Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Afrikaanse tesourus die produk van meer as 20 jaar se werk
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/05/2021

“Afrikaans is so lewendig soos nog nooit te vore nie, dit groei, dit bruis en dit knor, dit sukkel, maar dit groei die hele tyd, letterlik elke dag."

Só het die voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum, prof Leon de Stadler, Donderdag (14 Mei 2021) by die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe gesê. Hy het tydens 'n middagete-gesprek met prof Rufus Gouws van die US se departement Afrikaans en Nederlands gesels oor die hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans wat vroeër vanjaar verskyn het. Dit is die eerste hersiene uitgawe sedert 1994, en word uitgegee deur Pharos, 'n druknaam van NB Uitgewers.

De Stadler, ook voorheen verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands, het saam met sy vrou, Amanda, die Afrikaanse tesourus bygewerk. Toe die idee vir 'n Afrikaanse tesourus by hulle posgevat het in die tagtigerjare van die vorige eeu, het hulle baie tesourusse geraadpleeg en uiteindelik op dr L Brouwers en dr F Claes se Het Juiste Woord, die grootste  inventaris van sinonieme, styl- en betekenisvariante, uitdrukkings en teenstellings in Nederlands, as riglyn besluit. Uiteraard moes die onderliggende konseptuele struktuur van die woordeboek wel aangepas word om die Afrikaanse leefwêreld te reflekteer.  Met die hersiening van die tesourus is die struktuur behou, maar die interne organisasie van tesourusartikels is wel vernuwe en verbeter.Leon_Amanda-de-Stadler-Pharos.jpg

Die nuwe uitgawe van die Tesourus van Afrikaans bevat meer as 140 000 inskrywings in 855 betekenisvelde waarvan 20 000 nuwe inskrywings is. Dit het kruisverwysings, idiome, vaste uitdrukkings en ook meer inskrywings uit die variëteite van Afrikaans.

“Sedert die verskyning van die Tesourus in 1994 het die Afrikaanse woordeskat baie sterk gegroei – dink maar aan die woordeskat wat betrekking het op die moderne tegnologie, maar veral ook in die huidige tydvak die pandemiewoordeskat wat die taal verryk het," het De Stadler gesê.

“En die ironie is juis dat die taal elke dag verder groei. Reeds toe die manuskrip op pad na die drukker was, was daar alreeds weer nuwe woorde soos bioborrel, druppeloordraagbaar, superverspreider, afstandskepping, voetgroet, elmboogkug, superverspreidergeleentheid en nog meer wat nie die huidige uitgawe gehaal het nie."

De Stadler het bygevoeg dat dit vir hulle veral lekker was om ook op die variëteite van die taal te kon fokus met die opname van vorme soos annerlik, jits, newwer, newwermaaind, nema, voorlik, omtes, oralster, klossie (kleinhuisie), moewies, habba, piemp, liksens, mouter, skorro-skorro, loslappie, komvandaan, barakat, ottermaklottertjie, boom en koelpatats (dagga), madjat, sjoekran, properse, sterkgevreet (sterkgevriet) (sterk van gees). Daaruit blyk juis die rykheid van die Afrikaanse taalskat, het hy gesê.

​“Dit was belangrik om erkenning aan die variëteite te gee en duidelik te maak dat ons aan hulle aandag moet skenk. Natuurlik moet ons nog meer doen – die meer as 300 inskrywings wat opgeneem is, is maar net ʼn begin."

De Stadler het gesê terwyl hy met die projek besig was, het hy weer bewus geword van Afrikaans as ʼn taal wat lewe. Volgens hom wys die hersiene tesourus juis op dramatiese wyse hoe lewendig die taal is.

“Dit was fassinerend om te sien wat met Afrikaans gebeur het in ʼn tydperk van meer as 20 jaar. Die taal lewe, jy voel heeltyd die pols daarvan, en die hersiene tesourus laat hoor hierdie hartklop in die opname van die meer as 20 000 nuwe inskrywings".

“Enigiemand wat vandag vir jou wil sê Afrikaans is besig om dood te gaan; ek het slegte nuus vir daai persoon. Dit is doodgewoon nie so nie."

De Stadler meen almal wat skryfwerk doen, sal by die hersiene tesourus baat. Hy het egter bygevoeg dat daar ook ander “ruimtes" is waarin die boek gebruik kan word. 

“Dit was veral verblydend om byvoorbeeld te sien dat die boek die aandag van onderwysers getrek het en dat hulle meer wil weet oor hoe dit in die klaskamer gebruik kan word."

De Stadler het gesê hulle is by verskeie geleenthede genooi vir onderhoude met onderwysers om hulle in te lig hoe om die tesourus ten volle te benut tot voordeel van die kinders.

  • Die Tesourus van Afrikaans kos R450 en is beskikbaar by vooraanstaande boekhandelaars asook aanlyn by Takealot en Amazon Books.

Foto: Prof Leon de Stadler (links) en sy vrou Amanda oorhandig ʼn kopie van die Tesourus van Afrikaans aan Philip de Vos, ʼn jarelange ondersteuner van die woordeboek.