Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hulp vir akademici om afstandsonderrig te oorleef
Outeur: Karin Wolff
Gepubliseer: 18/11/2020

Akademici behoort al die kognitiewe, emosionele en sistemiese ondersteuning te kry wat hulle nodig het ten einde te verseker afstandsonderrig is suksesvol gedurende die pandemie, skryf dr Karin Wolff van die Fakulteit Ingenieurswese in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (17 November 2020).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Karin Wolff*

Opvoeders in hoër onderwys in Suid-Afrika kom voortdurend voor nuwe uitdagings te staan. In 'n poging om werklik ons samelewing te transformeer deur toegang tot tersiêre inrigtings te bewerkstellig en sukses te fasiliteer, kom ons dikwels voor wat na onoorkombare uitdagings lyk, te staan. Toe COVID-19 die wêreld geskud het en daar van opvoeders verwag is om vinnig na Noodafstandsonderrig (ERT) oor te skakel, het baie mense beweer dat die pandemie 'n rewolusie in die onderwys aan die gang gesit het wat lankal reeds moes plaasgevind het en dat opvoeders ten einde laas in die 21ste eeu ingedwing is.

Ons Suid-Afrikaanse navorsing volg egter nie die “tegnologie-as-redder"-strooom nie. 'n Groot samewerkende multi-institusionele studie oor die vinnige verskuif na aanlyn onderrig sien die aanname van digitale vlotheid vir beide studente en personeel as die grootste bedreiging vir 'n sosiaal-geregverdigde onderwysstelsel. Terwyl die meeste beskikbare studies, soos die studie deur die Universiteit van Kaapstad, op studente se behoeftes en ondervindings met ERT gefokus het, was daar min formele fokus op die uitwerking van ERT op akademici, veral in studierigtings soos ingenieurswese wat praktiese tegnologieë vir leer en navorsing benodig.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Ingenieursonderrig 'n nasionale opname​ oor die uitwerking van ERT op akademici en nagraadse studente in die ingenieurswese onderneem. Die opname het 'n holistiese benadering gevolg en het die onweerlegbare verhouding tussen drie sleutelfasette van die opvoeder se mandaat oorweeg: om die ontwikkeling van kennis, burgerskap en vaardighede te fasiliteer, deur kognitiewe, emosionele en sistemiese ondersteuning in ooreenstemming met die epistemologiese, ontologiese en praktiese dimensies van die kurrikulum te verskaf. Eenvoudig gestel beteken dit dat indien onderrig die holistiese bepaling van die eeue-oue “kop-hart-hand"-filosofie is, het die opname probeer om vas te stel hoe ERT akademici en nagraadse studente (in baie gevalle is hulle een en dieselfde) professioneel, persoonlik en prakties beïnvloed het. Dit het vier sleutelvrae oor die uitwerking van ERT op die werksomgewing, die inwerkingstelling van kommunikasiemaatreëls en opmerkings oor uitdagings en suksesse gevra. Hierdie antwoorde is ontleed deur die breë kategorieë van kognitiewe, emosionele en sistemiese dimensies van akademiese werk te gebruik.

Om met die sistemiese af te skop: Daar is gemene verwysings gevind, ongeag die institusionele tipe ten opsigte van kwessies oor die verandering in die werksomgewing. Die sleutelkwessies (soos verwag is) het rondom die praktiese toegang tot toestelle, data, toerusting en gepaste werkruimtes gewentel. Respondente het byvoorbeeld datatoelaes en skootrekenaars waardeer, maar was veral besorg oor “toegang tot digitale hulpmiddels en die vaardighede om dit te gebruik". In die meeste gevalle is daar van personeel verwag om “projekte te herfokus" indien hulle eksperimentele datagenerering of fisieke toegang tot laboratoriums en werkswinkels benodig het.

Die verskuiwing na “virtuele" of “gesimuleerde" praktiese werk was nie sonder uitdagings nie, aangesien hierdie onderrigmetode aansienlike rekenaarkrag of toegang tot sagteware vereis wat nie noodwendig weg van die kampus af beskikbaar is nie. Hier sien ons die onvermydelik uitwerking van die kognitiewe dimensie: Sonder die fisieke en/of aanlyn hulpmiddels om toegepaste leer aan die gang te sit, is die vraag hoe doeltreffend meer teoretiese projekte werklik in 'n professionele onderrigkonteks kan wees? Wat dit nog meer ingewikkeld maak is die assesseringslas vir akademici in die geval van geïndividualiseerde projekte wat aaneenlopende assessering in groot klasse vereis. 

Die sistemiese kenmerke van die kommunikasiemaatreëls wat deur akademici en hul instellings ingestel is, toon ʼn groot mate van innovasie asook 'n skerp digitale skeiding. Terwyl die opname elke moontlike sinchroniese en asinchroniese benadering asook 'n indrukwekkende reeks kommunikasietegnologieë aandui, is dit duidelik dat 'n aansienlike aantal akademici die eenvoudigste moontlike vorm van dataligte kommunikasie moes aanwend – nie net as gevolg van studentetoegang nie, maar ook weens beperkinge op hul eie internettoegang. Beide personeel en studente het gesê hulle was “oorweldig" deur die blote hoeveelheid inligting wat versprei is. Een opmerking beskryf hierdie gevoel baie goed: “dit was soos om van 'n brandslang te drink!" 'n Tweede sistemiese kommunikasiekwessie is die gebruik van forums, met baie akademici wat oor studente se gebrek aan deelname op forums gekla het. Indien forums bedoel is om 'n ruimte vir eweknieleer te verskaf en 'n manier vir akademici is om algemene kwessies aan te spreek, is die ondoeltreffendheid daarvan – veral in groot klasse – 'n ernstige probleem.

Die opnamereaksies op die vrae oor uitdagings en suksesse was waarskynlik die insiggewendste. Dit is waar die emosionele faset van die opvoeder se rol die duidelikste was. Akademici het deur die bank aangedui dat hulle “emosioneel uitgeput", “uitgebrand", “oorweldig" en “voortdurend moeg" is en “sukkel om die balans tussen werk en ouerskap te handhaaf". Hoewel baie aan die positiewe kant ook noem dat hulle gehaltetyd saam met hul gesinne kon deurbring, het 'n aansienlike aantal akademici (en veral nagraadse studente) ERT as geïsoleerd ervaar.

Die innige stories van hierdie respondente bring ongelykhede in ons samelewing skerp na vore, maar hulle getuig ook van mense se onbedwingbare gees wat voortgedryf word deur die essensie van Ubuntu. Wat baie duidelik na vore gekom het toe hierdie navorsing by die onlangse Sentrale Universiteit van Tegnologie se Vakkundigheid van Onderrig en Leer-konferensie gedeel is, is dat “ons saam hierin is". Konferensiegangers het hul ervarings gedeel wat soortgelyk aan dié van die data was. Die boodskap is duidelik: Vir onderrig om suksesvolg te wees, moet daar erkenning gegee word aan die sinergistiese en interafhanklike verhouding tussen die kognitiewe, emosionele en sistemiese dimensies van leer. Net so moet daar egter kognitiewe, emosionele en sistemiese ondersteuning wees vir die akademici van wie die hoëronderwyssektor afhanklik is.

*Dr Karin Wolff is 'n Onderrig- & Leeradviseur by die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is gegrond op haar aanbieding by die onlangse Sentrale Universiteit van Tegnologie se Vakkundigheid van Onderrig en Leer-konferensie.