Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ondersteun poging om hawelose mense te help
Outeur: Nicolette Dirk
Gepubliseer: 29/07/2021

​Teen ’n skamele R10 kan jy ’n verskil maak in die lewe van ’n hawelose persoon. Die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte saamgesnoer met Stellenbosch Munisipaliteit ter ondersteuning van Heartflow, ’n Stellenbosse organisasie sonder winsoogmerk wat verantwoordelike en sinvolle sosiale impak onder studente en personeellede bevorder om diegene te help wat op straat woon.

Heartflow reik papierkoepons uit, wat lede van die publiek by verskeie plaaslike winkels kan koop en vir haweloses kan gee, wat op hulle beurt die koepon vir die dienste van Heartflow se vennootorganisasies kan inruil. Dít stel die publiek in staat om hawelose en honger mense op ’n volhoubare, holistiese manier by te staan deur hulle met plaaslike maatskappye sonder winsoogmerk te verbind. In plaas daarvan om bloot kontant in die hand gestop te word, ontvang hawelose persone dus ’n geleentheid om losies, kos en ander dienste te ontvang. 

Christiaan van der Merwe, bedryfsbestuurder van Heartflow, sê die doel van die inisiatief is om die publiek bewus te maak van hoe om verantwoordelik te gee aan persone wat op straat woon. Hy sê die veldtog is geskep om diegene op straat in aanraking te bring met organisasies wat oor die geriewe beskik om hulle te help om hulle lewens te verbeter en selfs werk te kry.

Toe die stelsel etlike jaar gelede bekend gestel is, het dit uit verskeie koepons bestaan wat houers toegang gebied het tot hetsy ’n nag by ’n skuiling, of ’n kombers van die  nieregeringsorganisasie wat voorheen bekend was as Straatlig, ’n ontwikkelingsprogram vir haweloses wat op Stellenbosch werk. Die besturende direkteur van Heartflow, Charl Reyneke, het die stelsel drie jaar gelede herontwerp en met die Stellenbosch-nagskuiling ’n ooreenkoms aangegaan om een, gekonsolideerde koepon te bied wat houers toegang gee tot een nag se losies sowel as maatskaplike steun by die skuiling.

“Die veldtog skep ’n ruimte waar mense waardig kan voel en hulle doel in die samelewing kan besef. Dit sal ook die algemene publiek help verstaan wat om te doen wanneer mense hulle op straat vir geld vra,” sê Van der Merwe. 

Om die koepons maklik beskikbaar te maak vir die publiek, het Heartflow ’n aantal vennootafsetpunte in die Stellenbosse omgewing. Om jou koepons te koop en hawelose persone te ondersteun, gaan na https://heartflow.org.za/ en identifiseer jou naaste afsetpunt.