Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Kling steeds bedrywig na aftrede
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 25/05/2021

Professor Sharon Kling van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid tree binnekort af – maar daar is nog geen teken dat sy briek aandraai nie.

Inteendeel, Kling, ʼn medeprofessor en hoof van die Kliniese Eenheid vir Algemene Pediatrie sal na haar aftrede besiger as ooit wees.

Haar aftrede sluit ʼn loopbaan af waartydens sy op verskeie maniere by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) betrokke was – nie net as ʼn pediater en dosent nie, maar ook as ʼn lid van die Vroue Forum, ʼn Gelykheidskampioen en haar belangrike bydrae tot etiek in geneeskunde. Nietemin ook haar rol as versorger van die “wilde" hoenders en katte wat op die Tygerberg-kampus woon, en sy het selfs na hulle omgesien tydens die strengste tydperk van die inperking.

Kling is onlangs as emeritus medeprofessor by die universiteit aangewys en het gesê dat sy gemengde gevoelens het oor haar aftrede. “Om eerlik te wees voel ek nog nie gereed om af te tree nie," het sy gesê. Sy het bygevoeg dat sy deeltyd by die universiteit sal aanbly en dat sy op verskeie maniere nog betrokke sal wees.

“Ek is ook deeltyds by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aangestel om uit te help met voor- en nagraadse onderrig en as studieleier te dien, en afhangend van die befondsing, sal ek ook moontlik etieknavorsing doen by die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg. Maar my grootste taak vanjaar is om my PhD te voltooi wat handel oor kliniese etiese konsultasie en komitees in Suid-Afrika," het sy gesê.

Kling was in die Paarl gebore en het haar hele skoolloopbaan by La Rochelle Meisieskool in die Paarl deurgebring. Sy was ʼn toppresteerder en was baie lief vir wiskunde en wetenskap, en sy was aanvanklik gretig om ʼn loopbaan in suiwer wetenskap na te volg, maar haar oom, Sydney Cywes, die destydse hoof van Pediatriese Chirurgie by die Rooikruis Kinderhospitaal en die Universiteit Kaapstad (UK), het haar aangespoor om geneeskunde te studeer.

Sy het haar mediese graad in 1979 by UK verwerf, en haar Diploma in Kindergesondheid in 1983 voltooi. Dit is gevolg deur haar FCP (Pediatrie) van die Kollege van Geneeskunde van Suid-Afrika in 1987, en ʼn MMed (Pediatrie) van UK in 1993.

In 2008 het sy haar MPhil in Toegepaste Etiek cum laude ontvang by die Universiteit Stellenbosch (US), met ʼn tesis met die titel HIV in the Paediatric ICU – An Ethical Challenge.

Bo en behalwe haar ander pligte is Kling ook die hoof van die Pediatriese Allergie-kliniek. Sy is ʼn lid van die Tygerberg-hospitaal se Kliniese Etiekkomitee en ondervoorsitter van die Voorgraadse Navorsing Etiekkomitee by die FGGW. Sy is ook ʼn voormalige president van die Kollege van Pediaters van Suid-Afrika.

Haar loopbaan het ook internskappe by Groote Schuur-hospitaal en die Rooikruis-kinderhospitaal ingesluit, waaroor sy dol was; twee-jaar as ʼn mediese amptenaar in die Geneeskundige Buitepasiënte Departement by die Rooikruis-kinderhospitaal, gevolg deur haar kliniese assistentskap in pediatrie en kindergesondheid by die Rooikruis en geaffilieerde hospitale, en as senior kliniese assistent het sy by allergiedienste en ontwikkelings pediatrie gewerk. In 1991 het sy ʼn spesialis en daarna ʼn senior spesialis in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die US en Tygerberg-kinderhospitaal geword, en in 2012 is sy as medeprofessor by die US aangestel. Sy is seder 2013 medeprofessor by die US en kliniese eenheidshoof in Algemene Pediatrie.

Sy het ook as ʼn deeltydse dosent vir die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg gewerk; verskeie artikels en boekhoofstukke geskryf; was betrokke by die reël van groot kongresse; en het ʼn aantal toekennings en pryse ontvang.

In terme van hoogtepunte in haar loopbaan, het sy gesê daar was baie. “My betrokkenheid by etiek was ʼn groot liefde, en dit sal voortduur. My ander groot belangstellings is allergie en asma, wat baie geleenthede vir my gebied het. ʼn Groot hoogtepunt was om op die Allergie Vereniging se uitvoerende komitee te dien, en om sekretaris, en toe voorsitter van die vereniging te word. Vroeërjare was allergie beskou as die 'Aspoestertjie' van geneeskunde ... en ek en my kollegas moes hard daaraan werk om erkenning daarvoor te bewerkstellig.

“Nog ʼn hoogtepunt was om verkies te word tot die Raad van die Kollege vir Pediaters van Suid-Afrika in 1999. Ek het drie termyne as sekretaris gedien, en in 2014 is ek as president verkies. In hierdie tydperk het die Kollege van Geneeskunde baie veranderinge aangebring tot die standaarde van nagraadse eksamens oor alle spesialiteite."

ʼn Laagtepunt was in Mei 2013 toe ʼn nabye kollega en mede-pediater, dr Louis Heyns vermoor is. “Sy dood was ʼn yslike verlies wat my persoonlik, asook ons hele departement geraak het," het Kling gesê.

Nog ʼn laagtepunt was Covid-19, wat beteken het dat sy in haar laaste jaar nie op die voorstelinie kon werk nie, want weens haar ouderdom was sy as ʼn hoë risiko beskou. “Ek kon verlangs betrokke raak by die Covid-19-sorgspan om personeel en pasiënte te ondersteun," het sy gesê.

In terme van haar voortdurende belangstelling in etiek, het Kling gesê toe sy aanvanklik by Tygerberg aangekom het as ʼn konsultant in die pediatrie intensiewe sorg eenheid, het sy opgemerk dat die eenheid teen ware kwessies te staan gekom het “veral aangesien daar so min beddens was in daardie tyd. In die vroeë dae van MIV het ons nie toegang gehad tot antiretrovirale middels nie, en moes ons moeilike besluite gemaak het oor die opname van kinders in die intensiewe sorgeenheid."

In 2004 het sy ingeskryf vir ʼn MPhil in Toegepaste Etiek, en sy het haar graad in 2008 voltooi. Dit het daartoe gelei dat sy betrokke geraak het by die Tygerberg-hospitaal se etiekkomitee, asook by die FGGW se Voorgraadse Navorsing Etiekkomitee.

As sy nie werk nie, lees sy graag en sy is lief daar voor om in die natuur te wees. Sy besoek ook graag wildreservate en is lief vir voëlkyk.

As sy terug kyk oor haar loopbaan en haarself afvra of sy als weer sal doen, is die antwoord ʼn dawerende 'ja'.