Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Paartjie ontvang saam-saam hul PhD's
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 15/12/2020

Die vreugdevure het Maandag behoorlik in die Shange-Juba huishouding gebrand toe beide dr. Nompumelelo Shange en dr. Roderick Juba hul doktorsgrade in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch ontvang het. Dr. Shange het 'n PhD in Voedselwetenskap verwerf, en dr. Juba syne in Bewaringsekologie. Die paartjie is in September verlede jaar in 'n tradisionele seremonie in Inanda naby Durban getroud.

“Weens Covid moes ons egter vanjaar ons planne vir 'n 'white wedding' tot volgende jaar uitstel," vertel dr. Shange.

Dr. Shange en dr. Juba kom onderskeidelik van Inanda en Humansdorp. Hulle het in 2010 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Op daardie stadium was albei in hul tweede jaar, en onderskeidelik inwoners van Erica- en Helderberg-koshuise. Na jare van “net vriende" wees, het hulle uiteindelik in 2016 begin uitgaan, nadat albei besef het dat hulle nie net dieselfde humorsin, werksetiek en aspirasies deel nie, maar ook sielsgenote en beste vriende is.

Vir die afgelope jaar of twee het hul onderskeie akademiese en beroepsaspirasies die paartjie tot 'n langafstandverhouding gedwing. Dr. Juba het op Stellenbosch en Oudtshoorn navorsing vir haar PhD gedoen het. Dr. Juba weer het in Joubertina in die Langkloof deeltyds op sy doktorale navorsing gefokus terwyl hy by die nie-winsgewende organisasie Living Lands gewerk het. Dié is betrokke by die bestuur van wateropvangsgebiede.

“Ek't by hom geleer van aanhou, uithou en harde werk," vertel dr. Shange.

“En ek het weer geleer dat sy enigiets sal doen om dinge gedoen te kry, en dit sluit harde werk in," voeg dr. Juba by.

Hulle hoop die toekoms hou saam vir hulle groot dinge in. Omdat hulle die waarde van 'n goeie opvoeding besef, en verskeie mense hulle oor die jare daarin ondersteun het, wil hulle ander jongmense inspireer om ook verder te studeer.

Vir haar PhD in Voedselwetenskap het dr. Shange navorsing gedoen oor of twee patogene wat infeksies in die dermkanaal kan veroorsaak, Campylobacter en Arcobacter, en tot watter mate dit in die volstruisindustrie voorkom.

“Regulasies wat die moontlike kontaminasie van enige vleisprodukte met dié spesies reguleer is nog nie in plek in Suid-Afrika nie, maar my werk behoort as 'n redelike goeie basis te dien indien die regering dalk sulke riglyne wil oorweeg," reken dr. Shange.

Dr. Juba se navorsing het gefokus op die impak van uitheemse indringerplantspesies op riviergebiede, en die voordele wat verkry kan word uit die uitkap en gebruik van plantmateriaal.

Hy het onder meer 'n som gemaak oor die waarde wat daarin lê om produkte met toegevoegde waarde te skep uit afgekapte indringerbome.

“Bioprodukte wat van indringerplante gemaak word, soos biochar en houtstukkies, kan in wisselende mate van sukses deur graan- en canolaboere gebruik word om grondkwaliteit te verbeter," noem hy. ​​