Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Chantel Coetzee
Outeur: Elbie Els
Gepubliseer: 06/05/2021

Chantel Coetzee het in haar “droomwerk" geland toe sy 'n pos by die Universiteit Stellenbosch (US) as Informasie- en Kommunikasietegnologie- (IKT-) Argitektuur Praktykleier aanvaar het.

Met meer as 23 jaar se ondervinding in die sakewêreld en IT-argitektuur, sien Coetzee haarself as 'n innoveerder, entrepreneur en strategiese instaatsteller.

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai.  Coetzee vertel ons hieronder meer van haar werk by die Universiteit.

Wat is jou rol by die US?

My verantwoordelikheide sluit die organisasie en bestuur van die veiligheids-, kommunikasie- en verwante tegnologiese komponente binne die US in.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Dit hang van die dag af, maar 'n tipiese dag is gewoonlik vol vergaderings. Ek verdeel tans my tyd tussen verskeie groot US-projekte. Ek is ook besig om 'n interne projek te ontwerp en in werking te stel en om IKT-praktyke te vestig. Nog 'n taak is die versoek vir 'n voorstel vir 'n stelselvervanging. Nog 'n daaglikse prioriteit vir my is raadgewing oor IKT-argitektuur vir ander inisiatiewe/projekte regoor die US.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het 'n rekeningkundige tegnikus-kwalifikasie (Suid-Afrika) by Global Accounting Proficiency voltooi terwyl ek gewerk het. Dit was moeilik, maar ek is dankbaar dat iemand genoeg in my geglo het om vir my die geleentheid te gun. Sedert ek in 1998 as 'n effektetrust-prysontleder begin werk het, was my loopbaan gevul met onverwagte geleenthede. Toe ek ondernemingsargitektuur ontdek het, het ek my passie gevind. Ek het nooit beplan om van beleggingsrekeningkunde na inligtingstegnologie oor te skakel nie. Ek het gedink ek sou 'n geoktrooieerde bestuursrekenmeester word.

Nadat ons aan die einde van 2018 na die Wes-Kaap verhuis het, was ek lid van 'n Deloitte-span wat 'n oorsig vir die US moes doen. Ná voltooiing van die oorsig, is ek gevra om as konsultant op te tree. Toe die geleentheid hom voordoen, is ek gevra om by die US-span aan te sluit as die IKT-argitektuur praktykleier.  

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om meer oor 'n nuwe sektor te leer. Hoër onderwys is uiters opwindend en die mense is baie uiteenlopend. Ondernemingsargitektuur is iets nuuts by die US en ek geniet die samewerking om die praktyk by die US toe te pas. Dit is ingewikkeld, wyd en uniek. Ek doen dít waarvoor ek lief is by 'n instelling waarin ek glo. Om op te som: Dit is my droomwerk by 'n ongelooflike organisasie.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Dit help my om te besef dit is in orde om nie piekfyn te wees nie en om dit met mense wat ek vertrou, te bespreek. Verbalisering gaan nie daaroor om 'n antwoord te vind nie, maar om hardop te sê hoe dinge jou raak. Dit is vir my verrassend dat jy die meeste van die tyd nie die enigste een is wat met sekere goed worstel nie.

Ek word aangespoor deur die idee dat ek kan skep en 'n ekonomie kan agterlaat wat entrepreneurs sal ophef en in staat sal stel om 'n verskil in ons land te maak. Dit kan ons kinders se kinders bemagtig om hul lewensdrome te bewaarheid.  ​

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek is baie lief vir calavera (suikerskedels); dit is die tema van my kombuisdekor – met 'n spatsel helderpienk daarby. Ek het selfs 'n tatoeëermerk van een op my arm. Vir my simboliseer dit dat ons onder die oppervlak almal dieselfde is. Ek spog ook met 'n velskoenversameling wat reeds uit 11 verskillende pare bestaan.​