Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opgeknapte US Biblioteek sal kan kers vashou by wêreld se beste
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 12/05/2021

​Die uitgebreide opknappings aan die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek is in volle gang en op koers om teen die begin van November 2021 klaar te wees.

Die vernuwings van R20,5 miljoen maak deel uit van die Kampusvernuwingsprojek en voortgesette visuele regstelling op US-kampusse, en sal die Universiteit se uitnemende fasiliteite en infrastruktuur verder uitbrei en sy reputasie as 'n uitnemende navorsingsintensiewe instelling bevorder.

Volgens mnr Siviwe Bangani, direkteur van Navorsingsdienste by die US Biblioteekdienste, sal studente en ander biblioteekgebruikers baat vind by die omvattende en uitnemende steundienste van 'n opgeknapte fasiliteit. “Kliënte kan gerus wees dat hulle deur 'n ultramoderne biblioteek bedien sal word wat nie vir enige ander top-universiteitsbiblioteek in Suid-Afrika óf die res van die wêreld hoef terug te staan nie." Hy voeg by: “Met hierdie opknappings beoog ons ruimtes wat inskakeling en samewerking sal bevorder en die gaping tussen studente se klas- en biblioteekervaring sal oorbrug. Uiteindelik sal die projek die biblioteek strategies met die US se Visie 2040 versoen."

Me Ellen Tise, senior direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, sien uit na 'n meer verwelkomende en gebruikervriendelike ruimte vir studente en navorsers. “Die opgeknapte biblioteek sal met internasionale biblioteektendense strook om studenteleer en navorsing deur kreatiewe en stimulerende ruimtes aan te moedig," sê sy.

Hoewel verskeie opknappings oor die jare aan die binnekant van die biblioteek aangebring is, is daar nooit aan die voorportaal en kleedkamers gewerk nie. Nou kan biblioteekgebruikers onder meer uitsien na 'n voorportaal met wêreldklastegnologie, nuwe eksterne veselinfrastruktuur en 'n opgeknapte meganiese ventilasiestelsel, sê mnr Japie Engelbrecht, Fasiliteitsbestuur se direkteur van Projekbestuur. Die sekuriteitsingang sal verander en die draaihek-ingange nader aan die voordeur geskuif word. 'n Nuwe kliëntedienstoonbank met sowel tradisionele as outomatiese uitleengeriewe word ook beplan. Daarbenewens sal die kleedkamers op die boonste verdieping genderneutraal gemaak word.

Nuwe biblioteekruimtes sal persoonlike interaksie tussen studente en biblioteekpersoneel aanmoedig, terwyl beter leesareas studente se leeservaring sal verbeter, ongeag of hulle vir studie of vermaak lees.

Die opknappings vind in drie fases plaas. Fase 1 (April-Augustus 2021) bestaan uit opknappings aan die kliëntedienstoonbank, reserwetoonbank en verwante personeelwerkruimtes, sowel asook personeelkleedkamers op die boonste verdieping en studentekleedkamers op die onderste verdieping, en die drie lokale-area-netwerk- (LAN-)kamers. In fase 2 (Augustus–Oktober 2021) sal die studentekleedkamers op die boonste verdieping gesluit word vir bouwerk. En in die middelste gedeelte van die boonste verdieping sal nuwe studie- en werkareas geskep, nuwe vloere geïnstalleer en die rekenaarwerkstasies en drukker weer ingestel word. Fase 3 (September–November 2021) geskied in tandem met fase 2 en sal werk aan die ingangsportaal, toegangsbeheer en sekuriteitsarea sowel as die installasie van 'n leesarea langsaan én nuwe werktafels vir studente behels.

​Die biblioteek sal gedurende ál drie opknappingsfases oop wees en voortgaan om kliënte te bedien. Die Universiteit vra studente, navorsers en ander biblioteekgebruikers by voorbaat om verskoning vir enige moontlike ongerief. “Ons maak staat op en waardeer biblioteekgebruikers se geduld en begrip. Ten minste kan kliënte hulle daaraan troos dat as die werk eers klaar is, hulle toegang tot ​wêreldklasruimtes sal hê," sluit Bangani af.

​Vir meer oor die opknappings, klik hier.