Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sluit aan by prof Thuli Madonsela om studente in finansiële nood te help
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 11/11/2020

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regsfakulteittrust se navorsingsleerstoel in maatskaplike geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), neem aksie om geld in te samel vir studente uit werkersklas en middelklas huishoudings wie se hoër onderwys drome in gedrang is weens 'n tekort aan fondse.

Op Sondag 22 November 2020 lei prof Madonsela en die Studenteraad-voorsitter, Xola Njengele, 'n klim op Tafelberg en op Saterdag 28 November lei hulle 'n walkathon in Pniel, net buite Stellenbosch.

Hierdie geleenthede maak deel uit van die #Action4Inclusion-veldtog, 'n inisiatief vir studentebefondsing wat vroeër vanjaar deur die Studenteraad en prof Madonsela van stapel gestuur is met die doel om te verseker dat geen student weens hul finansiële omstandighede agtergelaat word nie.

"Studenteskuld is wêreldwyd 'n hindernis vir toegang tot hoër onderwys. Sommige studente moet noodgedwonge hul studies laat vaar wanneer hulle op die punt staan om te gradueer. Die probleem raak veral studente van die verlore middelgroep en studente vanuit arm werkersklas-agtergronde wat nie meer vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie, dikwels om redes buite hul beheer," verduidelik Madonsela.

"Die COVID-19-pandemie het ons planne vanjaar kom omverwerp, maar met ontspanne beperkings tans in plek, is ons nou gereed om ons beplande aktiwiteite aan te pak — natuurlik met die nodige veiligheidsmaatreëls," voeg sy by.

Volgens Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, sal hierdie inisiatief inderdaad 'n aanvulling wees tot die bestaande inisiatiewe om fondse vir Matie-studente in te samel. "Dit is aangenaam om te sien hoe ons studente en personeel bymekaar kom om mekaar te ondersteun terwyl ons daaraan werk om gelyke geleenthede vir almal te verseker."

Kaartjies kos R54 per persoon vir die Tafelberg-geleentheid en R150 per persoon vir die walkathon en kan op die dag gekoop of in die volgende #ActionforInclusion-rekening betaal word:

Bank: Standard Bank

Tak: Stellenbosch

Takkode: 05 06 10

Rekeningnaam: Universiteit van Stellenbosch

Rekeningnommer: 073006955

Verwysing: R9861

Stuur asb 'n e-pos met bewys van betaling na socialjustice@sun.ac.za en sluit asb u kontakbesonderhede in. Ons sal dan u kaartjie aanstuur via e-pos vir u om saam te bring op die dag.

Diegene wat nie aan die beplande aktiwiteite kan deelneem nie, kan 'n donasie maak op die aanlyn skenkingsplatform GivenGain. Alle skenkings, maak nie saak of dit groot of klein is nie, is beslis welkom en word werklik waardeer.

 

Program van aktiwiteite:

Tafelberg

Datum: Sondag 22 November 2020

Begin: 06:30

End: 10:00

Plek: Tafelberg (Hoofhek)

 

Walkathon

Datum: Saterdag 28 November 2020

Begin: 06:30

End: 10:00

Plek: Pniel Museum


​Op die web: