Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Charl Davids
Outeur: Elbie Els / Photographer Stefan Els
Gepubliseer: 18/05/2021

​Charl ​Davids is adjunkdirekteur by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), bestuurder van die SSVO se Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste, sowel as koshuishoof van Huis Visser. Die wete dat hy 'n verskil in studente se lewens kan maak, is wat hom daagliks aanspoor.

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Davids het ons 'n kykie na 'n dag in sy lewe by die Universiteit Stellenbosch (US) gegee.

Wat is jou rol by die US?

Ek bestuur die toekenning van gevalle aan ons sielkundiges en maatskaplike werkers. Ek moet sorg dat studente wat hulp soek met geestesgesondheidsprobleme en maatskaplike kwessies (waaronder voedselonsekerheid) vinnig die nodige bystand kry.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Daar is nie so iets soos 'n tipiese dag nie. ’n Dag kan baie stil en rustig begin, maar eindig met krisisbestuur​. Party dae eindig bitter laat, en ander begin weer in die vroeë oggendure.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het op 1 Februarie 2019 by die US begin werk. Ek het in 2001 as 'n sielkundige aan die Universiteit van Wes-Kaapland gekwalifiseer. My hele lewe het my vir hierdie pos voorberei. Ek is 'n aktivis en was as kind reeds by die apartheidstryd betrokke. Op 'n skrale 11-jarige ouderdom het ek betrokke geraak by die burgerlike beweging in Bishop Lavis, waar ek grootgeword het. My betrokkenheid by die burgerlike beweging, verskeie nieregeringsorganisasies, politieke organisasies en ander strukture het my baie van leierskap en diensbaarheid aan ander geleer. Ek het voorheen as 'n sielkundige by Selfhelp Manenberg, in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, by die Trauma Centre en die Universiteit van Wes-Kaapland gewerk.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Die verskil wat ek in studente se lewens maak. Ek geniet dit ook om personeellede te lei en te bestuur.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Verandering is die enigste konstante in die lewe. My lewens- en werkservaring het my voorberei vir die tye waarin ons nou leef. Die werk wat ek elke dag doen, gaan daaroor om mense te lei om die veranderinge te maak wat hulle nodig het om 'n vol en produktiewe lewe te lei. Dis nie iets wat ek net kan sê, maar nie ook self doen nie. Wat my gemotiveerd hou, is om verby die probleme van vandag te kyk en die moontlikhede van môre raak te sien.

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend wat min mense van jou weet?

Ek is mal oor lewende jazzvertonings, so ek woon soveel moontlik jazzkonserte by. Weens COVID-19 was dít nie die afgelope jaar moontlik nie, maar ek het 'n stewige voorraad regstreekse konserte op DVD om my besig te hou. Familie en hegte vriende is vir my belangrik, so ek ruim doelbewus tyd in om by hulle te wees. En dan kyk ek ook graag sokker.

​