Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Heengaan van buitengewone professor Bongani Khumalo betreur
Outeur: Vuyiseka Dubula-Majola & Ronél Beukes
Gepubliseer: 08/02/2021

​Dis met leedwese dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe kennis geneem het van die afsterwe van prof Bongani Khumalo (68) weens Covid-19-verwante komplikasies.

Prof Khumalo was 'n stigterslid van die Afrikasentrum vir MIV/Vigsbestuur. In sy hoedanigheid as buitengewone professor was hy vir meer as 20 jaar 'n besondere aanwins vir die Sentrum en het hy 'n kernrol in strategie en bemarking vervul.

Volgens mev Vuyiseka Dubula-Majola, direkteur van die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur het hy “waardevolle leiding aan die akademiese en sosiale-impakprogramme voorsien en insig gebied in die impak van die sosio-ekonomiese en politieke konteks op die arbeidswêreld en MIV."

Prof Khumalo het hom met oorgawe vir volhoubare ekonomiese ontwikkeling en groei sowel as blywende sosiopolitieke stabiliteit en solidariteit in Afrika beywer.​

“Ons het 'n buitengewone professor en mentor verloor. Hy sal geweldig gemis word," het mev Dubula-Majola gesê.