Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Karen Bruns aangestel op uitvoerende komitee van die Hoëronderwys Fondsinsameling Forum
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/04/2021

Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs aangestel op die Uitvoerende Komitee van die nuutgestigte Hoëronderwys Fondsinsameling Forum (in Eng. HEFF), 'n nuwe Gemeenskap van Praktyk binne Universiteite Suid-Afrika (USAf).

USAf se Gemeenskappe van Praktyk is forums wat bestaan uit spesialiste op verskillende vakgebiede wat almal relevant is tot die bestuur van 'n universiteit. Hierdie groepe kom gereeld bymekaar om kennis en inligting te deel en mekaar te ondersteun deur gemeenskaplike kwessies te bespreek en kollektiewe oplossings vir spesifieke probleme te vind.

Die doel van die Fondsinsameling Forum is om beste praktyke vir fondsinsameling in die Suid-Afrikaanse hoëronderwys-sektor te bevorder. Dit sal gedoen word deur inligting en kennisbronne te deel; samewerking tussen hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika te bevorder; plaaslike, streeks- en wêreldwye uitdagings aan te spreek; asook die bevordering van gesamentlike akademiese projekte.

"Dit is 'n groot voorreg om die Universiteit Stellenbosch op hierdie Forum te kan verteenwoordig. Dit bied aan my die geleentheid om debat oor nasionale fondsinsamelingsinisiatiewe en -kwessies te bevorder en insae te hê in die ontwikkeling van beleide en praktyke volgens nasionale en internasionale fondsinsameling standaarde," het Bruns gesê.

"In ons huidige nasionale en internasionale konteks is groter samewerking van deurslaggewende belang — en dit is presies wat hierdie Forum sal bied," het sy bygevoeg.

Die stigting van die Forum het ook positiewe reaksies vanaf professionele persone binne die plaaslike en internasionale fondsinsamelingsfere gekry.

Nazeema Mohamed, uitvoerende direkteur van Inyathelo, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Bevordering in die institusionele en niewinsgewende sektor, het gesê die feit dat hierdie Forum binne USAf funksioneer, sal help met die institusionalisering van goeie praktyk. “Welgedaan met die daarstel van die Hoëronderwys Fondsinsameling Forum as 'n Gemeenskap van Praktyk. Hierdie Forum is beslis nodig in die sektor."

Bill Moses, besturende direkteur van die Kresge-stigting se onderwysprogram, het gesê hy is verheug dat hierdie groep op die been gebring is. "Volgens 'n onlangse Inyathelo-opname is daar tans byna 200 professionele persone in Suid-Afrika, so HEFF het 'n goeie poel van potensiële lede."

“Dit is so lekker om bekende name [op die uitvoerende komitee] te sien. Hou ons in die toekoms op hoogte van HEFF se aktiwiteite. Daar sal waarskynlik samewerkingsareas wees, veral rondom fondsinsamelingsplatforms," het Hafeeza Rashed, senior adviseur vir kommunikasie en uitreike by die King Baudouin-stigting in die Verenigde State, gesê.