Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mashigo wil bewustheid skep van die bloeddiens se belangrike rol
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 20/05/2021

Dr Nomusa Mashigo van die Afdeling Hematologiese Patologie sien haar aanstelling as ʼn onafhanklike lid van die Kliniese Bestuurkomitee van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) as ʼn geleentheid om bewustheid te skep oor die organisasie se werk.

“Gewone mense moet daarvan bewus gemaak word van hoeveel hulle vir die gemeenskap kan doen deur elke paar maande bloed te skenk. Dit neem niks weg van hulle nie, maar dit gee so baie aan ander," het Mashigo in ʼn onderhoud gesê.

Haar aanstelling by die SANBD is vir ʼn termyn van drie jaar vanaf 1 November 2020. Die Kliniese Bestuurkomitee is ʼn toesighoudende liggaam wat al die kliniese aspekte van die bloeddienste oorsien, insluitende die verkryging van instrumente vir bloedoortappings en die opleiding van alle personeel wat vir die bloedoortappingsdienste werk.

Die SANBD is ʼn organisasie sonder winsbejag wat menslike bloed voorsien vir oortapping, en is werksaam in Suid-Afrika, met die uitsondering van die Wes-Kaap Provinsie. Die organisasie het te doel om 3000 eenhede bloed per dag in te samel om veilige en genoegsame bloedtoevoer aan die gesondheidsorgstelsel te voorsien.

Mashigo, wie as ʼn hematologiese patoloog en konsultant vir die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) en ook ʼn senior lektor by die FGGW werksaam is, beskryf haar aanstelling as “ʼn baie opwindende geleentheid".

“Ek is gekies weens my spesialisasie in ʼn veld waarvoor ek baie lief is. Vir my is dit erkenning vir wat ek tot dusver gedoen het. Ek is trots daarop dat ek iemand is wat vertrou word om my veld te verteenwoordig.

“Ek glo dat ek my kundigheid as ʼn hematoloog tot die komitee sal bring, maar terselfdertyd gaan ek baie leer oor bestuur en ander aspekte buite my veld. ʼn Mens kan baie een-dimensioneel raak in ʼn mens se werk, en hierdie taak sal my aan ander dinge blootstel wat tot op hede nog nie op my radar was nie."

Mashigo is oorspronklik van Gauteng en het in 2010 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit, en in 2014 haar spesialisopleiding voltooi.

“Ek het gedink dat ek sou teruggaan Gauteng toe sodra ek spesialiseer, maar dit voel of ek 'aangeneem' is deur die Wes-Kaap. Dit voel nou soos my tuiste."

Sy het die volgende oor haar werk te sê gehad: “Dit is ʼn ongelooflike veld om in te wees. Ek is baie gelukkig dat ek een van daardie mense is wat mal is oor hulle werk. Ek hou van elke aspek daarvan – om bloedmonsters onder die mikroskoop te bestudeer tot al die ander aspekte van die werk. Dit is baie interessant. Ek kan my nie indink om enige iets anders te doen nie."

Die komitee sal vier maal ʼn jaar amptelik ontmoet, en daar sal deurlopende werk en kommunikasie tussen komiteelede wees tussenin hierdie vergaderings.

Mashigo is ʼn enkelma van ʼn veertienjarige dogter, en slaan graag voet wanneer sy nie werk nie.

“Dit is ongelooflik om in die buitelug te wees, en na ʼn lang week by die werk is dit katarties om in die natuur en tussen die fynbos te wees."

Sy is ook baie lief vir lees – “enigiets om die druk te verlig na ʼn lang dag by die werk."

Oor die taak wat voorlê om meer openbare bewustheid te skep oor die bloeddienste het Mashigo die volgende te sê gehad: “Ek het opgemerk dat bewustheid onder die algemene publiek baie laag is. As jy by ʼn komitee soos hierdie aansluit sien jy die impak wat die bloeddienste op mense se lewens het. Die algemene publiek moet baie meer bewus wees van hierdie diens sodat mense aangespoor kan word om altruïsties te wees en bloed te skenk.

“Organisasies soos hierdie is bakens in ons lewens en ons is genoodsaak om dit te ondersteun."


Foto-erkenning: Wilma Stassen