Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ACS-direkteur spreker by heel eerste hibridiese HERS-SA Akademie
Outeur: African Centre for Scholarship
Gepubliseer: 28/04/2021

​Personeellede van US Internasionaal bly gewild as sprekers by sowel nasionale as internasionale forums wat akademieskap en samewerking bevorder. Mees onlangs het prof Sarah Howie, die direkteur van die Afrikasentrum vir Akademieskap, in Maart 2021 'n lesing by die drie dae lange HERS-SA Akademie in Kaapstad gelewer.

HERS-SA is 'n organisasie sonder winsoogmerk wat in 2000 aanvanklik met finansiering van die Andrew Mellon-stigting gestig is, maar nou selfonderhoudend is. Die organisasie konsentreer op die bevordering en leierskapsontwikkeling van vroue in die hoëronderwyssektor, en werk saam met tersiêre instellings om hulle genderbillikheidsdoelwitte te bereik.

Die geleentheid het 'n hibridiese model gevolg om aan COVID-19-regulasies te voldoen, en dus was sommige van die 80 vrouedeelnemers fisies teenwoordig, terwyl die res aanlyn van oor die hele land ingeskakel het. Sowat die helfte was van die navorsings- en akademiese omgewing, en die ander helfte van die hoëronderwyssteundienstesektor.

Prof Howie se lesing het oor navorsing en leierskap gehandel en oor die kenmerke van vakkundiges en die eienskappe van doeltreffende leiers besin. Sy het beklemtoon dat leierskap op verskillende maniere ontwikkel en ook uit (dikwels gelukkig-toevallige) informele ervarings voor of naas formele geleenthede in die werkplek kan spruit. Om die krag van vroueleierskap in krisistye te illustreer, het sy voorbeelde van internasionale vroueleiers se hantering van die pandemie voorgehou en met die optrede van sommige van hulle manlike eweknieë vergelyk.

Die aanbieding het benadruk dat baie van die kenmerke van goeie leiers en van vakkundiges oorvleuel, waaronder waagmoed, volharding, integriteit en kreatiwiteit. Wat waagmoedige leierskap in die besonder betref, het prof Howie onderstreep hoe belangrik dit is om spanlede die erkenning te gee wat hulle verdien, en om jou span te beskerm wanneer hulle onder skoot is. Hierin, het sy gesê, was wyle president Nelson Mandela vir ons 'n voorbeeld met sy woorde: “Dit is beter om van agter af te lei en ander voor te plaas, veral wanneer 'n mens oorwinning vier en daar lekker dinge gebeur. Jy beweeg vorentoe as daar gevaar is. Dan sal mense jou leierskap waardeer."

Ander sprekers by die geleentheid het die visekanselier van die Universiteit van Zululand en die adjunkvisekanselier van Rhodes-universiteit ingesluit.

HERS-SA is 'n susterorganisasie van HERS Mid-Amerika in die Verenigde State. HERS-SA het reeds meer as 1 000 alumna, van wie baie deesdae senior leiersposte in die hoër onderwys, die regering en by navorsingsagentskappe beklee.