Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SPL-kursus lewer eerste groep graduandi
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division: Daniel Bugan
Gepubliseer: 16/12/2020

​Die eerste inname van studente wat die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) se nuwe Gevorderde Diploma in Openbare Verantwoordbaarheid-program suksesvol voltooi het, sal op 16 Desember 2020 hul kwalifikasies ontvang.

Die program, wat binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese Bestuur en Wetenskappe aangebied word en in 2020 vir die eerste keer bekendgestel is, verskaf toegang tot hoër onderwys en kwalifikasies vir verdere loopbaanontwikkeling binne die openbare sektor. Baie werknemers in die openbare sektor ontbreek kwalifikasies op die vereiste vlak om aan hulle geleenthede vir loopbaanvooruitgang in die openbare bestuursrange te bied. Hierdie program help met die vertikale oorbrugging van die gaping tussen 'n diploma (NKR 6) en nagraadse studies in openbare bestuur (NKR 8).

Volgens die hoof van die program, Deyana Isaacs, was die belangstelling van studente vir deelname aan die 2020-program baie positief en bevestig dit net weer die noodsaaklikheid vir en die gehalte van hierdie program.

Hulle het aanvanklik daarna gemik om 25 studente met die eerste inname te akkommodeer, maar uiteindelik het 23 ingeskryf. Hiervan sal 19 vanjaar en twee in Maart 2021 gradueer.

Sy sê hulle is baie trots op hul eerste graduandi wat deurgedruk het en ondanks moeilike omstandighede hul studies voltooi het.

“Die meeste van ons studente werk in die openbare sektor en hulle het die uitdaging van aanlyn leer aanvaar terwyl hulle ook terselfdertyd die COVID-19-pandemie en die uitwerking daarvan op hul onderskeie munisipaliteite en ander regeringsdepartemente moes hanteer," sê Isaacs. “Ons loof hulle en is baie trots op hul prestasie." 

Die top-student, Megan Swanson (voorheen Williams), 'n projekadministrateur in die Veerkragtigheidsafdeling van die Stad Kaapstad, sê die kursus het nie net vir haar insig in die openbare sektor gegee nie, maar ook die geleentheid vir bevordering en loopbaangroei.

“Die Diploma in Openbare Verantwoordbaarheid is as 'n skaars vaardigheid genoem en het spesifiek vir my uitgestaan omdat dit met openbare leierskap verband hou, en ek besef het dit sou vir my deure oopmaak. Ek kan ook nou verder studeer vir my honneursgraad in Publieke Administrasie," sê sy.

Swanson voeg by dat sy beslis die kursus sal aanbeveel vir alle studente wat hul kennis oor die openbare sektor wil verbreed.

“Die kursusmateriaal en dosente was aktueel en het 'n magdom kennis en ondervinding gebied waaruit ons kon leer," sê Swanson.

Volgens Dowayne Koopman, 'n administratiewe beampte vir die Stad Kaapstad in Pinelands, het die inhoud van die kursus by hom aanklank gevind danksy sy huidige posisie en sy vorige studies (hy het 'n BTech-graad in Publieke Bestuur aan CPUT behaal).

“As openbare beampte glo ek ons moet altyd daarna strewe om onsself te verbeter ten einde tot die verbetering van die gemeenskappe wat ons dien, by te dra – en dit is wat ek in hierdie kursus gevind het. Persoonlike waardigheid en integriteit was een van die modules wat vir my geleer het hoe my alledaagse optrede kan bydra tot die verandering wat ons in Suid-Afrika nodig het om waarlik vorentoe te beweeg."

Rafieq Latief, 'n administratiewe beampte by die Stad Kaapstad, sê hy het by 'n hele paar opleidingsinrigtings navraag gedoen om die volgende stap in sy akademiese loopbaan te neem.

“Die Universiteit Stellenbosch het deur die Gevorderde Diploma in Openbare Verantwoordbaarheid die perfekte geleentheid daarvoor gebied. Omdat ek reeds 'n korter kursus by die US voltooi het, was ek bewus van die professionele wyse waarop die personeel hulle van hulself en hul taak kwyt. Daarom was dit 'n gepaste keuse vir my. Die personeel het ons op ons gemak laat voel en het ons op ons akademiese reis ondersteun. Ek voel geëerd om met die Universiteit Stellenbosch-familie geassosieer te word."

Die sluitingsdatum vir aansoeke vir die 2021-inname vir die Gevorderde Diploma in Openbare Verantwoordbaarheid is 15 Februarie 2021. Die eerste semester se klasse sal in Maart by die Universiteit Stellenbosch se Bellville Park-kampus 'n aanvang neem.