Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW bring hulde aan kollegas en studente wat gesterf het
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 03/06/2021

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs ʼn gedenkdiens gehou en bome geplant om eer te betoon aan die 19 kollegas en studente wat die afgelope jaar gesterf het.

“Dit is ʼn geleentheid om hulde te bring, te reflekteer, en erkenning te gee aan die bydraes wat gemaak is deur ons personeel en studente wat die afgelope jaar gester het," het prof Nico Gey van Pittius, FGGW Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisasie gesê. Hy was die seremoniemeester by die geleentheid. Aan die hand van Covid-19-beperkings was daar slegs ʼn klein aangesig-tot-aangesig seremonie gehou wat via ʼn lewendige stroomuitsending aan mense aanlyn uitgesaai is.

“Vorige jare was die gedenkdiens ʼn klein geleentheid, maar verlede jaar was ʼn jaar soos geen ander," het die FGGW dekaan, prof Jimmy Volmink gesê ten opsigte van die hoë aantal personeel en studente wat die afgelope jaar gesterf het.

Volmink het opgemerk dat Covid-19 ʼn beduidende rol gespeel het in die hoë aantal sterftes onder kollegas en studente, baie van wie aan Covid-19 gesterf het, en ander wat indirek deur die siekte en die pandemie geraak is.

“Ek dink vir so lank as wat ons lewe sal ons nooit hierdie tydperk vergeet nie. Vandag wil ons die tyd neem om na te dink oor ons kollegas en studente wat die afgelope jaar gesterf het," het Volmink gesê.

Tydens die geleentheid het nabye kollegas ʼn huldeblyk aan elk van die oorledenes betoon.

As ʼn blywende aandenking is ʼn aantal bome rondom die sportvelde en die buitelug gimnasium op die Tygerberg-kampus geplant. Elkeen van die bome is toegewy aan ʼn student of personeellid wat gesterf het, en daar sal ʼn gedenkplaat met die naam van die persoon aan wie dit opgedra is geplaas word.

“Hierdie bome word geplant ter herinnering aan die kollegas en studente wat ons die afgelope jaar verloor het. Ons plant dit hier by die sportvelde en buitelug gimnasium sodat studente dit kan sien en geniet," het prof Bob Mash, uitvoerende hoof van die Departement Huisartskunde en Noodgeneeskunde, asook die voorsitter van die FGGW se Dekaan se Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid (DACES) gesê tydens die boomplantseremonie wat ʼn week voor die gedenkdiens gehou is.

Die bome, wat prof Anton Doubell, hoof van die Afdeling Kardiologie gekweek en geskenk het, dien ook as ʼn teenwig vir die fakulteit se koolstof-vrystelling, het Mash gesê.

Tydens die gedenkdiens en boomplantseremonie is eerbewys aan die volgend personeel en studente van die FGGW betoon:

  • Me Annelien Buys van FEDICS
  • Me Georgina Nentsa van FAMCRU
  • Mnr Riaan Rowan van die Desmond Tutu TB-sentrum
  • Prof Lungile Pepeta, ʼn PhD-student by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid
  • Dr Alwyn Louw van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderrig en koshuishoof by Nkosi Johnson
  • Dr Reynard Knoetze van die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg
  • Me Noludwe Mabandlela van die Desmond Tutu TB-sentrum
  • Me Celeste Rosant van die Afdeling Menslike Voeding
  • Dr Graeme Jacobs van die Afdeling Geneeskundige Virologie
  • Me Samantha Stander, ʼn finale jaar MBCHB-student
  • Prof Birhanu Ayele van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek
  • Prof Johan Dempers van die Afdeling Geregtelike Geneeskunde
  • Me Evelyn Fielies van die Desmond Tutu TB-sentrum
  • Mnr Kelvin Lebuso van Besigheidsbestuur
  • Prof Jan Lochner, ʼn afgetrede Dekaan van die FGGW
  • Mnr Malizo Ngxono van die Departement Psigiatrie
  • Mnr Dirk Theart van Fasiliteitsbestuur
  • Me Millicent Motileng van die Afdeling Kliniese Farmakologie
  • Me Noma Simangala van die Instituut vir Lewensloop Gesondheidsnavorsing