Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Befondsing help US om industriekoste van navorsingsproteïene te sny
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 06/07/2021

Die Universiteit-tegnologiefonds (UTF) en INNOVUS (Universiteit Industrie-interaksie en Innovasie-maatskappy van die Universiteit Stellenbosch) het onlangs befondsing beskikbaargestel aan navorsers by die Universiteit Stellenbosch (US) om te help met die ontwikkeling van bekostigbare rekombinante proteïene vir akademiese en industriële navorsing, wat daarop gemik is om moontlike oplossings te vind om dringende globale gesondheidsprobleme aan te spreek.

Om relevante navorsing te kan doen oor sekere gesondheidskwessies, benodig navorsers genoegsame hoeveelhede van spesifieke soorte proteïene om in laboratorium-gebaseerde eksperimente te gebruik. US-navorsers het moontlik 'n oplossing vir hierdie probleem gevind – nie net vir navorsers in akademiese opsette nie, maar ook vir industrie.

Op 'n toenemende vlak wend navorsers hulle tot biologiese genome en rekombinante proteïene in die soeke na oplossings vir globale gesondheidskwessies, soos byvoorbeeld antibiotikumweerstandigheid, globale pandemies of siektes soos kanker.

Die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van genoegsame hoeveelhede van die spesifieke soort proteïene om in hierdie laboratorium-gebaseerde eksperimente te gebruik is die algemeenste struikelblok op hierdie navorsingsgebied. Befondsing wat onlangs van die UTF en INNOVUS kan help om hierdie probleem aan te spreek.

Die bedrag wat vir navorsing aan hierdie projekte toegeken is, beloop R495 000, en die befondsingtydperk strek oor twaalf maande.

Waarvoor die befondsing gebruik sal word

Om hierdie tekort aan spesifieke proteïene aan te spreek, ontwikkel dr Du Preez van Staden, in samewerking met die Departement van Mikrobiologie en die Afdeling Kliniese Farmakologie, 'n robuuste bakteriële heteroloë proteïen-uitdrukkingstelsel om moeilik-bekombare proteïene te vervaardig wat waardevolle bioaktivering teweegbring deur middel van fluoresserende fusie-gebaseerde tegnologie.

Die projek vind plaas onder die gesamentlike toesig van prof Carine Smith (Afdeling Kliniese Farmakologie) en prof Leon Dicks (Departement Mikrobiologie, Fakulteit Wetenskappe).

Heteroloë-uitdrukking bied die moontlikheid van ensiem-produksie met 'n hoë opbrengs en 'n afskeiding van die produk in die kultuur-medium.

"Hierdie proses verlaag die koste en verkort die tyd wat dit neem om hierdie proteïene op 'n industriële skaal te vervaardig," sê Smith.

"Hierdie rekombinante proteïene word gebruik in verskeie navorsingsgebiede, insluitende mediese wetenskap, en is absoluut noodsaaklik in verskeie laboratorium-tegnieke soos byvoorbeeld ELISA, western klad en immunohistochemie," voeg Van Staden by.

'ELISA' verwys na ensiem-verwante immuno-essaïs en is 'n laboratoriumtoets in algemene gebruik om teenliggame in die bloed te bespeur. 'n 'Western klad' verwys na 'n laboratorium-metode wat gebruik word om spesifieke proteïene se molekules op te spoor binne 'n proteïenvermenging.  'Immunohistochemie' verwys na 'n laboratorium-metode wat teenliggame gebruik om te kyk of daar sekere antigene voorkom in 'n weefselmonster.

"Die proses van heteroloë uitdrukking plaas nuwe gene in 'n mikrobe om 'n proteïene te vervaardig en dit verg 'n redelike vlak van vaardigheid, noukeurigheid, toerusting en ervaring om effektief te kan bewerkstellig," volgens Van Staden. "Nie alleen verg hierdie proses baie insette van die navorser nie, maar dit is gewoonlik ook slegs die toepassing/gebruik van hierdie proteïene wat van werklike navorsingsbelang of – waarde is."

Waarom die ontwikkeling van hierdie rekombinante proteïene so belangrik is

Van Staden meld dat hierdie rekombinante proteïene onder andere in die ontwikkeling van bioterapie gebruik word, wat aangewend kan word om siektes soos kanker, diabetes, outo-immuunsiektes en mikrobiale infeksies te behandel.

"Die suksesvolle vervaardiging van hierdie proteïene is die noodsaaklike eerste stap vir navorsing en ontwikkeling, asook die uiteindelike kommersialisering van hierdie produk. Deur navorsers toegang te verskaf tot bekostigbare rekombinante proteïene sal hulle daartoe in staat stel om hulle navorsing voort te sit sonder om hoë kostes aan te gaan," sê Van Staden.

Die produksie van hierdie proteïene sal ook nie net van belang wees vir navorsers nie, maar ook vir industriële vennote, wat ook daartoe in staat sal wees om hulle navorsing te bespoedig. Die afdeling verskaf ook konsultasie – en laboratoriumdienste, wat van waarde kan wees vir beide akademiese en industriële navorsers.

"Met ons kundigheid kan ons hulle help met hulle behoefte aan rekombinante proteïene-produksie, wat hulle daartoe in staat sal stel om vinniger weer op hulle navorsing te fokus," voeg Van Staden by.

"Die befondsing wat deur die UTF verskaf is, is 'n hupstoot in die rigting van beter rekombinante tegnologie, en sal ons ook help om ons kapasiteit te vergroot om rekombinante proteïene te vervaardig, en om konsultasie- en laboratorium dienste te bied aan navorsers," volgens Van Staden.