Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mandeladagvieringe: US-studente besin oor diensbaarheid aan die samelewing
Outeur: Nicolette Dirk
Gepubliseer: 20/07/2021

​Matie Gemeenskapsdiens (MGD) by die Universiteit Stellenbosch (US) het Mandeladag vanjaar aanlyn gedenk deur die positiewe verhale te vertel van studente en personeellede wat by gemeenskapsdiensprojekte betrokke is.

Nelson Mandela Internasionale Dag (“Mandeladag”), wat jaarliks op Mandela se verjaardag, 18 Julie, gevier word, is bekend gestel om die nalatenskap van dié ontslape Suid-Afrikaanse staatsman te huldig. Die Verenigde Nasies (VN) het dit in November 2009 amptelik tot ’n internasionale dag verklaar. Dit dien as ’n wêreldwye oproep op individue om hulle tyd aan ’n liefdadigheidsorganisasie of goeie saak te skenk om die samelewing te verbeter of positief te beïnvloed.

MGD is op sy beurt ’n organisasie sonder winsoogmerk in die US se Afdeling Sosiale Impak wat vrywilligergeleenthede vir die US-gemeenskap ondersteun, uitbrei en fasiliteer. 

Met die oog op vanjaar se Mandeladag het MGD ’n 30 minute lange video getiteld “SU students seeing themselves more clearly in service of others” vervaardig. Dit lig nie net impakryke gemeenskapsdiensprojekte uit nie, maar skep ook bewustheid van die praktiese probleme wat ervaar word.

Die video vertel die verhale van verskeie studente wat sinvol met gemeenskapsvennote geskakel het, en die belangrike dinge wat hulle sodoende oor hulleself ontdek het. Boonop bevat dit ’n aantal personeellede se kommentaar oor die US se toewyding aan die ontwikkeling van graduandi-eienskappe, die krag van ervaringsleer, en die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.

“As ’n universiteit, het ons ’n maatskaplike verantwoordelikheid om ook ons kundigheid en ervaring te gebruik tot voordeel van diegene in die samelewing wat minder bevoorreg is as ons,” sê Renee Hector-Kannemeyer, die US se adjunkdirekteur van Sosiale Impak. “Ons moet afgeronde denkleiers ontwikkel wat hulle horisonne verruim het, en wat as betrokke burgers hulle lesse en ervarings aan die samelewing kan terugskenk.” 

Om jou hulp op die forgood-platform aan te bied, klik op die skakel hieronder: 

Om in Mandelamaand saam met Stellenbosch Munisipaliteit die Stellenbosch-nagskuiling te ondersteun, kontak Denise Paulse by info@stellenboschnightshelter.co.za.

Om Give Responsibly-koepons te koop, kontak Christiaan van der Merwe by Christiaan@heartflow.co.za.

Klik hier om die video te kyk.