Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USjeugdag: 'Staan vas in jou waarheid'
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 18/06/2021

Karlize Korf, 'n vyfdejaar mediese student, sing al vyf jaar lank in die Universiteit Stellenbosch (US) Koor. Sy sê mense moet nooit toelaat dat hul omstandighede en realiteit hul waarheid ondermyn nie.

Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteitskoor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

Karlize het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:  

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

Ek kom van Pretoria en was in Afrikaans Meisies Hoër. Ek het die Universiteit Stellenbosch gekies omdat ek graag in die koor wou sing. Ek het in my matriekjaar 'n oudisie gedoen en is al sedert my hoërskooldae 'n fan van die koor.

Wat geniet jy die meeste van die koor?

Om eerlik te wees, is dit om te beleef hoe André 'n hele kooroefening in die vorm van 'n vertoning aanbied. Hy maak die meeste dinge 'n belewenis, ek verwonder my aan hom.

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense? 

My boodskap aan die jeug is dat elke mens hul realiteit van hul waarheid behoort te onderskei. Ons werklikheid kan dikwels vreesaanjaend wees, soos wat ons almal dit reeds gesien en ervaar het. Maar ons werklikheid is nooit ons waarheid nie. Herontdek jou waarheid en staan vas daarin. 

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik? 

Tans is dit een van ons koorstukke, “Sogno di Volare". Ek sing dit opera-styl in my motor terwyl ek bestuur.