Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Paneel bekyk mediaberiggewing oor pandemie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 13/05/2021

Deskundige paneellede het op 10 Mei 2021 sienings uitgeruil oor die media se beriggewing oor die COVID-krisis gedurende die jaarlikse Wêreldpersvryheidsdag-paneelgesprek van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek. Die tema van die gesprek, wat regstreeks oor YouTube uitgesaai is, was “Daar was ander nuus óók: Die stories wat die media sedert die aanvang van die COVID-19-inperking misgekyk het".

Die paneel het bestaan uit Dele Olojede, Afrika se eerste Pulitzerbekroonde joernalis; Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Afrikaanse nuus by Media24 én van die grootste intekennuusplatform in die land, Netwerk24, en Lister Namumba, bestuurder van monitering-, navorsing- en ontledingsprogramme by Media Monitoring Africa.

Volgens Olojede het die COVID-19-krisis die media se fokus op 'n manier verwring. “Die uitsluitlike klem op die pandemie het veroorsaak dat 'n aantal ander belangrike gebeure wat die samelewing raak, nie aandag ontvang het nie." Hy het as 'n voorbeeld na die regeringskrisis in Suid-Afrika verwys. “Suid-Afrika se vermoë om verstandig en vaardig te regeer op plaaslike vlak, waar die meeste burgers met die regering te doen kry, is chaoties en het geheel en al in duie gestort. 'n Mens sal net gelykheid bewerkstellig as jou plaaslike owerhede regkom, veral sodat hulle plaaslike openbare onderwysstelsels behoorlik kan regeer."

Vir Loubser het die COVID-19-pandemie 'n tweeledige praktiese impak gehad. “Eerstens het minder nuusgebeure plaasgevind as gevolg van die inperking, maar 'n mens kon steeds oor die impak van die pandemie verslag doen. Tweedens is kwessies afgeskeep omdat die pandemie soveel tyd en hulpbronne in beslag geneem het. Sulke kwessies sluit in die eensaamheid van ouer mense, wat selfs meer afgesonderd as die res van die samelewing was, en die lot van mishandelde vroue en kinders, wat nou saam met hulle mishandelaars in beperkte ruimtes vasgekeer was." Sy het bygevoeg dat die media ná die pandemie 'n plig het om hierdie kwessies op die voorgrond te stel, maar ook die aandag te vestig op die positiewe uitkomste van die pandemie, soos mediese deurbrake.

Ook Namumba is getref deur die gebrek aan diversiteit in mediabronne en in die stories waaroor daar gedurende die pandemie verslag gedoen is. “Ja, die pandemie móés mediadekking oorheers, maar daar was ander kernkwessies ook, wat nié soveel aandag ontvang het nie – toenemende geweld teen vroue en kinders, die uitwerking van die pandemie op die geestesgesondheid van kinders en ander Suid-Afrikaners, en dies meer. Daar was nie juis veel kreatiwiteit in hoe die media oor die pandemie berig het nie. Boonop was daar 'n gebrek aan diversiteit in die bronne wat gebruik is – dit was meestal swart Suid-Afrikaanse mans met regeringsbande wat in nuusberigte aangehaal is."

Nietemin is die uitsluitlike klem op die pandemie nie noodwendig 'n ramp nie, het Olojede gesê. “Dit is doodnatuurlik dat 'n gebeurtenis so enorm soos COVID-19 jou aandag van alles anders wegneem. Dit is immers iets wat een keer in 'n leeftyd gebeur en almal se lewens uitmekaargeskeur het. Die media moet net sorg dat hulle die grootste moontlike verskeidenheid stories bied. Berig hulle ook oor die armer gebiede wat moeiliker bereikbaar is, en verwoord hulle verskillende sienings?"

Die US se Joernalistiekstudente het ook die geleentheid as platform gebruik om hulle jaarlikse koerant, LIP, bekend te stel.