Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
16 voorgraadse studente van die FGGW doen aanbiedings by internasionale konferensie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Sue Segar
Gepubliseer: 19/11/2020

In 'n “eerste" vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het 16 voorgraadse student aanbiedinge gelewer oor hulle navorsingswerk by die Internasionale Konferensie vir Voorgraadse Navorsing (International Conference for Undergraduate Research [ICUR]) wat vanaf 29 tot 30 September plaasgevind het.

Die aanbiedinge het 'n wye verskeidenheid van onderwerpe behels, wat gestrek het van die status en gehalte van pre-hospitaal kliniese bestuur in Afrika suid van die Sahara, tot melanoom-bewustheid onder finale-jaar mediese studente in Suid-Afrika, tot peuselkos wat aangebied word by betaalpunte in winkels in Kaapstad, tot die gebruik van web-gebaseerde programme in die onderrig van anatomie.

Finale-jaar mediese student, Elizabeth Earl, het 'n aanbieding gedoen oor algemene geestesgesondheidsiektes onder ouer mense in 'n aftree-oord in Kaapstad. Hanri Janse van Rensburg en mede-aanbieders van die Afdeling Arbeidsterapie (AT) het oor hulle studie gepraat, wat daarop gemik was om die uitkomste te bepaal van werkplek-gebaseerde AT-rehabilitasie onder mense met werkverwante boonste-ledemaat ongesteldhede. Die studie is deur die studente self gelei en is gedoen op werkers in die klerebedryf. En laastens het Bianca Manley, 'n vyfde-jaar mediese student, 'n aanbieding gedoen wat verband gehou het met die identifisering van faktore wat gepaardgaan met verswakking en mediese bestuur van pasiënte met chroniese jig.

Die Universiteit Stellenbosch (US) is genooi om aan die twee-dag-lange konferensie deel te neem. Die konferensie vind jaarliks plaas, en plaas die kollig op die beste voorgraadse navorsing van dwarsoor die wêreld. Inrigtings van minstens agt ander lande, wat die Verenigde State, Australië, Singapoer, en Europese lande soos Slowenië en die Verenigde Koninkryk insluit, het aan die konferensie deelgeneem, wat georganiseer is deur die Monash-Warwick Alliansie tussen twee top universiteite – Monash Universiteit in Australië en die Universiteit van Warwick in die VK.

Die doel van die konferensie is om “voorgraadse studente aan te moedig om hulle navorsing te betrag vanuit 'n internasionale en interdissiplinêre perspektief.

“Studente ondersoek globale, distriks- en plaaslike tendense in hulle navorsingsvelde, terwyl hulle ook raakpunte tussen die verskillende dissiplines identifiseer. ICUR verskaf voorgraadse studente met 'n unieke geleentheid om aanbiedinge oor hulle navorsing te doen in sessies wat lewendig is en deur middel van videokonneksies plaasvind. Sedert die program in 2013 begin is, het meer as 2000 student van 11 inrigtings aanbiedings by die ICUR gedoen, sonder dat hulle ooit hulle universiteitskampusse hoef te verlaat het," moedig die ICUR-webtuiste aan.

Beide die gehoor en die aanbieders het virtueel by die konferensie aangesluit met behulp van die nuwe ICUR App, wat hulle daartoe in staat gestel het om te kyk, deel te neem, interaksie te hê en om vrae te vra sonder om die huis te verlaat.

Sarah Jane van der Westhuizen, Bestuurder van die Sentrum vir Onderrig en Leer by die US, het gehelp met die bestuur van die konferensie. Sy is bygestaan deur dr Debbie Marais, hoof van Voorgraadse Navorsing in die Afdeling Navorsingsontwikkeling. Van der Westhuizen het gesê dat die konferensie "'n goeie geleentheid was vir die studente om die wonderlike werk wat hulle doen aan ander te wys."

“Debbie en ek het baie vertroue gehad in die hoë akademiese standaard van ons studente se aanbiedinge, maar omdat dit die eerste keer was wat ons dit aanlyn gedoen het, was dit redelik senutergend. Maar gelukkig het alles toe goed afgeloop.

“Ons studente se aanbiedinge het baie goed vergelyk met die aanbiedinge van die verskeie inrigtings. Hulle was so onderhoudend en sulke goeie ambassadeurs vir ons universiteit. 

“'n Hele paar van ons aanbiedinge is in groepe gedoen, wat 'n ander perspektief aan verskeie onderwerpe verleen het. Ek was in die besonder beïndruk dat ons studente hierdie gedoen kon kry gedurende 'n tyd wat hulle besig is met praktiese sessies en rotasies, so ek wil hulle regtig gelukwens."

Van der Westhuizen het gesê dat die konferensie 'n uitstekende geleentheid geskep het vir die studente om kontak te hê met die universiteit se internasionale vennote. “Die inrigtings wat deelgeneem het hieraan word almal hoog geag. Dit het goeie blootstelling vir die studente gegee wat dikwels hulle navorsing doen sonder om te dink aan die globale impak van wat hulle doen. Deur middel van hulle aanbiedings by 'n internasionale konferensie, asook om te sien hoe ander studente aanbiedings lewer oor soortgelyke onderwerpe, het hulle die geleentheid gehad om die moontlike globale impak te sien wat hulle navorsing kan hê.

“Hulle het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt, en ons is trots op hulle."​​