Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nasionale g​enootskappe vir onderrigbevordering op universiteit (TAU) 2021-2022
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 07/09/2021

Die Genootskapsprogram vir Onderrigbevordering (TAU) op Universiteit 2021-2022

 

Die Genootskapsprogram vir Onderrigbevordering op Universiteit (TAU) is 'n landswye intervensie wat in 2015 begin is. Dit is gerig op die bevordering van die onderriggehalte en die professionalisering van onderrig en leer in die openbare hoëronderwyssfeer.

Die TAU‑program behels die professionele ontwikkeling van 'n kohort akademiese personeel van middel tot senior vlak uit verskillende vakgebiede aan alle Suid-Afrikaanse openbare universiteite deur middel van 'n gekombineerde residensiële en afstandsonderrig‑benadering. Deelnemers wat vakgebiedspesialiste is, word met onderrig‑ en leerverwante ontwikkelings in die hoër onderwys vertroud gemaak, aan navorsing oor die Akademieskap van Onderrig en Leer bekendgestel, en as veranderingsagente geposisioneer. Gedurende die jaar lange tydperk van die TAU-program werk hulle aan 'n opvoedkundige projek in hul eie omgewing, sowel as 'n groepprojek, terwyl hulle terselfdertyd vennootskappe ontwikkel met kollegas van ander instansies. Na afloop van die program is hulle toegerus om die leiding met onderrig en leer by hul tuisinstellings te neem.

Gedurende die eerste TAU-program (2015-2016) het prof Elmarie Costandius en prof Geo Quinot die Universiteit Stellenbosch (US) daar verteenwoordig. Die US-akademici tydens TAU Twee (2018-2019) was prof Ian Nell en dr Berna Gerber.

Vir TAU Drie (2021-2022) is die US bevoorreg om drie US-akademici in die program te hê: prof Faadiel Essop, prof Ashraf Kagee en dr Marianne McKay.

Prof Faadiel Essop is tans 'n professor in die Departement Fisiologiese Wetenskappe en die direkteur van die onlangs gestigte sentrum vir kardio-metaboliese navorsing in Afrika (CARMA) aan die US. Hy is 'n NNS‑gegradeerde internasionaal bekroonde navorser, voormalige voorsitter van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, 'n voormalige president van die fisiologievereniging van Suider-Afrika (twee termyne), die huidige visepresident van die African Association of Physiology Sciences en 'n bestuurslid van die General Assembly of the International Union of Physiological Sciences. Hy was ook lid van die internasionale komitee van die American Physiological Society en is 'n verkose genoot van die American Physiological Society.

Prof Essop het onlangs die eenjaar‑ deeltydse Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap‑kursus aan die US voltooi. Gedurende 2018 ontvang hy 'n toekenning vir onderwysuitnemendheid (ontwikkelende onderwyser). Sy TAU-genootskapsprojek fokus op die idee dat wetenskaplikes/ingenieurs hul vakgebied dikwels as “neutraal" beskou en dus sonder enige sosio-politiese en historiese kontekste is. Daarom kan hierdie “wetenskaplike elitisme" wetenskaplikes op die oog af van sodanige kontekste onthef, byvoorbeeld wat betref ongeregtighede van die verlede wat tydens apartheid gepleeg is en ook hedendaagse, dringende kwessies soos die herstel van onreg, dekolonisering en inklusiwiteit. Die oogmerk is om 'n filosofiese raamwerk te ontwikkel vir die invoer van breër begrippe uit die geesteswetenskappe en die kunste in die biomediese, wetenskaplike en ingenieurswese‑kurrikulums.

Prof Ashraf Kagee is 'n Buitengewone Professor in Sielkunde aan die US, mede-direkteur van die Alan Flisher-sentrum vir openbare geestesgesondheid, en 'n lid van die Academy of Science of South Africa (ASSAf). Met meer as 200 akademiese publikasies op sy kerfstok is hy 'n gerekende internasionaal gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting. In 2006 ontvang hy die Rektorstoekenning vir Voortreflike Navorsing, in 2007 vir Onderrig, en in 2009 vir Gemeenskapsinteraksie. In 2018 ontvang hy die Kanselierstoekenning vir Volgehoue Uitnemende Loopbaanprestasies.

Prof Kagee se navorsing fokus op algemene geestesongesteldhede onder persone wat met MIV/Vigs saamleef, sielkundige en strukturele faktore wat die nakoming van antiretrovirale terapie beïnvloed, en algemene geestesversteurings in verskillende bevolkings. Hy doseer kognitiewe psigoterapie en navorsingsmetodes aan die Departement Sielkunde. Hy is voorsitter van die raad van trustees van die traumasentrum vir die oorlewendes van geweld en marteling in Kaapstad en onderneem kapasiteitsbouwerk by die Gaza‑sentrum vir gemeenskapsgeestesgesondheid in Gaza, Palestina.

As die ontvanger van verskeie AvOL‑toekennings doen prof Kagee navorsing oor onder meer onderrignavorsingsmetodes in die sielkunde, toegespits op gebiede soos kritiese denke, skeptisisme, en 'n empiriese ingesteldheid. Hy wil die TAU-genootskap gebruik om gebiede soos gemengde leer en e-assessering, asook die wetenskaplike skryfvaardighede van studente in sy navorsingsmetodes‑klas, te ontwikkel.

Dr Marianne McKay is 'n senior lektor in die Departement Wingerd- en Wynkunde. Sy was die eerste vrou in Suid-Afrika wat 'n MSc (Agric) behaal het, en het ook 'n PhD in Wynkunde verwerf. Dr McKay word erken vir haar bydraes tot sowel die wynkunde as onderrig en leer. In 2015 ontvang sy die nasionale Suid-Afrikaanse Raad vir Hoër Onderwys‑HELTASA‑toekenning vir onderwysuitnemendheid vir haar prestasies in dekolonialiteit in onderwys, asook vir navorsing in onderrig en leer. In 2017 ontvang sy 'n toekenning vir onderwysuitnemendheid (ontwikkelende onderwyser) aan die US. Van 2017 tot 2020 ontvang sy 'n Onderriggenootskap aan die US en in 2021 word sy genomineer vir die US Akademieskap van Leierskap‑program vir 2021.

Dr McKay het uitgebreide ervaring in die onderrig van studente in wynwetenskap aan vennootkolleges, sowel as in die vestiging van volhoubare en suksesvolle opleidingsmedewerking met meetbare sosiale impak in die plaaslike gemeenskappe. Haar TAU-genootskapdoelstellings sluit aan by 'n aantal doelstellings in die US se Transformasieplan (Visie 2040), asook belangrike programvernuwingsinisiatiewe betreffende die verbetering van diversiteit, toeganklikheid en 'n transformerende studente-ervaring. Haar oogmerk is om transformerende en innoverende studenteleerervarings in haar modules te verbeter. Sy wil ook kollegas ondersteun wat daarin belangstel om hul vakkundige navorsing met navorsing oor onderrig en leer te integreer.

Die Sentrum vir Onderrig en Leer wens hierdie kollegas met trots geluk en bedank hulle vir hul bydrae tot onderrig en leer aan die US. Ons wens hulle alle sterkte toe met hul TAU-genootskappe.

Meer inligting oor die TAU-genootskappe is beskikbaar by dr Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za.