Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inperking ontsluit nuwe geleenthede vir US se ADA
Outeur: Corina Du Toit, SU International
Gepubliseer: 07/12/2020

Die Afrika Doktorale Akademie (ADA) in US Internasionaal se Africa Centre for Scholarship (ACS) bied sedert 2009 'n stel impakryke opleidingsprogramme oor navorsingsontwerp en -metodologie en werksessies oor akademiese gereedheid by sy jaarlikse doktorale somer- en winterskole by die Universiteit Stellenbosch (US) aan. Die ADA het onlangs ook hierdie vlagskipaanbod uitgebrei met korter werksessies wat met die oog op huidige en voornemende doktorale kandidate, doktorale studieleiers en professionele navorsers deur die hele jaar aangebied word.

Voordat die Suid-Afrikaanse inperking afgekondig is, het die ADA in Januarie 2020 'n suksesvolle kontaksomerskool met 21 werksessies en 370 deelnemers aangebied. Die plan was om kort daarna 'n eerste herfsskool aan te bied, maar teen die middel van Maart het die regering die landwye COVID-19-inperking afgekondig. Die ADA-herfsskool is afgestel en alle US-personeel het tuis vir hulle kantore ingerig.

Oor die volgende paar weke is planne vir die res van 2020 aangepas en die moontlikheid ondersoek om die ADA na die kuberruim te verskuif. Dít het sorgvuldige dinkwerk vereis, want enige aanlyn aanbod moes die ADA se reputasie van professionele en impakryke programme gestand doen. Nietemin was afgevaardigdes steeds gretig om toegang tot ons opleidingsgeleenthede te kry, so oorlegpleging met aanbieders en steunpersoneel het in alle erns begin.

Durf die kuberruim aan

Die jaar 2020 was weliswaar 'n jaar van verkenning en snelle groei vir die ADA: Ons eerste ten volle aanlyn winterskool het oor die twee weke van 6 tot 24 Julie gedurende die US-reses plaasgevind. Hoewel dit veel kleiner was as ons gewone doktorale skole, met slegs ses werksessies en 176 afgevaardigdes, het ons dit doelbewus versigtig benader om eers ons voete in die nuwe aanbiedingsmetode te vind. Gelukkig was alle kursusse vol bespreek.

Kandidate wat die ADA-skole bywoon, kom gewoonlik hoofsaaklik uit Suider-Afrika, en sommige van die res van die vasteland. Vir die tradisionele kontaksomerskool in Januarie was die voorste toevoerlande byvoorbeeld Malawi, Zimbabwe en Nigerië. Die bekendstelling van die aanlyn aanbiedingsmetode het dít egter verander: Baie van ons internasionale afgevaardigdes wat vir die aanlyn winterskool ingeskakel het, was van Nigerië, Kenia en Rwanda. Dít was grootliks danksy die beurse wat die ACS aan drie van sy vennote, die Universiteit van Lagos, Strathmore-universiteit en die Universiteit van Rwanda, toegestaan het. Die aanlyn aanbod het ons duidelik 'n wyer gehoor help bereik. Ander afgevaardigdes was van instellings soos Kenyatta-universiteit (Kenia), die Universiteit van Maastricht (Nederland), die Verenigde State Internasionale Universiteit – Afrika (Kenia) en die Universiteit van Namibië, wat 'n ryke vermenging van nasionaliteite en sienings geskep het.

Ná die sukses van die aanlyn winterskool is 'n verdere twee geleenthede in die kuberruim aangebied. 'n Lenteskool met vier werksessies en 96 deelnemers het in die tweede helfte van September plaasgevind. Dít is teen die einde van Oktober gevolg deur 'n praktiese skryfoefenkamp met twee kursusse, waarvoor 20 deelnemers ingeskakel het. Die aanbieders was van die US se Sentrum vir Hoër en Volwasseneonderwys en die Afdeling Navorsingsontwikkeling. 

Lesse geleer

'n Topprioriteit was om klasgroottes en -tye te optimaliseer. Klasse moes klein genoeg wees om net soveel individuele kontaktyd met die dosent as in kontakklasse te bied, hetsy in die vorm van regstreekse sinchrone lesings of vraag-en-antwoordsessies. Boonop is klassessies met eietempostudie en individuele of groepoefeninge aangevul, wat uitputting onder sowel afgevaardigdes as aanbieders voorkom het. In dié verband het een afgevaardigde opgemerk: “Die tydverdeling tussen klassessies, groepsessies en selfstudie was perfek."

