniale skeiding en apartheid.

“En juis dáárom is die titel van die boek – Evoking transformation – so interessant. ‘Evoke’ is om ’n gevoel, herinnering of beeld in die gedagte op te roep. En sodra jy bewustelik aan iets dink, beteken dit jy kan daarop reageer. Dit gebeur nie sommer net op grond van goeie voornemens nie. Dit verg aksie. En ek glo hierdie publikasie spoor daardie aksies na; dit skep ’n konteks vir die geskiedenis van hoe ons Universiteitskampusse ontwikkel het, en besin oor die belangrike aspek van institusionele transformasie.”

De Villiers het gesê restitusie is ’n beduidende komponent van die Universiteit se strategie en is uitdruklik ingesluit by die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, wat die US se “onlosmaaklike band met vorige, huidige en toekomstige geslagte” erken. “In ons eeufeesjaar in 2018 het die Universiteit sy vele suksesse en prestasies gevier, maar terselfdertyd ook sy bydrae tot die onreg van die verlede erken. Ons het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die gemeenskappe en individue wat van historiese voorregte uitgesluit is, en ons het hulde gebring aan die kritiese stemme van destyds wat geweier het om uitgedoof te word. Ons het ook ons verantwoordelikheid teenoor huidige en toekomstige geslagte aanvaar, en ons onherroeplik verbind tot die ideaal van ’n inklusiewe wêreldklasuniversiteit in en vir Afrika. Visuele regstelling maak ’n belangrike deel uit van daardie verbintenis tot inklusiwiteit, en hierdie publikasie is ’n bewys van hoe ver ons al gevorder het, maar ook van hoe ver ons nog moet gaan.”

Dr Bernadette Judith Johnson, direkteur van die Kantoor vir Transformasie en Diensbillikheid aan die Universiteit van die Witwatersrand, het Evoking transformation as ’n gedagteprikkelende boek oor nadenkende praksis beskryf. “Terwyl ek die boek gelees het, het ek besef dit help my besin oor die werk van transformasie, en oor wat ek en ander in die hoëronderwyssektor ten opsigte van transformasie behoort te doen. Ons moet hieruit leer en dit in ons voortdurende omgang met ons praksis toepas,” het sy gesê. 

Evoking Transformation: Visual Redress at Stellenbosch University is deur African Sun Media uitgegee.