Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Periperi U bied kursus én praatjies oor ramprisikovermindering aan
Outeur: Mujahid Gabier; Periperi U
Gepubliseer: 28/04/2021

Die Periperi U-konsortium het 2021 op 'n drafstap begin met 'n maand lange aanlyn kursus, en die bekendstelling van 'n nuwe gespreksreeks daarby.

 Die Periperi U-netwerk, waarvoor die Universiteit Stellenbosch (US) die sekretariaat in vennootskap met die Wêreldbank voorsien, het in Februarie 2021 'n aanlyn kortkursus vir 45 deelnemers uit die Suider-Afrikastreek aangebied. Die doel van die kursus was om ramprisikoverminderingsvaardighede en -kennis onder SAOG-gebaseerde ontluikende navorsers, nuwelingpraktisyns en PhD-studente met 'n belangstelling in rampe, risiko en veerkragtigheid te bou.

 Die netwerk het die kursus ontwerp om oor vier weke aangebied te word. Deelnemers het vir twee tot drie aanlyn sessies per week ingeskakel, wat deur middel van 'n aantal media en tegnieke aangebied is. In pas met die wêreldwye tendens in kortkursusaanbieding sedert die aanvang van die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende inperking, is deelnemers se tyd tussen aanlyn onderrig en gespreksessies, selfstudie en vereiste take vir akkreditasiedoeleindes verdeel. Elke week is om 'n bepaalde tema gestruktureer en sessies is deur dosente en ander kenners van die US (as gasheerinstelling) aangebied, hoewel akademici van die Periperi U-konsortium ook bygedra het.

 In week 1 is die kernbegrippe en terminologie van ramprisikovermindering bekend gestel. Deelnemers het ook die komplekse risiko-omgewing in Afrika ondersoek, en gehoor waarom ramprisikovermindering en -finansiering noodsaaklik is. Hierna het die klem in week 2 na ramprisikofinansiering in Afrikaverband verskuif, met gevallestudies om die toepassing van finansieringsinstrumente te illustreer. Week 3 het op risikobeoordeling gekonsentreer, veral databehoeftes, -beskikbaarheid, -insameling en -ontleding, sowel as instrumente om risiko-ontleding te ondersteun, soos georuimtelike ontleding, nuwe en innoverende tegnologieë, sosiale media en groot data. Die laaste week is aan gemeenskapsgebaseerde risikobeoordeling gewy, en hoe om op 'n deelnemende manier met gemeenskappe te werk om plekspesifieke data in te samel. Oudiovisuele materiaal en gevallestudies is deurgaans gebruik om prosesse en instrumente toe te lig.

 Periperi U-vennote het boonop 'n nuwe aanlyn gespreksreeks, Periperi U Talksvan stapel gestuur om ramprisikoverwante onderwerpe en temas met 'n groter gemeenskap in Afrika en elders te bespreek. Tweeweeklikse Zoom-praatjies van 40 tot 60 minute elk word beplan, en sal terselfdertyd oor verskeie sosialemediaplatforms uitgesaai word om wye gehoordeelname moontlik te maak. Vir die eerste sessie op 8 April 2020 het dr Ricardo Zapata-Martí van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP ) gesels oor sy onlangse ervarings in die evaluering van die gevolge en impak van COVID-19, en sy persoonlike gedagtes oor lesse uit die pandemie.

 Vir verdere inligting oor komende Periperi U Talks-sessies en hoe om betrokke te raak, besoek gerus die Periperi U-webtuiste by www.riskreductionafrica.com.