Tweedens is alles moontlik gedoen om gesprek en interaksie deur middel van gespreksforums op die onderrigplatform Microsoft Teams aan te moedig. Hoewel 'n mens waarskynlik nooit die interaktiwiteit van gewone ADA-skoolgeleenthede en tee- of etepouses sal kan herskep nie, lyk dit nietemin of afgevaardigdes waarde geput het uit die beskikbare interaksiegeleenthede. Een het opgemerk: “Ek het die interaksie met die programorganiseerders, die aanbieders en my medeafgevaardigdes geniet. Ek kon aanlyn met mense van ander lande gesels, en is vol hoop dat hierdie nuwe bande in die toekoms iets goeds sal oplewer."

Straks die belangrikste les wat geleer is, is die kernrol van 'n ondersteuningspan. Hierdie span het afgevaardigdes flink en doeltreffend met hulle behoeftes en navrae bygestaan. Omdat die organiseerders tegniese probleme te wagte was, was dit noodsaaklik om tegniese bystand gereed te hê. Die ADA-skolekoördineerder, me Amalsha Galhenage, was die kernrolspeler in hierdie interaksies met afgevaardigdes en aanbieders, en het agter die skerms gewerk om tegniese en ander kwessies uit te stryk. ADA-intern me Tayla Minnaar het op haar beurt as 'n tutor en klaskamerfasiliteerder uitgehelp en as 'n noodsaaklike skakel tussen die regstreekse klasse en die ADA-ondersteuningspan opgetree. En hoewel die aanbieders vir hulle kursusinhoud verantwoordelik was, is die ADA-programbestuurder, Corina du Toit, deur twee ervare gemengdeleerkoördineerders (GLK's) bygestaan om die kursusse aanlyn aanmekaar te sit. Die GLK's het ook die kursustutors gedurende die sinchrone klassessies ondersteun. Die waarde van hierdie sterk ondersteuningsnetwerk blyk duidelik uit die volgende terugvoering van 'n afgevaardigde: “Ek verkies kontakleer, maar die aanlyn ADA-winterskool was een werksessie waar ek byna vergeet het dis 'n aanlyn klas. Ek het van die selfstudie gehou; die stemopname wat my daaraan herinner het om alle materiaal voor die kursusaanvangsdatum af te laai was ook goed. Die tutors het my veilig laat voel." 

Uitgebreide samewerking

Die ADA se nuwe vaardighede in die digitale ruimte het ook tot meer samewerking en interaksie met kollegas en entiteite by die US gelei. So byvoorbeeld het die ADA-span die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke gehelp om sy Afrikadatawetenskapakademie se werksessies te bemark en aan te bied. As deel van die groter ACS-span, het ons ook die PeriPeriU-netwerk van die Centre for Collaboration in Africa bygestaan om 'n werksessie vir die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram aan te bied, wat terselfdertyd vermoë by US Internasionaal gebou het.

Boonop het die ADA indirek tot geleenthede vir kollegas in US Internasionaal bygedra, onder meer vir diegene wat van plan was om van hulle eie intervensies aanlyn aan te bied. Personeel het die ADA-kursus “Teaching in the digital world: The use of blended active learning strategies" deur die US se Sentrum vir Leertegnologieë en die Universiteit van Leuven bygewoon, wat hulle 'n diepgaande blik op die aanlyn aanbiedingsmetode gebied het. Me Anisa Khan, bestuurder van Internasionale Vennootskappe en Internasionaliseringsteun, verduidelik: “Die kursus het my behoorlik 'ingedompel' in akademici se ervaring wanneer hulle digitaal moet klas gee. Dit het my ook groter begrip gegee vir die mate van aanpassing en voorafbeplanning wat nodig is om aanlyn leer te ontwerp en kurrikula te vernuwe. Hierdie perspektief is noodsaaklik vir my as 'n internasionaliseringspraktisyn, veral in my werk om die ontwikkeling van samewerkende aanlyn internasionale leer- (“COIL"-)programme te ondersteun. Met die insigte uit die kursus kan ek akademici nou beter ondersteun in ons vroeë pogings om meer COIL-projekte by die US te ontwikkel."

Om met die ADA saam te werk of meer oor sy programme uit te vind, kontak gerus die programbestuurder, Corina du Toit, by corina@sun.ac.za.

Klik hier vir ons huidige somerskoolprogram, en hier vir 'n lys skole wat sedert 2010 aangebied is.

Teken in op die ADA-nuusbrief of besoek ons Facebook- en Twitter-blaaie om met ons in verbinding te bly. 


ad.png 

Die tuiskantore van die ADA se programbestuurder en skolekoördineerder.

winter.pngDie ondersteuningspan van tutors en gemengdeleerkoördineerders, wat 'n onmisbare deel was van die aanlyn winterskool in 2020.