Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maatskaplike werkers help kwesbare huishoudings met finansiële welstand
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/06/2021

​Maatskaplike werkers bied talle waardevolle dienste aan die samelewing, veral aan diegene wat in nood verkeer. Een van hierdie dienste is om kwesbare huishoudings te help om hul finansies beter te bestuur, beheer te neem van hul inkomste en om finansiële welstand te bereik.

Dit is een van die hoofbevindinge van 'n nuwe studie wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is.

“Arm Suid-Afrikaners het dikwels beperkte toegang tot betroubare, veilige en gerieflike finansiële dienste. Maatskaplike werkers help deur middel van verskeie intervensies om die finansiële vermoëns van kwesbare huishoudings te fasiliteer sodat hulle finansiële welstand kan bereik," sê dr Ntobeko Bambeni, 'n bestuurder in maatskaplike werk by die departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Hy het onlangs sy doktorsgraad in Maatskaplike Werk aan die US behaal.

As deel van sy studie het Bambeni maatskaplike werkers, opsieners en beleidsbestuurders in maatskaplike werk ondervra om 'n beter begrip te kry van hoe maatskaplike werkers die ontwikkeling van kwesbare huishoudings se finansiële vermoëns fasiliteer. Finansiële vermoë is die kombinasie van kennis, vaardighede, ingesteldhede en gedrag wat iemand nodig het om gesonde finansiële besluite te neem ten einde finansiële welstand te bereik.

Volgens Bambeni sluit die oorsake van finansiële kwesbaarheid die misbruik van maatskaplike toelaes, verslaafde sosiale gedrag, gewetenlose geldskieters, ongeletterdheid en armoede in. Hy voeg by dat kwesbare huishoudings nie altyd oor kennis van finansiële produkte beskik wat deur die formele én informele finansiëledienste-instellings aangebied word nie.

Bambeni sê sy studie toon dat maatskaplike werkers gehelp het om finansiële vermoëns deur hul rol as opvoeder, kampvegter, kommunikeerder, instaatsteller en onderhandelaar te fasiliteer. Hulle meng hierdie vaardighede in maatskaplike werk wat hulle op universiteit aangeleer het, met hul finansiële kennis wat hulle persoonlik opgedoen het.

“Maatskaplike werkers skep deur uitreikingsprogramme in die gemeenskap bewustheid oor die doelwitte van maatskaplike toelaes en hoe om te verseker dat hulle vir die bestemde doelwitte aangewend word sodat begunstigdes optimaal voordeel daaruit sal trek vir hul volhoubare psigososiale en finansiële welstand. Hulle leer ook vir mense wat 'n lae inkomste verdien, die basiese finansiële konsepte en die toepassing daarvan in die finansiële sektor. Dit sluit die opstel van 'n begroting, spaar en krediet in.

“Maatskaplike werkers gee vir hulle raad oor die doelmatige en doeltreffende finansiële bestuur van hul huishoudelike inkomste. Hulle lig hulle ook in oor beskikbare ekonomiese geleenthede en finansiële produkte wat deur formele en informele finansiëledienste-instellings aangebied word sodat hulle ingeligte besluite kan neem om die beste finansiële produkte vir hul spesifieke finansiële omstandighede te kies.

“Die raad wat die maatskaplike werkers gee, het ten doel om lae inkomste te komplementeer, om die negatiewe uitwerking van armoede te versag en om mense te motiveer om finansieel aktief te word en nie net op maatskaplike toelaes te staat te maak nie."

Volgens Bambeni beskerm maatskaplike werkers ook kwesbare begunstigdes van maatskaplike toelaes teen moontlike finansiële uitbuiting deur versorgers, kruideniershandelaars, gevolmagtigdes en gewetenlose geldskieters.

“Die maatskaplike werkers onderhandel namens hulle vir redelike skuldterugbetalings, of meld geldskieters wat nie wil saamwerk nie, aan by die polisie."

Hy voeg by dat maatskaplike werkers kwesbare huishoudings in staat stel om finansieel bekwaam te word deur die implementering van aksieplanne te monitor wat daarop gemik is om finansiële bekwaamheid te bereik.

Ondanks die sukses en doeltreffendheid van die intervensies, het maatskaplike werkers nog meer ondersteuning nodig om hul vaardighede en kennis oor die fasilitering van finansiële vermoëns te verbeter, sê Bambeni.

Hy voeg by dat die departement van Maatskaplike Ontwikkeling en tersiêre inrigtings maatskaplike werkers met vaardighede in finansiële bestuur en die ontwikkeling van finansiële vermoëns moet toerus deur indiensopleiding en deur die ontwikkeling van finansiële vermoëns by die maatskaplike werk-kurrikulum in te sluit.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Ntobeko Bambeni

Departement Maatskaplike Ontwikkeling

E-pos: ntobeko.bambeni@webmail.co.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za

 

 

 

 

​