Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW loods moderne multimedia-ateljee
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Birgit Ottermann
Gepubliseer: 17/11/2020

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het 'n multimedia-ateljee geloods om doeltreffende leerervarings vir die student van die 21ste eeu te skep en die verskillende programvernuwingsprosesse wat tans by die fakulteit onderweg is te ondersteun.

Die FGGW se multimedia-ateljee word gehuisves op die K-vloer van die Kliniese Gebou op die Tygerberg-kampus en word bestuur deur die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO). Die fasiliteit beskik oor 'n verskeidenheid tegnologieë vir verskillende onderwysbehoeftes, en leertegnologie-adviseurs is beskikbaar om personeel by te staan terwyl hulle vertroud raak met die nuwe toerusting.

"Ons is baie trots om die splinternuwe, moderne multimedia-ateljee bekend te stel. Die ateljee is amptelik geopen in Oktober," sê prof Susan van Schalkwyk, direkteur van die SGBO.

"Die doel van hierdie innovasie is om inhoud van hoë gehalte te skep wat die leerervaring van studente by die FGGW sal verbeter. Die ontwikkeling van die ateljee is gelei deur die leertegnologie-span by die SGBO, met me Mariëtte Volschenk aan die hoof, en strook met die visie van ons Vise-Dekaan vir Leer en Onderrig, prof Julia Blitz."

Volgens Volschenk is die ateljee ontwerp as 'n veeldoelige fasiliteit wat personeel in staat stel om inhoudaanbiedings, agtergrondstem-inhoud en deskundige paneelbesprekings op te neem.

"Die FGGW se multimedia-ateljee bestaan uit 'n akoesties-behandelde produksiekamer waarin inhoud aangebied kan word en onderrig-oomblikke in hoë gehalte opgeneem kan word. 'n Wye verskeidenheid tegnologieë is beskikbaar om aan personeel se onderrigbehoeftes te voldoen," sê sy.

Dit sluit in mikrofone vir alle soorte klank- en video-opnames, 'n 65-duim plasmaskerm, 'n Wacom-tekentablet, mikrofone vir videokonferensies, GoPro's, 'n opvoedkundige ligbord, en 'n RODECaster Pro-potgooistelsel met ʼn klankbord en mikrofone vir die opneem van hoë gehalte potgooie. Daar is ook 'n reeks sagteware vir redigering en inhoudontwikkeling beskikbaar.

Indien personeel nie die ateljee kan besoek nie, is 'n Padcaster mobiele opname-eenheid beskikbaar wat bespreek kan word vir gebruik in hul onderskeie kantore of onderrigomgewings. Dit sluit 'n groen skerm, iPad, kameralense, mikrofone, ʼn monitorkopstuk, teleprompter, beligtingstel en driepoot in.

"As dit als ʼn bietjie intimiderend klink, moenie bekommerd wees nie – dis regtig nie nodig nie," voeg Volschenk by. "Die ateljee het ʼn ervare leertegnologiespan wat bystaan om personeel te help met al die nuwe tegnologieë asook die strukturering en redigering van hul inhoud."

Die FGGW kon die ateljee ontwikkel en die toerusting aankoop danksy twee toekennings wat hulle onderskeidelik van die Fonds vir Innovasie en Navorsing in Leer en Onderrig (FINLO) en die Integrasie van Tegnologie in die Kurrikulum van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Leertegnologieë ontvang het.

"Die SGBO Leertegnologiespan bedank ook graag mnr Stefan Engelbrecht en mnr Eben Mouton van die FGGW-ondernemingsbestuur vir hul ondersteuning, asook drs JP Bosman en Sonja Strydom van die Sentrum vir Leertegnologieë vir hul leiding tydens die opstel van die ateljee. Laastens wil ons ons waardering aan prof Julia Blitz oordra vir haar visie wat dit als moontlik gemaak het," sluit Van Schalkwyk af.

 

Bespreek die ateljee: Om te verseker dat die multimedia-ateljee en toerusting beskikbaar is, bespreek asseblief 48 uur voor die datum deur op die volgende skakel te kliek: https://stellenbosch.sharepoint.com/sites/CHPE/StudioBooking  

 

Foto-onderskrif: Prof Jonathan Carr, hoof van die Afdeling Neurologie by FGGW, is hier te sien as een van die eerste gebruikers van die ateljee. (Foto verskaf deur SGBO)