Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘US se benadering tot taal gee studente beter toekoms,’ skryf dr Leslie van Rooi
Outeur: Leslie van Rooi
Gepubliseer: 18/05/2021

Studente aan die Universiteit Stellenbosch het meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms as gevolg van die instelling se benadering tot taal, skryf dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, in ʼn artikel vir Netwerk24 (13 Mei).

  • Lees die artikel soos gepubliseer hier onder.

US se benadering tot taal gee studente beter toekoms

Leslie van Rooi*

Op Maandag, 10 Mei 2021 het bestuurslede van die Universiteit Stellenbosch (US) insette aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gelewer.

Die insette hou verband met enkele klagtes wat die MRK ontvang het wat daarop neerkom dat die US na bewering studente sou verbied het om Afrikaans in ''n sosiale konteks te gebruik.

Die sitting self, die vrae wat gestel is en die inligting wat gedeel kon word, help ons tog om die kompleksiteit en noodsaaklikheid van so 'n sitting te verstaan. Enkele punte wat hiermee verband hou, staan vir my uit.

​Konteks maak saak

Telkens in die sitting het dit weerklink dat konteks saak maak. Om konteks in ag te neem, beteken nie dat persoonlike ervarings nie waar is nie.

Maar dit help ons om te verstaan dat ervarings relatief is tot die spesifieke omstandighede en ook die ervaringe anders as myne. Dit help ons verder om te verstaan wat bedoelings was en wat tot 'n aksie gelei het.

Dit beteken ook dat 'n gebeurtenis hier nie oral en vir ewig waar kan wees nie. Dit kan ook nie sommer maar deurgetrek word na ander gevalle wat kwansuis dieselfde is nie.

Die konteksbril moet ons help om die fyn nuanses te verstaan en in ag te neem. Terselfdertyd moet dit ons help om, binne konteks, die regte seine uit te stuur wat goeie en bevorderlike gedrag tot gevolg sal hê.

Wat word met inklusiwiteit bedoel?

Ter voorbereiding en in die sitting moes ek soos ander weer dink oor wat met inklusiwiteit bedoel word en of ons so inklusief kan wees dat ons selfs kan uitsluit.

Dit is daarom sinvol om te vra wat Suid-Afrikaners met hierdie term bedoel en hoe dit op ons kampusse verwesenlik moet word.  

Ons kies inklusiwiteit as 'n woord wat bepaal dat ons moeite moet doen om mekaar te verstaan, te aanvaar en as gelykes bymekaar te leer. Dit help ons om te verstaan dat ons verskille nie bepaal dat ons apart moet wees nie, maar dat ons mekaar juis nodig het om ons uniekhede te verstaan, te vier en te deel.

Dit help om te verstaan dat ek bepaalde regte het en dat dit nie deur ander ontneem mag word nie. Dit help my veral ook dat my regte en verantwoordelikhede altyd in verhouding tot ander regte – en ander se regte en verantwoordelikhede – moet staan.

Inklusiwiteit is dus nie iets algemeen of passief nie. Dit is ook nie iets eenvoudig of goedkoop nie. Nog minder is dit iets wat veroorsaak dat jy maar altyd by die meerderheid moet aanpas nie.

En net so kompleks soos dit in die Suid-Afrikaanse samelewing is om inklusiwiteit in ons diversiteit uit te leef, so is dit ook op 'n universiteitskampus.

Dit beteken dat ons mekaar telkemale terug na die tafel moet roep om weer te praat en weer te probeer en om mekaar weer te vind. Hierop is die hoop van 'n 'nuwe' Suid-Afrika tog gebou.

En hierdie verstaan van inklusiwiteit is dalk die beste teenvoeter dat die een groep die ander “oorheers". Daarom mag dit nooit tot uitsluiting lei nie.

Hoe doen ons meertaligheid?

Die huidige taalbeleid van die US (2016) asook die voorgestelde hersiene taalbeleid is gebou op die beginsel van meertaligheid. Alhoewel die fokus val op die drie tale wat die meeste gemeenskappe in die Wes-Kaap praat en verstaan, bevestig dit ook die rykheid van ander tale en taalgemeenskappe hier en elders.

Dit vra dat my moedertaal haar plek moet inneem binne die konteks van ten minste twee ander tale. En meer nog. Dat ons moet besef dat ons mekaar soms moet vind en verstaan in 'n tweede of derde taal . En hier sal, veral binne die konteks van leer en onderrig, praktiese uitvoerbaarheid altyd in ag geneem moet word.

Meertaligheid vra ook dat elkeen van ons moeite moet doen om ten minste iets van die leefwêreld van die ander taalgemeenskap te verstaan. Dit sê nie dat ons in alle omstandighede moet kies vir een van die drie tale nie en basta met die res.

Want taal is nie maar net 'n middel van kommunikasie nie. Dit is tog die belangrikste om mekaar te vind en te verstaan. En daarom is dit wonderlik om mekaar se tale te aan te hoor, en waar nodig, na mekaar in 'n gemeenskaplike taal te luister. Dit is iets wat Suid-Afrikaners baie goed verstaan.

Wat verwag 'n universiteitsgemeenskap van studenteleiers?

By 'n universiteit speel studenteleiers 'n groot rol in die bestuur, nie net van studentegemeenskappe nie, maar inderdaad ook van 'n universiteit. Dit is ook die geval by die US.

​Studenteleiers neem binne die kompleksiteite van ons tyd aan bestuur deel. En daarom verloop alles nie altyd reg nie. Maar dis juis deel van die opvoedingsproses.  

En as iets verkeerd verloop, is dit goed dat ons met mekaar moet gesels. En dit is presies wat sedert middel Maart in verskeie US-koshuise gebeur het.

Ons moet praat oor die ervarings en klagtes van studente, ons verstaan die feite, ons vind mekaar. En so herstel ons verhoudings. Dit kom aan die hand van US se gemeenskaplike waardes.

En waar straf ter sprake is, moet dit ten beste iets wees wat herstel, regstelling en momente van leer bring.

Omdat ons studenteleiers toenemend onder sosiale druk is om onder uitdagende omstandighede hul eweknieë te lei en te ondersteun, ondersteun ons hul deur middel van opleiding en begeleiding.

Dat ons mekaar moet help om weer te probeer, te herstel en reg te maak sodat ons saam kan luister, leer en leef, bly 'n belangrike deel van die onderrig en leer by 'n universiteit.

Hoe nou vorentoe?

Afrikaans is een van ons land se amptelike tale. Dit is 'n taal wat in sy verskeidenheid aan die groter en baie diverse Afrikaanse taalgemeenskap behoort. Meer nog, dit is 'n taal wat die ander taalgemeenskappe kan verryk.

Dit is daarom dat die US in gesprek moet bly met ons gemeenskappe van belang soos ander organisasies, vennote en rolspelers wat, soos die US,  saam taaldiversiteit op 'n inklusiewe manier wil bevorder.

As ons hierdie doelwit gemeen het, moet ons mekaar help om dit te bereik.

Dit is daarom veral ook goed dat die US deur die MRK ondervra word. Meer nog, die US is verbind om ook met die MRK 'n pad te stap om meertaligheid binne die konteks van 'n universiteitsgemeenskap met verskeie uitdagings en moontlikhede te bevorder.

Só kan die US sy rol as nasionale bate in diens van die hele land en sy mense nog sterker vervul – juis ook ten bate van jongmense wat hul plek in ons diverse samelewing moet inneem en saam met andere die toekoms moet bou.

Ons is vol vertroue dat die US se studente meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms het as gevolg van ons benadering tot taal.

​*Dr Leslie van Rooi is Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

​