Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale erkenning vir US-fisioloog
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/07/2021

​Prof Kathy Myburgh, uitgelese professor en bekleër van die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Integrale Skeletspier Fisiologie, Biologie en Biotegnologie by die Universiteit Stellenbosch, is onder 'n uitgesoekte groep fisioloë vanoor die wêreld wat tot Genote van die International Union for Physiological Sciences​​ (IUPS) verkies is.

Met drie voormalige Nobelpryswenners wat as eregenote verkies is, vorm die 30 Genote die intreelede van die nuutgestigte IUPS Akademie van Fisiologie.

Die IUPS, wat in 1889 gestig is, is die enigste organisasie om die fisiologiese wetenskappe op internasionale vlak te verteenwoordig. Tans is die nasionale fisiologiese verenigings van meer as 60 lande lede van dié unie.

Volgens 'n mediaverklaring wat deur die IUPS uitgereik is, is die Akademie van Fisiologie in 2021 gestig om fisioloë se belangrike bydraes tot wetenskap en gesondheid te vier. Hierdie eerste groep Genote is verkies op grond van hul “buitengewone bydraes tot die fisiologiese wetenskappe, in die vorm van oorspronklike navorsing of volgehoue uitstekende bydraes tot die vakgebied."

Prof Myburgh se navorsing in die Departement Fisiologiese Wetenskappe poog om die gaping te oorbrug​ tussen 'n in-diepte begrip van die biologiese effek van trauma, die gevolglike immuunresponse en prosesse wat spier-spesifieke stamselle behels. Hierdie biologie is onderliggend aan die welbekende herstelvermoë van spiere na beserings. In haar navorsingsgroep bestudeer nagraadse studente en nadoktorale genote die skeletspier op drie komplementerede vlakke: die hele liggaamsfisiologie van werklike mense, die sellulêre en molekulêre biologie van weefsel en selle in kulture, en biotegnologie vir manipulasie en herstel. Hierdie multi-gelaagde kombinasie van spesialisvelde is uniek in Suid-Afrika, en buitengewoon wêreldwyd.

Prof Myburgh sê sy voel werklik geëerd om op hierdie manier tot fisiologie as vakgebied by te dra: “Ek sien uit daarna om saam met hoogs gerespekteerde eweknieë te werk, waaronder diegene wat reusebydraes tot die vakgebied gemaak het."

In haar loopbaan het sy reeds verskeie​ wesenlike bydraes tot die vakgebied gemaak: “Die laaste hoofstuk van my doktorale tesis is al 312 keer aangehaal. Dit was die eerste aanduiding dat lae beendigtheid onderliggend is tot stressfrakture in andersins gesonde atlete," onthou sy.

Meer onlangs het haar navorsingsgroep bygedra tot die ontdekking dat sirkulerende selblasies as biologiese kommunikeerders tussen selle, weefsel en organe funksioneer: “Die eerste artikel van my navorsingsgroep oor hierdie onderwerp is sedert 2018 reeds 23 keer aangehaal. Op grond van dié artikel is ek uitgenooi om by te dra tot 'n riglyne-artikel wat die afgelope drie jaar reeds 1 967 keer aangehaal is. Ons is tans besig met nog meer komplekse werk: assessering van spierstamselle se samesmeltingsproses ('n proses wat nodig is vir spierherstel); asook evaluering van die genetiese vrag wat in selblasies en plasma gedra word nadat 'n spier beskadig is," verduidelik sy.

Prof Myburgh is 'n verkose lid van die Wetenskapsakademie van Suid-Afrika (Assaf) en 'n Genoot en Raadslid van die Suid-Afrikaanse Koninklike Vereniging. Sy het 'n lang geskiedenis in die Fisiologievereniging van Suid-Afrika as 'n gereelde deelnemer, twee termyne as president, en wenner van die Senior Navorser Toekenning vir Uitsekende Fisiologienavorsing, en meer onlangs, erelewenslidmaatskap. Oor die verloop van haar loopbaan is haar werk reeds meer as 6 000 keer aangehaal en spog sy met 'n H-indeks van 33.

Nog drie fisioloë vanaf Afrika is as Genote verkies. Hulle is prof Amal Saeed van die Universiteit van Khartoum in Soedan, prof Antony Ebeigbe van Nigirië en prof Gavin Norton van die Universiteit van die Witwatersrand.