Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-entrepreneur se wentoep wil leerders help bemagtig
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 16/07/2021

Lindelwa Mahlalela, 'n finalejaarstudent in die Diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling van die Skool vir Publieke Leierskap, is gekies as die algehele wenner in die Universiteit Stellenbosch (US) se rondte van vanjaar se intervarsitykompetisie vir entrepreneursontwikkeling in hoëronderwys.

Die US se interne rondte van hierdie kompetisie is vanaf 17 Mei tot 19 Junie deur die LaunchLab en die Kantoor van die Viserektor: Navorsing aangebied en het studente-entrepreneurs die geleentheid gebied om met innoverende besighede of besigheidsidees vorendag te kom.

Mahlalela het haar onderneming, LeeConnect, in die kategorie Bestaande Besigheid – Sosiale Impak ingeskryf. LeeConnect stel hom ten doel om benadeelde leerders die geleentheid te gee om hul studies voort te sit, asook om hulle die nodige ondersteuning te gee wanneer hulle by tersiêre instellings studeer. Dit bied dienste wat jongmense met universiteits-, kollege- en beursaansoeke help, sowel as met loopbaanvoorligting en mentorskap. Die maatskappy bied ook ekstra klasse aan waar hulle leerders help om hul punte te verbeter.

Mahlalela sê sy het vir die kompetisie ingeskryf omdat dit vir haar 'n wonderlike geleentheid was om haar passie ten toon te stel.

“Ek is passievol oor onderwys, My doel is om mense wêreldwyd op te voed om in hulself te glo, hul drome na te streef en hul studie voort te sit. LeeConnect is in 2018 gestig nadat ek 'n jong meisie ontmoet het wat haar matriek met vlieënde vaandels geslaag het, maar geen idee gehad het wat 'n e-posadres is nie. Ek het die behoefte raakgesien om jongmense in landelike gebiede te leer en by te staan om by tersiêre instellings aansoek te doen, omdat hulle nie aan die nodige inligtings- en tegnologiese vooruitgang blootgestel word nie.

“Toe ek LeeConnect op die been bring, het ek besef dat ek betrokke wil wees by die verandering wat ek in my gemeenskap wil sien. Die ervaring het my gehelp om my leierskap- en kommunikasievaardighede op te skerp. Ek is goed daarmee om met mense te werk, hulle te bemagtig en te inspireer. Om ander te lei om saam te werk om hulself en hul gemeenskappe te verbeter, verskaf my baie trots en vreugde. Ek glo dat kennis nutteloos is wanneer ons dit vir onsself hou, maar dat kennis mag het wanneer ons dit met ander deel."

LeeConnect het onlangs 'n vennootskap aangegaan met Dingaan Letjane (24), 'n finalejaarstudent in Inligtingstegnologie en Sagteware-ontwikkeling aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Hy is die stigter en skepper van 'n toep met die naam UniAPS.

“Die toep stel leerders in staat om die kursusse en universiteite waarvoor hulle kwalifiseer, te identifiseer. Hulle ontvang ook inligting oor ons diens om hulle met die aansoekproses te help," verduidelik Mahlalela.

Sy sê die Diplomaprogram in Volhoubare Ontwikkeling het haar entrepreneursvermoëns opgeskerp en haar die vertroue gegee om LeeConnect te begin.

“In my eerste jaar het ek baie geleer oor die belangrikheid van selfrefleksie. Ek het 'n ongelooflike ervaring gehad toe ons 'n taak gekry het om met besigheidsidees vorendag te kom wat verband hou met een of meer van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte. Spanwerk was verpligtend en ek glo dit het my uit my gemaksone gedwing en my gehelp om by verskillende situasies aan te pas. Al dié praktiese leerervarings het tot my entrepreneurskap bygedra.

“Die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling is 'n besondere geleentheid vir voornemende sosiale entrepreneurs, omdat dit jou voor uitdagings stel om sekere persepsies af te leer, nuut te leer en jou tot lewenslange leer te verbind."

Mahlalela het haar ma, Thobile Hlatshwayo, geloof as die krag en inspirasie agter LeeConnect.

“My ma het nog altyd my drome gesteun. Die waagkapitalis en entrepreneur Vusi Thembekwayo het een keer gesê: 'Kry iemand om uitnemendheid in jou raak te sien wanneer jy nie uitnemendheid in jouself raaksien nie'. Daaardie iemand in my lewe is my ma."

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het Mahlalela gelukgewens met haar prestasie.

“Dis 'n baie opwindende projek. Dit is besonder moeilik vir leerders om hul pad in die hoëronderwyssektor – en die inligting wat hulle nodig het – te vind. Lindelwa se toep sal hulle help om daardie inligtingsgaping te oorbrug. Ons wens haar alle sukses toe vir die volgendte ronde."

Mahlalela sal die US in Augustus in die streeksrondte van die kompetisie verteenwoordig, waar sy met die wenners van ander universiteite sal meeding.

Indien sy as streekswenner aangewys word, sal sy deurdring tot die nasionale eindstryd in November. As sy daar as wenner uit die stryd tree, kan dit haar die prysgeld van R100 000 besorg​.

  • ​Foto verskaf