Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit bied werksessie aan oor geslagsgebaseerde geweld
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/05/2021

'n Aanlyn werksessie met die titel “Gender-based Violence in Society: Still I Rise!" is onlangs deur die transformasiekomitee van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied.

Geslagsgebaseerde geweld (GGG) is een van die mees algemene menseregteskendings ter wêreld en het geen sosiale, ekonomiese of nasionale grense nie.

In haar verwelkomingsrede het prof Pregala (Solosh) Pillay, Visedekaan: Sosiale Impak en Transformasie, gesê die tema van die werkssessie is tydig, aktueel en kontemporêr.

“Ons het 'n toename in geslagsgeweld tydens die COVID-19-grendeltydperk gesien. Ons huise het gevaarlike plekke vir vroue en meisies geword wat genoodsaak is om saam met hul aanvallers of misbruikers onder een dak te woon.

“Bestaande strukturele probleme soos armoede, ongelykheid, misdaad, 'n hoë werkloosheidsyfer en gebreke in die kriminele regstelsel het verder geslagsgebaseerde geweld vererger."

Volgens 'n Gautengse studie het 51% van die vroulike respondente gesê dat hulle GGG ervaar het, en 76% van die mans dat hulle al GGG gepleeg het. SAPD-misdaadstatistiek het ook aan die lig gebring dat daar meer as 53 000 seksuele oortredings in 2019/20 aangemeld is – 'n gemiddelde van 146 per dag. Verder het 'n onlangse verslag van die ouditeursfirma KPMG beraam dat GGG Suid-Afrika tussen R28 en R42 miljard per jaar kos. Dié bedrag beloop jaarliks 0.9% tot 1.3% van ons bruto binnelandse produk.

Dr Munya Saruchera, senior lektor aan US se Afrikasentrum vir MIV-/Vigsbestuur en die voorsitter van die werksessie, het gesê: “As pa, broer, eggenoot en 'n man met geslagsvoorregte en die mag wat daarmee gepaard gaan, besef ek dat ek my deel moet doen om hierdie plaag van geslagsgebaseerde geweld – wat so algemeen in ons land, samelewing en gemeenskappe voorkom – te bestry."

Hy het bygevoeg: “Nege uit die 10 keer is dit ons as mans wat geweld teenoor vroue pleeg. Tydens die huidige COVID-19-pandemie het hierdie misdaad weer sy kop uitgesteek om ons te herinner dat ons dit steeds nie onder beheer gebring het nie."

Seehaam Samaai, direkteur van die Vroueregsentrum, was die gasspreker. Die sentrum is 'n feministiese Afrika-organisasie wat vroueregte en gelykheid deur middel van strategiese litigasie, voorspraak, onderwys en opleiding bevorder.

Sy het onder meer gepraat oor die mag van sosiale media in die stryd teen GGG.

 “Slagoffers en oorlewendes van GGG wend hulle toenemend tot openbare platforms om hul oortreders se identiteit aan die publiek bekend te maak. Vroue doen dit vir baie redes. Hulle doen dit nie noodwendig om kwaadwillig te wees of om die oortreder te straf nie, maar om hul stilte te verbreek, met die proses van genesing te begin en om geregtigheid te laat geskied.

“Gewoonlik word 'n oorlewende van GGG deur die stelsel stilgemaak. Dis weens 'n ingewikkelde reeks faktore waaronder die onvermoë van die polisie en die nasionale vervolgingsgesag om GGG te ondersoek, die slagoffer se gevoelens van skaamte en skuld en die weiering van die oortreder om verskoning te vra of te erken dat hy 'n daad van GGG gepleeg het."

Dié​ feministiese prokureur en aktivis het gesê slagoffers wat hul oortreders aanlyn identifiseer, staan 'n beter kans om hul verhaal te verander en hul gevoelens van skaamte te oorkom.

“'n Oorlewende word toegelaat om so 'n groot gevoel van skaamte en verleentheid oor die mishandeling te ervaar, dat hulle voel hulle behoort nie daaroor te praat nie. Dis 'n besonder groot las om te dra. Deur hul oortreder te identifiseer, is 'n manier om die res van die samelewing – veral dié wat 'n kultuur skep wat 'n molesteerder toelaat om te doen wat hy doen – 'n deeltjie van daardie spesifieke skaamte te help dra. Daarbenewens doen hulle dit ook om toekomstige slagoffers te beskerm, veral as die molesteerder 'n openbare figuur is."

Sy het gesê deur hul verkragters op sosiale media en ander platforms te identifisser, kan slagoffers die kultuur van verkragting, die molesteerder en soms die regstelsel aanvat.

“Deur 'n molesteerder se naam bekend te maak, kan ook met 'n ondersoek help – iets waarmee die regstelsel soms faal. Dit kan verder daartoe lei dat ander slagoffers van die oortreder na vore kom en sodoende 'n persoon se saak versterk."

  • Foto (verskaf): Me Seehaam Samaai​