Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe direkteur van Transformasiekantoor wil US se Transformasieplan versterk
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 12/02/2021

 

Dr Zethu Mkhize is oorgehaal om 'n kernrol te vervul in die fasilitering en versterking van belanghebbende-deelname en -vermoë om die Universiteit Stellenbosch se Transformasieplan te implementeer. 

Mkhize het haar onlangs by die US aangesluit as die nuwe direkteur van die Universiteit se Transformasiekantoor. Sy glo dit is belangrik dat hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika oor toegewyde transformasiekantore beskik om transformasie oor die hele instelling te help fasiliteer en programme te ontwikkel wat studente, personeellede en fakulteite kan ondersteun.

“In die lig van die nalatenskap van die Universiteit Stellenbosch is dit 'n enorme taak om die transformasieagenda by die instelling te bevorder," sê Mkhize. “Juis daarom het ek die verantwoordelikheid met oorgawe en toewyding aanvaar. Dit beloof egter goed dat die Universiteit Stellenbosch reeds aansienlike mylpale bereik het, soos die ontwikkeling van die Transformasieplan."

Mkhize sê die Transformasiekantoor het met sy gevestigde transformasiegerigte programme vir studente en personeel die afgelope paar jaar “heelwat veld gewen". Sy hoop om op haar kollegas se werk voort te bou en die volhoubaarheid van transformasie-intervensies te verseker.

“My plan is om 'n monitering- en evalueringsfunksie bekend te stel om implementering en uitsette stelselmatig te moniteer en programdoeltreffendheid te meet. Dít sal sorg dat programme bewysgegrond is en op die Universiteitsgemeenskap se behoeftes reageer. Boonop sal dit strook met die nasionale projek om transformasieaanwysers vir hoëronderwysinstellings te skep."

Mkhize, wat oor die graad DPhil in Maatskaplike Werk beskik, het uitgebreide ervaring in die hoëronderwyssektor. Sy het 'n hele aantal jaar by die Universiteit van Zululand gewerk, waar sy as 'n dosent in Maatskaplike Werk begin en daarna as MIV-en-vigs-bestuurder na 'n steunafdeling verskuif het. Sy is later as direkteur van studentesake aangestel, waar sy strategiese rigting gebied en tersaaklike beleide vir haar afdeling opgestel het.

Sy het ook by Rhodes-universiteit as bestuurder van inisiatiewe teen teistering gedien. In hierdie hoedanigheid het Mkhize die instelling se studentebeleid oor seksuele oortredings en die beleid oor die uitwissing van teistering en onbillike diskriminasie hersien. Daarbenewens het sy bewusmakingsprogramme oor diskriminasie, teistering en geslagsgebaseerde geweld ontwikkel.

As 'n geregistreerde maatskaplike werker, het sy nasionaal én internasionaal waardevolle bydraes tot die maatskaplikewerkberoep en die terrein van maatskaplike ontwikkeling gelewer. Dít sluit in haar rol as lid van die ministeriële taakspan wat die opdrag vir die herindiensneming van veteraan- maatskaplike werkers moes opstel.

Sy het ook as sekretaresse en adjunkvoorsitter van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Maatskaplikewerkonderwysinstellings gedien. Ander rolle sluit in diens in die ministeriële komitee vir die hersiening van die Witskrif op Maatskaplike Welsyn (1997), en as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe.

Vir meer oor die US se Transformasiekantoor, klik hier.