Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Program vir toekomstige professore: Dr Tongai Maponga
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 29/07/2021

Dr Tongai Maponga, 'n navorser in die Afdeling Geneeskundige Virologie, is deel van 'n uitgesoekte groep personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat deelneem aan die program vir toekomstige professore (FPP), 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die FPP beoog om 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore oor alle vakrigtings heen te ontwikkel. Ons vertel jou meer oor sy loopbaan.

As 'n hepatitisnavorser, is dr Tongai Maponga daagliks op soek na beter diagnostiese en behandelingsoplossings om te sorg dat hierdie inflammatoriese lewertoestand vroeg genoeg opgespoor word om komplikasies soos lewerkanker te voorkom.

Dr Maponga is 'n junior navorser in die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Geneeskundige Virologie, en die US-gebaseerde hoofnavorser vir die Afrika-Oxford- (AfOx-)multisentrumnavorsingsprojek oor die hepatitis B-virus onder leiding van prof Philippa Matthews van die Universiteit van Oxford. In laasgenoemde hoedanigheid is dit sy verantwoordelikheid om die etiese aspekte van die projek te koördineer, om met 'n netwerk klinici te skakel om deelnemerwerwing te verseker, en om toesig te hou oor databestuur.

Die vyf tipes hepatitis – A, B, C, D en E – kan uitloop op akute tot chroniese inflammasie van die lewer, 'n noodsaaklike orgaan wat die liggaam minuut vir minuut ontgif. In ernstige gevalle kan hepatitis tot erge lewerskade (sirrose) en kanker aanleiding gee. Amptenare van die Wêreldgesondheidsorganisasie is veral besorg oor hepatitis B en C, wat tot chroniese siekte by miljoene mense kan lei indien dit nie beheer word nie.

Dr Maponga put sin uit die wete dat sy navorsing uiteindelik ander wetenskaplikes ondersteun in die soeke na beter behandelings, sowel as diagnostiese instrumente om toekomstige uitbrekings te voorkom. “Ek wil graag eendag terugkyk en weet dat ek die lewens van pasiënte, daardie mense wat aan hepatitis ly, verbeter het," sê hy. “Jy kan honderde navorsingsreferate geskryf het, maar as dit nie enige sinvolle voordeel vir pasiënte inhou ten opsigte van die voorkoming van die siekte en die verhoging van sorggehalte nie, watter betekenis het dit dan?"

Hy het onlangs 'n AfOx-navorsingsontwikkelingstoekenning ontvang waarmee hy sy hepatitiswerk na buite die Wes-Kaap sal kan uitbrei. Die toekenning bied finansiering om die epidemiologie van hepatitis B by 'n pasiëntekohort in KwaZulu-Natal te bestudeer. Deur die Afdeling Geneeskundige Virologie en die Netwerk vir Genomiese Waarneming in Suid-Afrika (NGS-SA) help hy ook met die nasporing van variante van die virus SARS-CoV-2.

Bedrywige jaar

Dr Maponga het hom in 2010 as 'n magisterstudent by Geneeskundige Virologie aangesluit, en is in 2019 as 'n junior dosent en navorser aangestel.

Hy was in 2012 deel van die US-navorsingspan wat Suid-Afrika se eerste geval van chroniese hepatitis E-virus by 'n MIV-positiewe pasiënt beskryf het. Hy het sy PhD in 2016 behaal met 'n verhandeling oor hepatitis B by immuunonderdrukte pasiënte, met beursbystand van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), die Harry Crossley-stigting en die Poliomiëlitisnavorsingstigting. Boonop het hy al navorsingstydperke by die Universiteit van Oxford sowel as Columbia-universiteit deurgebring.

Dit is 'n bedrywige jaar vir hierdie geregistreerde geneeskunde-intern by die Gesondheidsberoepsraad. Hy hoop om in Oktober sy internskapopleiding te voltooi, dien as studieleier vir nagraadse studente, en is ook gekies as een van drie US-akademici wat deel is van vanjaar se inname vir die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se program vir toekomstige professore (FPP) (fase 01). Die FPP is 'n twee jaar lange voorbereidingsprogram wat jong akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite ondersteun om deur uitnemendheid die toon op hulle onderskeie vakgebiede aan te gee en die land se volgende geslag professore te word. Die program leer FPP-genote waardevolle lesse oor akademiese vakkundigheid, aansoeke om NNS-finansiering en -gradering, sowel as ander aspekte van 'n akademikus se lewe.

Vir dr Maponga is die gereelde groepafrigtingsessies en die psigososiale steun van die FPP besonder nuttig om hom 'n beter werk–lewe-balans te help handhaaf en werksdruk te hanteer. Hy is ook dankbaar vir die FPP-assessering wat alle genote ontvang, wat hom vir NNS-gradering help voorberei.

Oorkom struikelblokke

Sy tersiêre loopbaan het as 'n ingeskrewe student aan die Universiteit van Zimbabwe begin danksy 'n omvattende toelaag wat deur belastingbetalers ondersteun is. Ongelukkig het hy en vele ander Zimbabwiërs in 2005, sy derde studiejaar, hierdie voordeel verloor weens die stand van die Zimbabwiese fiskus. “Dit het my lewe nogal moeilik gemaak, maar danksy my ouers en gesin se ondersteuning en opoffering, het ek my vier jaar lange honneursgraad in Geneeskundige Laboratoriumkunde voltooi," sê hy. Sy eerste betrekking was by 'n kliniese diagnostiese laboratorium in Harare, waarna hy na die Afrika-instituut vir Biomediese Wetenskappe en Tegnologie in dieselfde stad verskuif het.

Hy beskryf sy daaropvolgende twee jaar by die Nasionale Verwysingslaboratorium in Mbabane, Eswatini, as “'n ongelooflike vormende invloed" op sy reis om 'n biomediese wetenskaplike en navorser te word. Hier het hy toesig gehou oor die vestiging van die vereiste laboratoriumgeriewe om babas in Eswatini vir MIV te toets in plaas van by staatsfasiliteite in Suid-Afrika, soos wat destyds die gebruik was. “Dít bly tot vandag toe een van my leierskapsprestasies waarop ek die trotsste is," besin hy oor die ervaring, waarvoor hy sy aan sy met finansieringsvennote van UNICEF en die Clinton-gesondheidstigting gewerk het.

Sy beroepsprestasies ten spyt, beskou dié pa van twee dogters en huweliksmaat vir vrou Vimbai egter steeds sy gesinsverantwoordelikhede as die heel belangrikste. “Om 'n goeie pa te wees vir vyfjarige Tinodiwa en driejarige Tinevimbo is uitdagender as enige navorsing," lag hy.​