Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US medeborg van nuwe Nature Africa-navorsingspublikasie
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 07/07/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) is medeborg van ʼn nuwe aanlyn-tydskrif wat verslag doen oor wetenskaplike navorsing en kwessies oor wetenskapbeleid regoor Afrika. Nature Africa is deur Springer Nature van stapel gestuur en sal navorsing dek wat die grootste impak oor die hele vasteland maak en dit deur dié tydskrif aan wetenskaplikes en besluitnemers in en buite Afrika kommunikeer.

Naas nuusberigte en navorsingshoogtepunte, sal Nature Africa ook artikels, opiniestukke en kommentare publiseer. Die publikasietale is Engels en Frans.

Die aanlyn-tydskrif sal die aandag vestig op Afrika-navorsing wat groei en ontwikkeling regoor die vasteland dryf. Dit is egter nie ʼn eweknie-beoordeelde tydskrif nie en sal nie primêre navorsingsartikels vir publikasie oorweeg nie.

Nature Africa sal ʼn tuiste wees vir navorsers van alle loopbaanvlakke in verskillende dissiplines. Dit sal die navorsingsdiskoers bevorder en gesprekke oor wetenskaplike prestasies moontlik maak deur ʼn plek te bied waar idees gevier, uitgedaag, gekritiseer en op voortgebou kan word.

Joernaliste en navorsers sal ʼn verskeidenheid artikels skryf oor onderwerpe wat relevant is vir Afrika en sodoende breër kwessies aanspreek.

Die US is een van ʼn konsortium van vennote wat die tydskrif finansieel ondersteun, tesame met die universiteite van Kaapstad (UK), Johannesburg (UJ), Pretoria (UP), die Witwatersrand (Wits) en KwaZulu-Natal (UKZN).

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering aan die US, het gesê die Universiteit is trots om deel te wees van die stigting van Nature Africa. “Die Universiteit Stellenbosch se visie is om ʼn toonaangewende navorsingsintensiewe instelling vir hoër onderwys in Afrika te wees. En hierdie samewerking sluit aan by daardie visie. Ons sien daarna uit om te sien hoe Nature Africa die voorste navorsing wat ons kontinent lewer, in die kollig stel."

Akinlabi Kazeem Jimoh, hoofredakteur van Nature Africa, het gesê: “Ons doel met Nature Africa is om wetenskap in Afrika en die wetenskaplikes wat bydra tot die oplossing van plaaslike en wêreldwye probleme voorop te stel, terwyl ons ook die uitruil van wetenskaplike kennis oor die hele vasteland bevorder. Ons hoop om deel te wees van die verhaal oor Afrika se groei – iets wat dikwels nie die nodige aandag kry nie."

Magdalena Skipper, hoofredakteur van Nature, het bygevoeg: “Ek is verheug dat ons deur die bekendstelling van Nature Africa kan help om die belangrikste en mees relevante navorsing uit Afrika bekend te maak en in konteks te plaas. Ons hoop dat hierdie nuwe platform ʼn waardevolle bron vir navorsers in Afrika en in die buiteland sal wees, en ons verwelkom terugvoer en voorstelle om dit te verbeter."

  • Nature Africa se inhoud is gratis beskikbaar by https://www.nature.com/natafrica. Nature Portfolio het alleen verantwoordelikheid vir alle redaksionele inhoud.​