Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se prof Pumla verskyn in film ter viering van Dalai Lama se verjaardag
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/07/2021

Prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het twee jaar gelede aan 'n gesprek met die Dalai Lama oor kwessies soos Ubuntu, deernis, interverbinding en transformasie deelgeneem. Hierdie gesprek, wat deur die neurowetenskaporganisasie, Mind and Life-instituut, gereël en regstreeks per stroomuitsending uitgesaai is, is onlangs (6 Julie) as 'n film vrygestel ter viering van die Dalai Lama se 84ste verjaardag.

Die film, getiteld Evolution of the Heart, is deur die Mind and Life-instituut ontwikkel en ondersoek vrae wat die kern van menswees uitmaak, soos byvoorbeeld: Kan ons bewustelik geleidelik ontwikkel om meer welwillend en deernisvoller te wees? Hoe versoen ons die behoeftes van die individu met dié van die samelewing? en Wat maak ware vergifnis moontlik?

Volgens Gobodo-Madikizela organiseer die genoemde instituut al vir meer as dertig jaar gesprekke tussen die Dalai Lama en neurowetenskaplikes. Dit was egter die eerste keer dat die instituut gesprekke in persoon met die Dalai Lama in sy woning in Dharamsale, Indië gereël het.

Sy sê dit was baie spesiaal om uitgenooi te word om aan die gesprek met hom deel te neem.

“Dit was 'n wonderlike eer om die US se vlag op die wêreldverhoog waar die Damai Lama beweeg, te laat wapper. Dit was vir my baie interessant dat die instituut my uitgenooi het. Dit is heel onverwags dat Mind and Life, een van die voorste neurowetenskaporganisasies, in Ubuntu sou belangstel."

Gobodo-Madikizela het in haar gesprek met die Dalai Lama oor Ubuntu gepraat en oor hoe dit die grondslag vir genesing en versoening ná apartheid gelê het, terwyl nog 'n gespreksgenoot, prof David Sloan Wilson van die Evolusie-instituut en die Binghamton-universiteit in New York, gefokus het op hoe evolusionêre wetenskap in die rigting van altruïsme en prososialiteit (gedrag wat ander mense bevoordeel) beweeg.

“Ek het die konsep van Ubuntu aangebied as 'n etiek gegrond op die begrip dat 'n mens se subjektiwiteit onlosmaaklik met dié van ander in jou gemeenskap verweef is. Ek het aan hom verduidelik dat uit die perspektief van Ubuntu, alle mense as deel van die menslike gemeenskap en as waardig om erken te word, gewaardeer word. Dit behels nie die blindelingse aanvaarding van ander ongeag van wat hulle doen nie, maar is eerder 'n oriëntasie van openheid teenoor ander en 'n wedersydse omgee vir die mensheid van die ander persoon.

“Hoewel die rol van die individu erken word, dra Ubuntu 'n mens se sin van integriteit en verantwoordbaarheid op 'n manier oor wat 'n sin van solidariteit met ander in jou gemeenskap aanmoedig. Ubuntu maak omgee en besorgdheid oor die welstand van ander moontlik. Dit is uiters belangrik om 'n sin van verantwoordbaarheid te skep indien ons vreedsaam wil saamleef en om waardes wat respek vir menswaardigheid versterk, aan te moedig."

Gobodo-Madikizela sê hierdie onderwerpe is belangrik vir ons land gegewe die toenemende voorkoms van geweld, rassekonflik in ons skole en ander soorte onverdraagsaamheid teenoor diegene wat anders as ons is.

“Deur ander oor die praktyk van Ubuntu te leer, kan 'n geleentheid wees om respekvolle begrip op 'n manier te ervaar wat verder strek as om bloot net meer van diversiteit te leer. Steve Biko word daarvoor onthou dat hy Suid-Afrikaners uitgedaag het om agente van sosiale geregtigheid te word en om aan Suid-Afrika 'n 'meer menslike gesig' te gee. Hy het die strewe na sosiale geregtigheid – 'n belangrike kwessie vir die US – as 'n 'strewe na ware menslikheid' beskryf, 'n strewe, het hy geredeneer, om aan Suid-Afrika 'die grootste geskenk moontlik – 'n meer menslike aangesig – te gee'."

Volgens Gobodo-Madikizela vergestalt die waardes van Ubuntu wat sy in haar gesprek met die Dalai Lama bespreek het, ook sommige van die US se waardes.

“Dit sluit die gebruik van respek vir die menswaardigheid van ander en om verantwoordbaar teenoor jouself en ander in ons gemeenskap te wees, in. Dit is deel van ons kernwaardes en hulle dui op hierdie idee om daarna te strewe om ʼn positiewe invloed te wees."