Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USjeugdag: ‘Gryp universiteitsloopbaan aan as geleentheid om te leer en te groei’
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 14/06/2021

Caitlin Laing, 'n derdejaar BA Regte-student, sê wanneer studente hul universiteitsloopbaan as 'n holistiese groei- en leerervaring aangryp, kan dit hul lewe verander.

Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteit Stellenbosch se koor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

Caitlin het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

Ek kom van Oos-Londen, en ek is besig met my derdejaar-BA Regte. Ek en Sinomtha Zake (wat ook deel van hierdie Jeugdag-projek is) het saam met ons musiekonderwysers op hoërskool daarvan gedroom om in die Universiteit Stellenbosch Koor te sing. Ons was verheug toe ons weer herenig is nadat ons albei in ons tweedejaar by die koor aangesluit het.

​Wat geniet jy die meeste van die koor?

Om in die koor te sing verg intense dissipline en baie opofferings. Die beste deel is wanneer al die harde werk vrugte afwerp tydens 'n uitvoering wat ons net soveel soos ons gehoor aanraak – wanneer die atmosfeer wat ons stemme skep, amper tasbaar word en wanneer die koor en die gehoor almal meegevoer word na 'n wêreld wat net musiek kan skep.

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?

Te midde van al die druk en spanning van universiteitslewe, is my boodskap van hoop aan ander jongmense dat ons nie in beheer is nie. Ons lewens was nog nooit so onvoorspelbaar soos nou nie, maar as ons ons perspektief 'n bietjie verskuif, is daar soveel vreugde te vind in die onsekerheid. En of ons studies ons passie is, of bloot die manier om 'n ander doel te bereik, het ons die geleentheid om ons studentelewe as 'n holistiese groei- en leerervaring aan te gryp – dit opsigself is 'n lewensveranderende geleentheid.  

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?

My gunstelinglied is 'n verwerking van “Amazing Grace" deur For King and Country, waarin Rebecca St. James ook sing. Dit is regtig 'n lied vol hoop.