Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Thuli Madonsela ontvang ordeteken van Franse ridderskap
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/05/2021

Die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, Aurelien Lechevallier, het onlangs die ordeteken van die prestigeryke Franse Erelegioen aan prof Thuli Madonsela verleen.

Prof Madonsela, die bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid, het die ordeteken van die titel “Ridder van die Erelegioen" ontvang vir haar merkwaardige prestasies in die bestryding van korrupsie en die beskerming van regsoewereiniteit, sosiale geregtigheid en menseregte in Suid-Afrika.

Die Franse Erelegioen vier die prestasies van uitgelese individue, ongeag maatskaplike agtergrond of nasionaliteit.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het die titel Ridder van die Legioen (Ordre national de la Légion d'honneur) op 20 November 2020 aan Madonsela toegeken. Die amptelike plegtigheid om die ordeteken van hierdie titel aan haar te verleen, het in April 2021 by die wynlandgoed L'Avenir buite Stellenbosch plaasgevind. Onder die gaste by die geleentheid was lede van die diplomatieke gemeenskap, Stellenbosch-burgemeester Gesie van Deventer, regter Albie Sachs, US-regsdekaan prof Nicola Smit, ander Universiteitspersoneel, sowel as voormalige kollegas, vriende en familielede van Madonsela.

In sy toespraak het Lechevallier gesê: “Ons is hier om 'n geesdriftige kampvegter en beskermer van regsoewereiniteit en 'n leier in die stryd teen korrupsie in Suid-Afrika te vier – iemand wat al dikwels namens gewone mense teen die maghebbers moes standpunt inneem in haar onverpoosde werk om die Suid-Afrikaanse regstelsel te versterk en sosiale geregtigheid en demokrasie in die land te bevorder.

“Haar naam en integriteit is wêreldwyd bekend," het die ambassadeur bygevoeg, “en, tot ons groot vreugde, is sy ook 'n vriend van Frankryk en sy mense. Thuli Madonsela is deesdae 'n vertroude naam en word onder die invloedrykste mense ter wêreld gereken."

Lechevallier het die ordeteken met die volgende boodskap aan prof Madonsela verleen: “Wanneer ek aan jou nalatenskap dink, dink ek jy herinner Suid-Afrikaners daaraan dat hulle op die skouers van reuse staan. Ek hoop jy weet dat die nuwe geslag, en die leiers van die toekoms, op joune sal staan!"

Madonsela het haar dankbaarheid teenoor die Franse president en nasie uitgespreek: “Ek doen my werk om waarde toe te voeg aan die mensdom, uit liefde en dankbaarheid vir die voorregte wat die lewe en die mensdom my gun, en in die uitvoering van my pligte. Nietemin vul 'n eerbewys van hierdie statuur my met ongelooflike dankbaarheid, en vestig dit ook die aandag op my werk op die gebied van sosiale geregtigtigheid, regsoewereiniteit en etiese staatsbestuur. Ek glo dit spruit uit 'n begrip van ons onderlinge verbondenheid as mense, al word ons deur oseane en grense geskei."

Sy het erkenning verleen aan die span van die Openbare Beskermer wat vir sewe jaar met haar saamgewerk het in die strewe na etiese en verantwoordbare regering, sowel as aan haar huidige medewerkers: “Ek ontvang ook die toekenning namens my kollegas by die Universiteit Stellenbosch, saam met wie ons navorsing, beleidshervorming en burgerlike mobilisering vir sosiale geregtigheid onderneem in die hoop dat ons daartoe kan bydra om teen 2030 armoede te beëindig en strukturele ongelykheid te verminder, soos wat die internasionale volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vereis. Laastens ontvang ek ook die toekenning namens my kollegas by die Thuma-stigting, wat meestal vrywillig hulle tyd en hulpbronne aan demokrasieleierskap en -geletterdheid wy om te sorg dat demokrasie vir almal werk."

Napoleon Bonaparte het die Franse Erelegioen in 1802 gestig. Dit word as die hoogste eerbewys in Frankryk beskou. Die kategorieë van die orde sluit in die range van ridder (Chevalier), offisier (Officier), kommandeur (Commandeur), grootoffisier (Grand Officier) en grootkruis (Grand-Croix). Voormalige president Nelson Mandela het in 1994 die grootkruisrang ontvang.

Ander Suid-Afrikaners aan wie Franse ridderskap voorheen toegeken is, sluit in Nadine Gordimer, Ahmed Kathrada, aartsbiskop Desmond Tutu, Mamphela Ramphele, Miriam Makeba, André P. Brink en Zanele Muholi.

Vir verdere inligting, kontak Diane Gahiza by 071 353 4700 of gahiza@sun.c.za. Klik hier vir 'n video van die plegtigheid.

 

Foto:

Regter Albie Sachs, prof Thuli Madonsela en die Franse ambassadeur, Aurelien Lechevallier, kort nadat Madonsela die ordeteken van die titel “Ridder van die Erelegioen" ontvang het. Foto: Franse ambassade.

​