Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale studie bekyk rol van onderverdelings, plaasgroottes in grondhervorming
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 29/03/2021

Die proses van grondherverdeling kan meer suksesvol wees indien besliste aandag geskenk word aan die voorsiening van plase aan opkomende boere wat 'n voldoende en hanteerbare grootte is. Dit beteken dat huidige wetgewing wat betref die onderverdeling van landbougrond in ekonomiese eenhede hersien moet word. So sê dr Siphe Zantsi, wat sy PhD in landbou-ekonomie oor dié onderwerp ontvang het tydens die Maart-gradeplegtigheidsgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch.

Sy studie was deel van 'n gesamentlike projek tussen die US Departement Landbou-ekonomie en die Sosio-ekonomiese Navorsingsgroep van Agroscope, die Switserse Konfederasie se sentrum vir uitnemendheid in landbounavorsing. Sy studieleier was prof Nick Vink van die US Departement Landbou-ekonomie.

As deel van sy PhD-projek het dr Zantsi 'n nuwe metode ontwikkel, wat agent-gebaseerde modellering (ABM) genoem word. Hy het dit gebruik om beter oplossings te vind vir die implementering van grondhervorming.

Deur sy navorsing het dr Zantsi vyf hoofredes geïdentifiseer hoekom grondherverdeling in Suid-Afrika in die verlede misluk het. Dit sluit in:

*onvoldoende ondersteuningsdienste aan nuwe toetreders tot boerdery;

*'n swak keuringstelsel van begunstigdes;

*die oorhandiging van kommersiële plase wat te groot is vir nuwe toetreders om te bestuur;

*'n gebrek aan die nodige boerderyvaardighede onder begunstigdes; en

* die onwilligheid van die staat om aan begunstigdes eienaarskap van grond oor te dra.

Dr Zantsi se studies het veral gepoog om oplossings te vind om die keuringsproses van begunstigdes te verbeter en die kwessie rondom watter grote kommersiële boerderye moet wees aan te spreek. Hierdie is kwessies wat oplossings soek, aangesien hulle reeds in 2019 uitgelig is deur die Suid-Afrikaanse regering se Advieskomitee vir Grondhervorming en Landbou.

Wat die keuring van begunstigdes betref, het dr Zantsi 'n templaat ontwikkel wat gebruik kan word om in die media te plaas om die beskikbaarheid van plase te adverteer. Hierdie adverteringsproses behoort deel van die standaard-bedryfsprosedures rondom grondherverdeling te wees. Dit sal die kanse verminder dat elite-kaping van grond plaasvind, of dat onvanpaste begunstigdes gekies word.

“Indien die advertensie-templaat geïmplementeer word, sal dit deursigtigheid en verantwoordbaarheid bevorder terwyl dit ook begunstigdes se strewes rondom grond akkommodeer," sê dr Zantsi.

“Dit sal ook die gebrek aan menslike kapasiteit aanspreek in die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, en die werk vergemaklik van die  grondhervorming-komitees wat voorgestel word in die Nasionale Ontwikkelingsplan," sê landbou-ekonoom en studieleier prof Nick Vink van US.

gens dr Zantsi is huidige kommersiële plase te groot vir nuwe en onervare opkomende boere om effektief te bestuur. Die Wet op Onderverdeling van Landbougrond van 1970, wat tans steeds van toepassing is, verbied egter die onderverdeling van landbougrond in groottes wat nie as lewensvatbare ekonomiese eenhede beskou word nie.

As deel van sy navorsing het dr Zantsi oorweeg wat 'n lewensvatbare plaas-grootte sou wees vir opkomende boere wat baat by grondherverdeling. Hy het bereken wat 'n lewensvatbare plaas-grootte vir verskillende tipes opkomende plaas-huishoudings sou wees deur maatstawwe vir die inkomste-verwagtinge van opkomende plaas-huishoudings te stipuleer. Lae, gemiddelde en hoë verwagtinge van opkomende plaas-huishoudings is in sy studie ingesluit.

In al drie gevalle het hy gevind dat plase wat kleiner is as huidige kommersiële boerdery beter sou werk as dit kom by hoë-waarde ondernemings soos vrugteplase. Plaas-groottes sal groter moet wees vir veldgewasse en uitgebreide veeplase, maar steeds kleiner as huidige kommersiële plase. Dit geld egter nie in gevalle waar begunstigdes aspirasies tot hoë inkomstes het nie. In sulke gevalle sal kommersiële plase van bestaande grote aan hul behoeftes voldoen.

Plaasgroottes is gebruik as onderverdelingsfaktore om te ondersoek hoe kommersiële plase wat geoormerk is vir onderverdeling optimaal onder opkomende boere onderverdeel kan word. Hierdie faktore is toegepas op die agent-gebaseerde model wat dr Zantsi ontwikkel het om Suid-Afrikaanse grondherverdeling te modelleer.

Daarvolgens sal dit moontlik wees om plase wat geoormerk is vir grondherverdeling te onderverdeel op 'n wyse wat die aspirasies van opkomende boere bevredig in terme van lewensvatbare plaas-groottes en boerdery-ondernemings.

“Hierdie bevindings verskaf praktiese hulp in die ontwikkeling van beleide rondom plaas-onderverdelings, soos wat aanbeveel is deur die Advieskomitee vir Grondhervorming- en Landbou wat deur die presidensie in 2019 aangewys is," sê dr Zantsi. 

​​