Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg-kampus stel nuwe buitelug-gimnasium bekend
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Florence de Vries
Gepubliseer: 28/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het op die Tygerberg-kampus 'n splinternuwe buitelug-gimnasium geopen vir gebruik deur die studente en die personeel.

Die inisiatief, wat gelei is deur die FGGW se Dekaan Advieskomitee vir Omgewingsvolhoubaarheid (DACES), is 'n sigbare teken van hoe belangrik die komitee die welsyn van die fakulteit se personeel en studente ag. Dit is ook daarop gemik om by te dra tot mense se waardering, asook hulle omgang, met die natuurlike omgewing en die biodiversiteit op die kampus.

Die opening van die buitelug-gimnasium maak deel uit van die FGGW se vieringe vir Aardedag (22 April 2021), waaraan baie studente wat op die Tygerberg-kampus woon, deelgeneem het. Professor Bob Mash, die voorsitter van DACES, het gesê dat die buitelug-gimnasium se doel was om by te dra tot die welsyn van die FGGW se studente en personeel wat op die Tygerberg-kampus woon en werk. Dit sal bydra tot die verhoging van hulle lewensgehalte.

“Gedurende 'n tyd waar toenemende verstedeliking 'n werklikheid is, en waar mense ook 'n groeiende besef het van die belangrikheid van fisiese en geestelike welsyn van die studente en die personeel – veral gedurende die pandemie – is oefenapparate in die buitelug die ideale keuse," het Mash gesê.

"Die installering van die buitelug-gimnasium is van enorme waarde vir die studente op die Tygerberg-kampus wat opsoek was na bekostigbare maniere om oefening te kry," het Hugh Seton, vierdejaar MBChB-student gesê. Hy is ook die voorsitter van die Tygerberg Studenteraad (TSR) se Sport-portefeulje. "Gedurende die laaste jaar het ons hard probeer om maniere te vind om uit ons koshuiskamers te kom en om bietjie vars lug te kry terwyl ons oefen. Hierdie buitelug-gimnasium is 'n groot stap in die regte rigting."

Mash het bygevoeg dat fisiese aktiwiteit kan help om verskeie chroniese toestande te verhoed, of te beheer, en ook kan help om geestesgesondheid te bevorder. “Beide die studente en die personeel op ons kampus kan slegs baat vind by hierdie verskillende oefenapparate, aangesien oefening in die buitelug van waarde is vir die hele liggaam, as gevolg van die verbeterde fiksheid, welsyn en verbeterde luim wat dit meebring."

Die beplanning en implementering van die nege verskillende buitelug oefen-apparate is onderneem deur Mash en mev Christine Groenewald. Hulle het, tesame met DACES, befondsing gekry vir hierdie apparate van verskeie afdelings binne die FGGW gedurende die afgelope twee jaar. Die opening van die buitelug-gimnasium is 'n groot prestasie vir die komitee, wat verantwoordelik is vir verskeie insiatiewe wat gemik is op omgewingsvolhoubaarheid by die Tygeberg-kampus. Dit sluit 'n fokus in op omgewingsvriendelike water- en energieverbruik.

Een van die FGGW se oorhoofse strategiese oogmerke is die daarstelling van 'n mens-gesentreerde fakulteitskultuur, waar elke persoon wat met die fakulteit geaffilieer is, die voordele kan geniet wat gebied word deur op die kampus te woon en te werk. Gedurende die afgelope paar jaar, kon studente en personeel die voordele geniet van 'n buitelug-swembad, tennis- en netbalbane, 'n rugbyveld, en meer onlangs, die oprigting van 'n Eco-roete. Hierdie roete strek om die buitelyn van die kampus, en is gevul met verskeie inheemse plante.

Die gimnasium-apparate, wat ongelyke optrekstawe, optrekstawe, 'n oefenfiets en 'n trapmasjien insluit, is op die Tygerberg-kampus se sportveld oorkant die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut.

Die verskeie borge van die gimnasium-apparate sluit die volgende in:

  • Ongelyke optrekstawe (Uneven pull-up bars) (Die Immunologie-navorsingseenheid in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)
  • Optrekstawe (Press and Dip bars) (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing)
  • Oefenfiets (Upright Cycle) (Die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg)
  • Dubbele stapmasjien (Double Air Walker) (Die Departement van Pediatrie en Kindergesondheid)
  • Trapmasjien (Step and Calf Raise) (Die department van Verpleging en Verloskunde en die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys)
  • Rug-en beenstrekmasjien (Back and Leg stretch) (Die Departement van Psigiatrie)
  • Optrekstawe (Chin-up Ladder) (Prof Marietjie de Villiers, die Departement van Huisartskunde en Primêre Sorg)
  • Multifunksionele stasie (Multi-function station) (Die Dekaan se Bestuurspan)
  • Multifunksionele stasie (Multi-function station) (Die Departement van Huisartskunde en Primêre Sorg)
  • Buitelug-gimnasium naamborde (Tygerberg Studenteraad 2020/2021)

 

 Foto-erkenning: Nardus Engelbrecht