Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jimmy Volmink ontvang hoogste eer van SAMNR
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 05/03/2021

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US), met sy mees prestigeryke toekenning vir sy “uitsonderlike lewenslange bydrae tot mediese navorsing en openbare gesondheid" vereer.

Volmink het die spesiale Presidensiële Toekenning by die SAMNR se onlangse sewende Meriete-toekeningsgeleentheid ontvang. Prof Mike Sathekge, hoof van kerngeneeskunde aan die Universiteit van Pretoria en van die Steve Biko- Akademiese Hospitaal, het ook die Presidensiële Toekenning by die geleentheid ontvang.

“Hierdie is ʼn viering en erkenning van wetenskaplike uitnemendheid en bydraes van uitmuntende mediese wetenskaplikes wie se werk ʼn onuitwisbare impak gemaak het om Suid-Afrikaners se lewe te verbeter," het die SAMNR in ʼn verklaring gesê.

Vorige ontvangers van die Presidensiële Toekenning sluit in roemryke leiers op wetenskaplike gebied wat ʼn globale impak gemaak het, soos proff Zena Stein, Carl Lombard en Malegapuru William Makgoba, voormalige SAMNR-president.

In sy sitaat erken die SAMNR Volmink se bydrae tot die gebied van kliniese epidemiologie en bewysgebaseerde geneeskunde tydens ʼn loopbaan wat oor langer as drie dekades strek, met spesiale verwysing na die volgende bydraes:

  • Die ontwikkeling en gebruik van betroubare metodes vir die evaluering van  gesondheidsorgintervensies om gesondheidsprobleme aan te pak wat mense in lae- en middelinkomstelande raak;
  • Die bevordering van bewysgebaseerde besluitneming op plaaslike, nasionale en globale vlak deur kennisoordragpogings;
  • Voorspraak om gesondheids- en maatskaplike ongelykhede aan te pak;
  • Die bou van navorsingskapasiteit deur opleiding en mentorskap.

In die sitaat word Volmink ook geloof vir sy lang verhouding met die SAMNR. “Prof Volmink het sedert 1990 ʼn verbintenis met die SAMNR, toe hy as spesialiswetenskaplike by die destydse Sentrum vir Epidemiologiese Navorsing in Suider-Afrika (Cersa) aangestel is. Nadat hy sy DPhil in Oxford voltooi het, is hy deur die SAMNR genooi om die rol as stigtersdirekteur van die Suid-Afrikaanse Cochrane-stigting (vandag Cochrane SA) op te neem. Hy het in 1998 die rang van hoof-spesialiswetenskaplike behaal. Hy het oor die verloop van meer as twee dekades (in ʼn heeltydse of deeltydse hoedanigheid) voortgegaan om die Cochrane SA-span uit te bou en te lei. Vandag geniet dié eenheid groot respek vir die impak van sy navorsing en sy belangrike bydraes tot bewysgebaseerde gesondheidsorg."

Volmink het die SAMNR in sy aanvaardingstoespraak bedank vir ʼn “uitsonderlike eer", asook vir die geleenthede en steun wat die instelling hom gedurende sy loopbaan gebied het. 

“Ek het al lankal besef dat prestasie altyd ʼn spanpoging is en dit is in daardie gees dat ek hierdie toekenning in dankbaarheid ontvang namens myself én namens die talle mense wat deur die jare tot my sukses en loopbaanbevordering bygedra het," het Volmink gesê. Hy het hulde gebring aan sy kollegas en familie wat hom gedurende sy hele loopbaan ondersteun en geïnspireer het.

“Dit was werklik ʼn voorreg om die mense van hierdie land te dien deur ʼn klein bydrae tot die versterking van wetenskap, onderwys en vaardigheidsontwikkeling te lewer. Ek sien uit na baie jare waarin ek in daardie sin steeds ʼn bydrae sal kan lewer," het Volmink gesê. 

ʼn Ander FGGW-kollega is ook by die SAMNR se Merietetoekenningsgeleentheid vereer. Dr Stephanus Malherbe, hoof- mediese beampte van die Biomediese Navorsingsinstituut- Kliniese Span het die Silwermedalje ontvang, wat toegeken word aan opkomende wetenskaplikes en diegene wat tot kapasiteitsontwikkeling toegewy is. 

Volgens prof Glenda Gray, die SAMNR se president en uitvoerende hoof, is dit vir die raad “ʼn eer om hierdie uitsonderlike Suid-Afrikaners te vereer wat altyd alles moontlik doen om wetenskap van wêreldgehalte te produseer ter verbetering van die lewe van die land se burgers."