Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
In memoriam: Carmelita Talmarkes
Outeur: SU International
Gepubliseer: 29/07/2021

​Ons treur oor die verlies van ons kollega Carmelita Talmarkes, wat op Woensdag 21 Julie 2021 oorlede is. Sy was byna 13 jaar lank deel van die span by US Internasionaal.

Carmelita het gespesialiseer in die evaluering van die buitelandse skoolkwalifikasies van nie-Suid-Afrikaners wat om die US se voorgraadse programme aansoek doen. Sy het ook sy aan sy met die Kontak- en Kliëntedienssentrum en die Sentrale Toelatingskantoor saamgewerk.

Saam met Akademiese Administrasie en kollegas in US Internasionaal se Dienssentrum het Carmelita met vele voornemende studente en hulle ouers geskakel om die studente met aansoeke, toelating, voorbereiding vir hulle reis na die US sowel as registrasie ná aankoms te help. Haar persoonlike aandag en leiding was vir baie van onskatbare waarde.

Die span by US Internasionaal sal haar altyd onthou vir haar liefde vir, en trots op, haar dogter, haar giggel in die kombuis, en haar lojaliteit aan die hele US Internasionaal-gemeenskap.

Ons sal haar kennis en haar stille dog dikwels kritieke bydraes ontsaglik baie mis. Mag sy in vrede rus.